Weltevreden wou gee, toe kry hulle meer

http://kerkbode.christians.co.za/2018/05/14/weltevreden-wou-gee-toe-kry-hulle-meer/

Vir die eerste keer in hulle lewe ry die kinders van Mawayela op ’n wipplank. Dié nuwigheid was ’n groot treffer. Foto’s verskaf

Ons het gedink ons gaan ander mense seën met ons gawes, toe kom ons baie meer geseënd terug as hulle!”

Só gesels Saret Britz, gemeentebestuurder van die NG gemeente Weltevreden in die Hoëveldsinode, oor hulle gemeente se onlangse besoek aan Mawayela. Dit is ’n klein gemeenskappie 60 km noord van Manjacaze in Mosambiek.

Dit is nou al jare dat daar jaarliks mense van Weltevreden daarheen gaan. Dit vorm deel van die werk van die Mozaic Upliftment Network, ’n interdenominasionele netwerk van gemeentes in Suid-Afrika en Mosambiek wat saamwerk om die lewenskwaliteit van mense in Mosambiek te verbeter.

Saret vertel ’n groep van 34 mense uit Weltevreden (van 9 tot 78 jaar oud) het ’n besoek van 10 dae aan Mawayela gebring. Daar is ’n paar gemeentetjies, klein soos huiskerke, in die gemeenskap.

’n Sikloon het vroeër baie strukturele skade in die omgewing aangerig, en daarom was een van die groot take vir die week om ’n nuwe kerkie daar te gaan bou.

Langs die kerkie het hulle ook ’n groot klimraam vir die kinders opgerig. Die ervaring is dat so iets die kinders lok, en later kom die ouers dan ook kerk toe.

Hulle het ook ’n ou geboutjie opgeknap en ingerig as ’n stoor vir kasjoeneute. Daar het hulle rakke ingesit, diefwering en traliehekke aangebring en vir beligting in die stoor gesorg. Dit is alles deel van ’n po-ging om die bestaansboerdery ’n bietjie uit te bou en die neute na buite te bemark sodat daar geld van buite in die gemeenskap kan invloei.

Terwyl daar met die gemeenskap saamgewerk is met dié soort bouwerk, was daar ook heelwat ander interaksie met die mense van Mawayela. Daar is saamgewerk om ’n boorgat te sink en ’n kasjoeneut­kwekery te vestig. Daar was aktiwiteite van die vroue- en kinderbediening.

Lidmate van Weltevreden en inwoners van Mawayela in Mosambiek werk saam om vir hulle ’n nuwe kerkie op te rig.

Een dag was gemeenskapsdag. Toe het hulle almal die oggend saam met ’n plaaslike gesin deurgebring en tipiese dagtake saam met hulle verrig. Hulle het die lande geskoffel, water aangedra, help kos maak.

Dit was ’n kruiskulturele ervaring maar ook een waar daar vriendskapsbande gebou is deur diensle­wering.

Saret vertel dat sy by een vrou in haar huis gekom het, toe staan daar net ’n bed. Sy vra toe vir die vrou wat sy nodig het. Wat kan hulle vir haar saambring as hulle weer kom? Maar die vrou sê hulle hoef vir haar niks saam te bring nie. Sy het alles wat sy wil hê.

“Dit laat ’n mens nederig voel,” sê Saret.

Hulle het in die oë gekyk van mense wat ’n ander taal praat wat hulle nie verstaan nie. Maar daar het hulle die liefde vir mekaar gesien, begrip vir mekaar as mense.

Die mense van Weltevreden het ’n hele paar keer onder mekaar gepraat oor wat so ’n besoek aan hulle doen. Dis moeilik om dit in woorde uit te druk, sê Saret, maar jy kom nie dieselfde mens terug as wat jy gegaan het nie.

The post Weltevreden wou gee, toe kry hulle meer appeared first on e•Kerkbode.