Woorde roep maar dade trek

http://kerkbode.christians.co.za/2018/10/02/woorde-roep-maar-dade-trek/

1968 sal in die geskiedenis van die NG Kerk ’n rooiletterjaar wees. Tydens die Algemene Sinode in Kaapstad is besluit om af te draai van die apartheidspad af.

Ja vir oop deure en oop lidmaatskap, ’n hernude fokus op die eenheid van die kerk en ’n nee vir apartheid het die kerk op ’n nuwe pad geplaas. Tydens die Algemene Sinode van 1990 is dit duideliker gesê en tydens die Rustenburg-kerkeberaad in November 1990 het prof Willie Jonker dit onomwonde gestel: “Ek bely voor u en voor God nie net my eie sonde en skuld nie, en my persoonlike verantwoordelikheid vir die politieke, sosiale, ekonomiese en strukturele onregte waaronder u en ons hele land nog ly nie, maar plaasvervangend waag ek om dit ook namens die NG Kerk te doen, waarvan ek ’n lidmaat is en vir die Afrikaners. Ek het die vryheid om dit te doen, want die NG Kerk het apartheid op sy afgelope Algemene Sinode tot sonde verklaar en sy eie skuld van nalatigheid erken dat hy nie lank gelede daarteen gewaarsku en homself daarvan gedistansieer het nie.”

Die Kerkbode van 16 November 1990 het só berig: “Vir die NGK is die belydenis oor apartheid ’n oom­blik van bevryding.” Dat hierdie bevryding eg was, word bevestig deur die toespraak van mnr Nelson Mandela tydens die Algemene Sinode van 1994 en die voorlegging deur ds Freek Swanepoel aan die Waarheid-en-Versoeningskommissie in Oos-Londen op ­19 November 1997.

As daar dan in 2018, 28 jaar later, steeds ’n beroep op die NG Kerk gedoen word om hom te bekeer, is die vraag: “Wat het fout gegaan?” Miskien is daar nie duidelik genoeg gesê wat gebeur het nie. Moet dit dan weer en weer herhaal word?

Miskien is daar ’n beter uitweg. Miskien moet dit wat in NG gemeentes gelééf word harder en duideliker vertel word: Verhale soos dié van veeartse wat saam met die NG Kerk in Steynsrus omsien na die gemeenskap se donkies, muile en perde, dié van groentetonnels by ’n NG kerk op Lydenburg, die van versoening onder leiding van ’n NG predikant in Coligny in Noordwes en van eenheid en samewerking tussen gemeentes van die NG Kerk en die VGK in Lynnwoodrif en Nellmapius in Pretoria – om maar enkeles te noem.

Dalk sal hierdie verhale oor die doen en late van lidmate in gemeentes van die NG Kerk die oproep om belydenis vir eens en vir altyd stilmaak – want woorde wek maar dade trek.

▶ Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.