Vure brand van vroegdag om dominees te voed

https://kerkbode.christians.co.za/2019/05/16/vure-brand-van-vroegdag-om-dominees-te-voed/

’n Afgevaardigde het gisteraand moue opgetrek en gehelp was aan die skottelgoed wat na elke maaltyd sowat 2 en ’n half ure duur. Foto: Nadida Beyers

Hulle is meestal besig met kerksake op ’n agenda so dik soos ’n geelbladsye, maar wanneer die meer as 600 afgevaardigdes die slag opstaan vir “noenbyt” of aandete, moet die kosspan by die Wes-Kaapse Sinode behoorlik bontstaan in die markiestent-eetsaal.

Roelien Erasmus, Goudini se gasvrou wat nou ook help as toesighouer by die eettent, sê die hoogtepunt is die stormloop dominees se grappies om die slaaitafels. En die gewildste gereg? Skaapkerrie!

“Ek lag my klaar vir die dominees,” vertel die 42-jarige Roelien.

Die eiers vir noenbyt word dig toegemaak in die restaurantkombuis voordat dit na die kostent vervoer word. Foto: Jacobie M Helena

Roelien vorm deel van spanne wat in twee groot “masjienkamers” werk. Al die kos word gaargemaak in Koswerf, Goudini se restaurant, en die wit eettent, waar die diens aan sinodegangers gelewer word, sê Allouise von Mollendorf, assistentbestuurder van die restaurant en toesighouersjef. Net duskant die eettent is ook die “kombuistent”, waar slaaie voorberei word, en die “skottelgoedwastent”, waar 850 stukke eetgereedskap na elke maaltyd gewas word. Dié diensspan bestaan uit omtrent 35 mense, sê Marilyn Matthys, wat ook hier toesighou.

Roelien, wat vanjaar by haar derde Wes-Kaapse Sinode betrokke is, sê: “Sinodes is vir ons ’n hoogtepunt. Ek sien altyd uit daarna en is spyt ons moet vier jaar wag vir die volgende een.”

Marilyn het groot waardering vir sinodegangers van die NG Kerk. “Hulle is baie maklik en vriendelik. Een van die dominees het glad gisteraand kom help skottelgoed was!”

Nou gaan die Wes-Kaapse Sinode braai! Filemon van Wiling en Chris Gouws is besig met die braai van die hoenderdye vir vanaand. Foto: Jacobie M Helena

By Koswerf, reg langs die putt-putt-baan en ’n klipgooi van die supertube, word daar reeds vanoggend vanaf 6:00 gewerskaf. Al die kos word van daar af met drie voertuie na die eettent aangery.

“Die vure is vanoggend 06:00 aangesteek sodat ons kan begin braai aan die 850 tjops, wors en hoenderdye vir vanaand se braai,” sê Kit Oosthuizen, wat aan die stuur van die restaurant staan.

Allouise, wat ’n span van sowat agt mense het wat in die restaurantkombuis help, sê “beplanning, beplanning en kontrole” sorg vir sukses. “Ons probeer alles hier onder regkry sodat die span by die eettent nie hoef te sukkel nie. En Miriam (Jotela) is my regterhand. Dit was haar skaapkerrie en bobotie vroeër die week. In al die jare het haar resepte nog nooit geflop nie. As sy die dag gaan, gaan ek saam,” het Allouise laggend gesê.

Allouise wys na die spyskaarte teen die kombuismuur. Rooi kokistrepe deur elke spyskaart wat vanaf Maandag tot nou afgehandel is. “Dis soos Nuwejaar. Hier word elke spyskaart afgetel en doodgetrek. Ons werk is nou op die afdraandpad,” sê Allouise.