Tegelyk gestuur én beskut

https://kerkbode.christians.co.za/2019/05/16/tegelyk-gestuur-en-beskut/

Mense dink baie keer aan kerkgeboue as niks meer as funksionele strukture nie: mure en ’n dak as beskutting teen die elemente; deure om toegang te verleen; vensters om lig in te laat; liturgiese ameublement in ooreenstemming met bepaalde teologiese tradisies. Dis bloot bakstene en beton, word meermale gesê.

Kyk ’n mens egter na die geskiedenis van kerklike argitektuur, besef jy onmiddellik dat daar deurlopend ook aandag gegee word aan estetiese aspekte, soveel so dat kerkgeboue as ’n eie kunsvorm beskryf sou kon word. Dink maar net aan ikoniese strukture soos die Notre Dame-katedraal in Parys en die Sint Pietersbasilika in Rome.

Argitekte van sulke geboue doen nie net besondere moeite om uitdrukking te gee aan die skoonheid wat met God en die aanbidding van God geasso­sieer word nie, maar maak ook gebruik van verskeie simboliese motiewe wat verband hou met hoe daar oor geloof en die kerk gedink word.

’n Resente voorbeeld van ’n kerkgebou wat op uiters treffende wyse nie net funksioneel is nie, maar ook esteties bevredigend en simbolies betekenisvol, is die sogenaamde Jubileum-kerk in die suidoostelike voorstede van Rome.

Die kerkgebou, waarvan die volle naam die “Kerk van God, die Barmhartige Vader” is, vorm deel van ’n omvattende kerkbouprogram in die Jubeljaar 2000 wat daarop gemik was om die lewe van gemeentes in Italië te vernuwe.

Die mees opvallende aspek van dié gebou, ontwerp deur die Joods-Amerikaanse argitek Richard Meier, is die drie bolvormige strukture aan die suidekant van die kerkkompleks. Volgens die argitek self gee dit enersyds uitdrukking aan die drie-enige God wat die kerk teen wisselende omstandig­hede in sy beskutting hou, maar andersyds ook aan die tradisionele beeld van die kerk as skip wat met sy gebolde seile die stormseë van die wêreld trotseer. Tegelyk dus ’n kerk wat in die storms van sy tyd ingestuur word én deur God (die Barmhartige Vader) beskerm en bewaar word.

Die lig wat die binneruim van die gebou vul kom deur groot glasvensters aan die ooste- en westekant en deur groot skuins­geplaaste dakvensters waar­deur indirekte sonlig die ruimte belig en sorg vir ’n wisselende patroon van lig en skaduwee: lig van bo/Bo, maar ook lig vanuit die omgewing/konteks. Die onmiddelike indruk is dié van helder lig wat egter versag word, onder andere omdat dit op subtiele wyse “gefiltreer” word deur die aandagswand aan die westekant van die liturgiese ruim­te en die orrelgalery aan die oostekant.

In die woorde van die argitek: “The three concrete shells define an enveloping atmosphere in which the light from the skylights above creates a luminous spatial experience, and the rays of sunlight serve as a mystic metaphor of the presence of God.”

Die liturgiese ruimte self getuig van gestroopte eenvoud met ’n kruis teen die aandagswand en ’n kateder, ’n doop­vont en ’n nagmaaltafel (weer in die vorm van ’n skip) voor in die aanbiddingsruimte. Redelik kontroversieel vir meer tradisioneelgesinde Katolieke is die feit dat die nagmaaltafel meer van ’n tafel is en minder van ’n altaar met sy tradi­sionele plasing as sentrale fokus teen die aandagswand. Met verloop van tyd is daar ook ’n reliëf-kunswerk van God wat as barm­hartige Vader op sy men­se neerkyk, bokant die nag­maaltafel teen die aandags­wand aangebring.

Van besondere betekenis is die pla­sing van die gebou in verhouding tot die omliggende omgewing: die hoofingang (en ’n ander ingang) is direk op die middelklasbehuisingsprojek aan die oos­tekant van die gebou gerig, met ’n groot oop ruimte tussen die kerk en die omliggende geboue wat gebruik word vir openbare byeenkomste. Ook die beton en glas wat in die bou van die kerk gebruik is, sluit aan by die boumateriaal van die residensiële geboue in die om­gewing.

In lyn met die ekologiese denke van ons tyd is die betonmengsel wat gebruik is, van so ’n aard dat dit die skadelike chemikalieë waarmee die stadslug besoedel word, absorbeer en dus ’n suiwe­rende uitwerking op die omgewing het. Ook die manier waarop die “betonseile” aan die suidekant geplaas is, is omge­wings­vrien­delik in die sin dat dit die tempe­ratuur in die kerkgebou reguleer en dus bydra tot effektiewe energiegebruik.

Die funksionele aard van die gebou word versterk deur die feit dat die noor­dekant van die kerkkompleks ingerig is as kantore, vergaderruimtes en ’n reeks binnehowe wat nie net deur die plaaslike gemeente benut word nie, maar ook tot beskikking van die groter gemeenskap gestel word.

Die beste wyse om die impak van die gebou te beskryf is vir my die woorde van Meier waarin hy van “sacred space” praat as “inviting a search for clarity, peace, transparency, a yearning for tranquillity, a place to evoke otherworldliness in a way that is uplifting.”

’n Mens sou ook na aanleiding van die woorde van Lukas 19:40 kon sê dat ons hier te doen het met klippe wat uitroep waar die woorde van mense tekort ­skiet.

▶Dr André Bartlett is die hoof van Excelsus, die NG Kerk se sentrum vir be­dieningsontwikkeling aan die Uni­versi­teit van Pretoria.