Stilte en afsondering – ’n verpligte dissipline?

http://kerkbode.christians.co.za/2018/06/05/stilte-en-afsondering-n-verpligte-dissipline/

JACO SCHOEMAN het sy sabbatsverlof gebruik om stilte te vind. Hy wonder of dit nie ’n verpligte dissipline vir leraars moet wees nie.


Predikante van die NG Kerk is geregtig op sabbatsverlof. Na drie jaar in dieselfde werkkring, kan hy of sy ’n 30-dae-breuk neem. Die inhoud hiervan moet van so ’n aard wees, dat hy of sy aan die kerkraad kan verslag lewer hieroor.

So het ek by my eerste Sabbatstyd gekom, en gewonder hoe gebruik ’n mens dit sinvol? Hoe verryk jy jou siel, en skep jy ruimte – weg van jou gewone roetine en leefstyl – om jou gees te verkwik vir die taak wat voorlê?

’n Paar jaar vantevore het ek met ’n Franciskaanse priester gesels, wat so terloops genoem het dat sy orde elke priester verplig om elke drie jaar op ’n stilteretraite van 30 dae te gaan. Dit het my gefassineer: 30 dae van niks praat nie, geen elektronika nie, en doelgerigte bestudering van die Woord! Sal ek dit oorleef? Dit klink na die berg Everest van retraites.

Gelukkig is Sinode Goudland met Gys van Schoor se geloofsreis doenig, en Gys bied toe aan dat ek sodanige stilteretraite daar by sy Sentrum vir Geloofsvorming in die idilliese Overbergse dorpie, Greyton, kan kom doen. Hy en sy vrou Thea is opgeleide geestelike begeleiers (hulle het ’n tweejaarkursus in geestelike begeleiding by die non, Mary Fisher, deurloop) wat so ’n stilteretraite kan fasiliteer. Maar, waarsku hy: As dit jou eerste keer is, moenie dit langer as 5-7 dae probeer maak nie.

En so is ek Kaap toe, vir stilte en afsondering in Greyton, en ’n lewensingrypende ontmoeting met my Here.

Beide voor en ná die retraite sien jy eers ’n sielkundige (dr George Roux) in Somerset-Wes, wat ’n eerlike assessering van jou persoonlikheid maak en voorstelle maak van spesifieke fokusareas vir jou tyd van stilte. En toe is ek Greyton toe, waar ek ontvang is soos ’n eregas, en oorlaai is met hartlikheid.

Ons het die daaglikse stilwordtye vasgemaak: vyf geleenthede elke dag om spesifiek gefokus besig te wees met een enkele teksgedeelte, vir die hele duur van die stilteretraite. Hier leer jy wat Lectio Divina werklik kan doen: wanneer jy werklik diep delf in ’n gedeelte van God se Woord.

Elke dag is daar ’n uur wat jy met jou geestelike begeleier gesels, en terugvoer gee oor die afgelope 24 uur, en spesifieke (moeilike) vrae in die gesig moet staar. Hier gebeur diep introspeksie wat jou forseer om jou skadukant in die oë te kyk en eerlik met jou innerlike mens om te gaan.

Hier het ek die waarde van ’n geestelike begeleier beleef: Hulle verstaan die ritmes van ’n stil retraite: die eerste twee dae is jy net moeg. Jou liggaam skreeu vir rus en slaap. Hierna begin die diep werk van introspeksie, en sonder konstruktiewe begeleiding sal ’n mens maklik oppervlakkig hierdeur wil werk – want niemand is werklik lus om sy eie gebreke, tekorte en leemtes eerlik in die oë te staar nie.

Maar Thea het vasgestaan, en my ’n paar keer teruggestuur om dieper te delf, en spesifieke dinge diep deur te praat met die Here. En as geestelike begeleier kon sy ook onderskei toe die diep werk voltooi is, en die tyd vir stilte tot ’n einde moet kom.

En dan is daar tyd vir wandelinge in die natuurreservaat, en die Riviersonderendberge wat Greyton omring. Die natuur hier rond is ’n lushof. Die fynbos en proteas staan kophoogte en die hoeveelheid voëls is asemrowend! Daar is opsies van stap in die dorp, wandel in die natuur, fietsry in die veld, maklike stappe en tawwe roetes. As jy jou treë graag tel, gaan jy so trots wees op jouself aan die einde van elke dag.

Henri Nouwen skryf: “I am afraid that in a few decades the Church will be accused of having failed in its most basic task: to offer men creative ways to communicate with the source of human life. But how can we avoid this danger? I think by no other way than to enter ourselves first of all into the center of our existence and become familiar with the complexities of our inner lives.”

Hierdie stilteretraite help presies om dit moontlik te maak: om self jou eie kompleksiteite in die oë te kyk en bloot te stel aan die ondersoekende oog van die Allerhoogste.

Jy mag dalk reken dat jy dit tog maar alles uit die gemak van jou eie huis en studeerkamer kan beleef, maar juis daar mis jy hierdie sleutelkomponent: Stilte en afsondering se oogmerk is om spasie te skep deur dinge uit jou lewe weg te neem: al die sosiale interaksies, al die tyd wat jy met skerms deurbring, en selfs met boeke (want dominees verslind leesstof).

In die vakuum wat geskep word deur te onttrek van al bogenoemde, vind jy tyd vir nadenke en refleksie. Hier leer jy weer om na God te staar en die wederkerigheid daarvan te beleef.

In my tyd van afsondering het ek diep persoonlike ontmoetings met die lewende Here beleef. Ek moes letterlik weer leer loop – met ’n nuwe pas.

Dit is een van die kenmerke van moderne dominees: Ons is besig, en gejaagd want ons het baie om te bestuur en gedoen te kry op ’n daaglikse basis, maar hier op die retraite het die Here my oortuig om ’n nuwe pas te vind: ’n pas wat my dwing om stadiger te beweeg, dieper te gaan en meer biddend betrokke te wees by mense.

Daarom beveel ek so ’n stilteretreat aan vir dominees wat wonder wat om tydens hulle sabbatsverlof te doen. Dit sal ’n waterskeiding in jou bediening, maar ook in jou persoonlike lewe, wees!

▶ Die Sentrum vir Geloofsvorming se nommer is 028 254 9212 en Thea se selnommer 082 442 7694.

▶ Ds Jaco Schoeman is predikant van die NG gemeente Constantiakruin.

The post Stilte en afsondering – ’n verpligte dissipline? appeared first on e•Kerkbode.