Waarom verskil Bybel­vertalings van mekaar?

Ds Herman Grobler verduidelik waarom ’n teks in een Bybelvertaling soms heel anders lyk as diesefde teks in ’n volgende vertaling. Foto’s: Neels Jackson

Waarom verskil Bybelvertalings van mekaar? Ds Herman Grobler het ’n boek die lig laat sien waarin hy 150 sulke verskille nagaan en die redes daarvoor verduidelik. Neels Jackson het met hom gesels.


Dit het al in sy studentejare begin, sê ds Herman Grobler – dié be­langstelling in Bybelvertalings en waarom vertalings van mekaar verskil.

Hy het sy teologiestudie in 1982 by Tukkies voltooi. Dit was die jaar voordat die Nuwe Afrikaanse Vertaling van die Bybel verskyn het. Terwyl hy nog op universiteit was, het daar al proefverta­lings verskyn, en die teologiedosente het met hulle gepraat oor die hoe en die waarom van Bybelvertalings.

Hy was later predikant in Middelburg (in die destydse Transvaal) en in Capital Park in Pretoria. Deurentyd het die belangstelling in die vertalings en die verskille tussen die vertalings lewendig gebly, en het hy die redes vir die verskille vir homself nagegaan.

Toe kry hy te doen met ’n man wat vrae het oor Christus se verwysing na “gebed en vas” in Markus 9:29. Vir dié man was dit ’n probleem, want hy was ’n diabeet en hy moes gereeld eet. Sy gesondheid het nie toegelaat dat hy vas nie.

Grobler het vir hom gesê sy Bybel (’n 1983-vertaling) verwys net na gebed, nie na vas ook nie. Hy het egter onder­neem om te gaan kyk waarom dit verskil van die 1953-vertaling wat die man gebruik het.

Hy kom toe agter dat die woorde “en vas” in geen manuskrip voor die jaar 600 voorkom nie. ’n Mens kan maar net bespiegel oor waarom die verwysing na die vas bygevoeg is, maar dit moes gebeur het terwyl ’n monnik ’n manuskrip met die hand oorgeskryf het.

Hy kon egter die man gaan gerus stel dat die verwysing na die vas nie in die oorspronklike teks voorkom nie. Dié episode het hom wel laat besef dat dit belangrik is om mense te help om te verstaan waarom vertalings van mekaar verskil.

Eers het hy sy bevindinge net op individuele vlak met mense gedeel. In 2012 het hy dit begin opteken in ’n blog (www.bybelverskille.wordpress.com of in Engels by www.bibledifferences.net). Verlede jaar het hy dit op Facebook begin deel en nou het hy sy kritiese ondersoek na 150 sulke verskille saamgevat in die boek Bybelvertalings wat hy self uitgegee het.

En hy kom vorendag met verduidelikings wat mense se verstaanbare ont­stel­tenis oor nuwe vertalings kan kalmeer.

Een voorbeeld is dat Handelinge 8:37 in baie nuwer vertalings ontbreek. In dié gedeelte vra die ontmande Etiopiër in vers 36 vir Filippus: “Wat verhinder dat ek gedoop word?”

Só lyk die voorblad van ds Herman Grobler se boek.

Volgens die 1953-vertaling antwoord Filippus in vers 37: “As u glo met u hele hart, is dit geoorloof” – waarop die Etio­piër antwoord: “Ek glo dat Jesus Christus die seun van God is.”

Die hele vers ontbreek egter in die 1983-vertaling – en daar is mense wat hoogs ontsteld is daaroor.

Grobler verduidelik dat as ’n mens die manuskripte nagaan, dan is daar aanduidings dat dit later ingevoeg is. Wat waarskynlik gebeur het, is dat iemand in die kantlyn van ’n manuskrip ’n aantekening gemaak het oor die rol van geloof na aanleiding van Handelinge 16:31. Later het iemand wat die manuskrip met die hand oorgeskryf het, hierdie kantlynaantekening in die teks ingevoeg.

Maar daar is nog ’n goeie rede waarom dié teks weggelaat moet word. Grobler wys daarop die Etiopiër se vraag gaan oor wat hom kan “verhinder” om gedoop te word. En daar was verskeie moontlikhede: Hy was ’n ontmande, hy was nie ’n Jood nie, en nog meer.

