Plaasmoord ruk sinode

https://kerkbode.christians.co.za/2019/05/14/plaasmoord-ruk-sinode/

Afgevaardigdes by die sinodesitting van Wes-Kaapland op Dinsdagoggend. Foto: Le Roux Schoeman

Dit is met die hartseer van ’n plaasmoord van NG lidmate op ’n nabygeleë Bolandse dorp wat die Wes-Kaapse Sinode vanoggend (14 Mei) buite Worcester begin het.

Ds Willem Liebenberg, ’n afgevaardige en leraar van die NG gemeente Bonnievale, moes Maandagaand na sy tuisdorp haas nadat een van sy lidmate op ’n wingerdplaas vermoor is, moes sinodegangers vroegdag aanhoor.

Tool Wessels en sy vrou Liezel is Maandagaand op pad na onderskeidelik kooroefening en ’n omgeegroep deur vier mans met messe aangeval, het ds Nelis Janse van Rensburg, moderator, tydens die dagopening gesê.

“Tool is noodlottig gewond en sy vrou het seergekry maar is nou veilig,” volgens Janse van Rensburg.
Janse van Rensburg het ook ’n afgevaardigde, wat ’n vriendin van die slagoffers se oudste dogter is, sterkte toegewens.

Volg Kerkbode se regstreekse blog hier.

Die slagoffers het twee dogters, Annalie en Jana, wat aan die Universiteit Stellenbosch studeer.

’n Emosionele Annamari Booysens, afgevaardigde van die NG gemeente Stellenbosch, het gesê dat sy net voor middernag die slegte nuus gekry het.

Volgens Booysens is Liezel eerste gevind en na die hospitaal in Robertson gehaas. Tool is eers sowat ’n uur en ’n half later gevind.

“Tannie Liezel is later na Worcester se hospitaal oorgeplaas en is stabiel, maar daar is nog nie sekerheid oor die omvang van die beserings nie. Ek het baie min gisteraand geslaap, want ek het heelnag met Annalie op WhatsApp gesels. Ek gaan later vandag na die hospitaal om haar te gaan bystaan,” het Annamari gesê.

“Die werklikheid is groter as wat ons kan verstaan. Dit wat besig is om in ons land te gebeur is van nasionale omvang. Ons wil as sinode ons verset oor dit wat aangaan uitspreek,” het Janse van Rensburg oor die voorval gesê.

’n Mosie sal later voor die vergadering gelê en bespreek word, het die moderator gesê.

“Ons steek vanoggend die kers by elke tafel aan en dink in besonder aan die gebroke gemeenskap van Bonnievale,” het een van die gemeentes op sosiale media gedeel by die hutsmerk #kaapsinode2019.