Die oorspronklike teks sonder vers 37 wil dit duidelik maak dat daar geen hindernis is nie. God se genade is vir almal, ook vir die Etiopiër. Met die invoeging van vers 37 word die aandag egter verskuif van hindernisse na voorwaardes vir die doop, en daarmee gaan die boodskap van God se genade vir almal verlore. Deur vers 37 weg te laat, kom dié boodskap weer na vore.

’n Ander interessante verskil tussen vertalings kom voor in Johannes 8:28. Party vertalings verwys daarna dat Jesus “verhoog” is en ander dat Hy gekruisig is. Dít sê Grobler, gebeur omdat die Griekse woord wat Johannes gebruik ’n dubbele betekenis het. Dit kan of positief “verhoog” wees wat verwys na Jesus se opstanding, hemelvaart en sit aan die regterhand van God, of dit kan negatief dui op die vernedering van die kruisi­ging.

Afrikaans het egter nie ’n woord wat albei betekenisse dra nie, daarom moet die vertalers kies watter een hulle gebruik.

In die 1953-vertaling lyk dit of 1 Johannes 5:7-8 ’n verwysing na die Drie-eenheid bevat. Daar is mense wat sien dat dit nie in die 1983-vertaling voor­kom nie, en die vertalers dan be­skuldig dat hulle die Drie-eenheid ontken.

Maar Grobler sê hy het van die vertalers geken. Hulle was verantwoordelike mense.

Hy verduidelik dat die verwysing na die Drie-eenheid nie in ou Griekse ma­nu­skripte voorkom nie, net in latere Latynse manuskripte. Dit is dus later ingevoeg.

Toe Desiderius Erasmus in 1516 die eerste gedrukte Griekse teks uitgegee het, het dié verwysing na die Drie-eenheid derhalwe ontbreek – waaroor die kerkmense van destyds baie ontsteld was. Erasmus se verweer was dat as hulle vir hom ’n Griekse manuskrip met die verwysing kan bring, sal hy dit invoeg. Toe die kerkleiers later met so ’n manuskrip na hom toe kom, was hy skepties oor die egtheid daarvan, maar hy het dit toe in later drukke ingevoeg. Dit was op hierdie teks dat die 1933/53-vertaling gebaseer is.

Grobler sê Erasmus was reg. Die Griekse teks wat die kerkleiers vir hom gebring het, was een wat vir dié doel geskep is. Nuwer vertalings wat met beter grondtekste werk, laat die teks daarom weg.

En dit maak geen verskil aan die geloof in die Drie-eenheid nie, want dié oortuiging is nie op daardie enkele teks gebaseer nie. Dit kom uit die hele Bybel.

In elk geval pas die verwysing na die Drie-eenheid nie regtig in die teks nie. Daar val die klem op Christus en die invoeging trek eintlik die aandag daarvan af.

Nog ’n interessante geval is Openbaring 22:14, waar die 1953-vertaling lui: “Salig is die een wat sy gebooie doen” terwyl die 1983-vertaling lui: “Ge­seënd is dié wat hulle klere was”.

Grobler verduidelik dat daar taamlike ooreenkomste is tussen die Griekse letters wat “gebooie doen” en “klere was” spel. As iemand wat ’n manuskrip met die hand oorgeskryf het dalk moeg was, en boonop gewerk het uit ’n ma­nuskrip wat nie meer baie duidelik was nie, kon so ’n oorskryffout maklik insluip.

In dié geval bring dit egter ’n belang­rike betekenis- en leerverskil mee. Die woorde “gebooie doen” laat dit lyk of ’n mens jou saligheid moet verdien, terwyl “klere was” (met die bedoeling dat dit in die bloed van die Lam gewas word) dui op redding deur God se genade.

Grobler sê hy wil gewone Bybellesers help om te verstaan waarom daar sulke verskille is, sodat hulle vertroue in hulle Bybelvertalings kan hê.

Self het hy geweldige geestelike groei beleef deur die studie oor die verskille. En op 70 is hy van plan om daarmee voort te gaan en sy bevindinge op sy blog en op Facebook te deel.

  • Die boek is net by Grobler self be­skik­baar. Mense wat daarin belang stel, kan hom kontak by 072 567 0559 of per e-pos by bibledifferences@gmail.com