Oud-dominees se lewe ná die kansel

https://kerkbode.christians.co.za/2019/07/11/oud-dominees-se-lewe-na-die-kansel/

Wat gebeur met gemeentepredikante wat besluit om die kansel vir ’n ander beroep te verruil? CONETTE LE ROUX het met ’n gastehuiseienaar, maatskaplike werker en strategiese bestuurder gesels wat in dié beroepe bevind het ’n “gemeente” kan ook anders lyk.


Wiehahn Maritz sê hy stotter gewoonlik as iemand vir hom vra waarom hy na 11 jaar in gemeentebediening besluit het om ’n ander beroep te volg.

“Vroeg in my bediening het ek besef dat ek nie gemaklik was met die dominee-titel nie, ook nie om ’n spesifieke kerkverband te verteenwoordig nie. Ek dink dit is ‘barriers’ om werklik na mense te luister. Ek is in elk geval ook te veel van ’n kritiese denker … kerkrade hou nie daarvan nie. Ek stel ook meer belang in die menswetenskappe as teologie,” vertel hy vanuit Australië waar hy en sy vrou Michelle en hulle twee kinders die afgelope paar jaar woon.

Daarom het Wiehahn die geleentheid om spirituele sorg en emosionele ondersteuning vir pasiënte in ’n hospitaal in dié land te gee, met albei hande aangegryp.

Maar, sê Wiehahn, nadat hy die besluit geneem het was daar baie seer en teleurstellings. “Die plaaslike Ring het geen tyd gemors om my van my titel as dominee te stroop toe hulle hoor ek gaan vir ’n hospitaal werk en nie ’n kerk nie. Maar dit was net scary vir ’n klein rukkie en baie lekker om net Wiehahn te wees.

“Dit was egter seer en teleurstellend in daardie tyd om opmerkings soos ‘so nou hardloop jy ook weg uit die land’ te hoor. Maar dan onthou ek die diaken wat na kerk, toe ek my bedanking aangekondig het, by my kar se deur kom staan en huil het want hy het nie verstaan hoekom ek moes weggaan nie. Dit was seer om hom nie ’n bevredigende antwoord te kon gee nie. Maar dit het my darem ook laat voel dat ek in my bediening iets vir iemand kon beteken. En dan was daar die totsiens vir familie en vriende …”

Wanneer Wiehahn egter nou na sewe jaar terugkyk weet hy dit was “een van die beste besluite van sy lewe”.

Met die hoop om eendag maatskaplike werk te studeer het Wiehahn se paadjie “Down Under” eers met ’n internskap in kliniese pastoraat by ’n hospitaal in Melbourne begin. Tydens die internskap is hy ’n kapelaanpos by ’n psigiatriese hospitaal in Bendigo, Victoria aangebied en só het hy deeltyds maatskaplike werk begin studeer wat hy in 2017 voltooi het.

Sedert 2019 is Wiehahn ’n maatskaplike werker by ’n gesinsgeweld-agentskap wat vroue en kinders ondersteun wat slagoffers van geweld was. Sy taak lê spesifiek by die mans wat verantwoordelik vir die geweld was.

Wiehahn verduidelik: “Die spesifieke program waarin ek werk word Men’s Behaviour Change genoem. Mans wat deur die polisie of hof verplig word om die program te doen, eindig by my op. Van hulle word deur korrektiewe dienste na ons verwys. ’n Groot deel van my week is om nuwe kliënte te assesseer vir gepastheid vir ons program, sowel as psigo-sosiale assessering, intervensie en verwysing aangesien hulle gewoonlik ook ander probleme het. Ek werk saam met ander spanlede om risiko vir hierdie mans se families te assesseer want hulle veiligheid is ons hoogste prioriteit.”

Wiehahn sê wanneer hy ’n groep fasiliteer of ’n kliënt assesseer, is die slagoffers vir ’n rukkie veiliger. Dít gee vir hom werksbevrediging. “Dit gee vir my kollegas geleentheid om op die langtermyn veiligheid vir hulle te fasiliteer. Soms sal mans na die program terugvoer van positiewe gedragsverandering gee,” sê Wiehahn.

Daar was ’n “sterwende oom” wat na hom verwys is vir pastorale sorg wie se storie hom steeds bybly. “Hy was nie godsdienstig nie en het besef dat hy niemand ken wat hom kan begrawe nie. Hy wou nie bekeer word nie. Net dat die persoon wat hom begrawe sy lewensverhaal ken, hom aanvaar en verseker dat God hom nie vergeet het nie en vir sy familie kan ondersteun by die graf. So het ek en hy mekaar leer ken, stories uitgeruil en later het hy my gevra om saam met hom te bid en saam met sy familie sy begrafnis in detail te beplan. Hy was tevrede. Dit was ’n mooi afskeid. Hy was baie beïndruk dat syne mý eerste begrafnis in Australië was!”


‘Ek kan ’n besigheid help vrygewig, dankbaar wees’

Jalize Uys sê hoewel sy nie meer ’n gemeentepredikant is nie en ’n ander beroep beklee, beleef sy dit allermins as “lewe ná die kansel”. Dié Strategiese bestuurder: Risiko; Etiek; Menslike Hulpbronne) sê: “My ‘kansel’ is anders, maar die invloed, leiding, lering, berading, mediasie, bestuur is dieselfde as in die voltydse bediening. Die aard van my werk is anders, maar die essensie is dieselfde. My ‘kerkraad’ is ons EXCO-span. My ‘gemeente’ is ons werknemers. Ek ‘preek’ by ons ‘Value Sessions’. Die plek waar ek my roeping uitleef, is dus anders, maar my roeping is identies.”

Jalize, die eerste vrou wat in die Wes-Kaap as predikant bevestig is, was altesaam sewe jaar voltyds in die bediening.

“Ek het van die begin af besef dat ek nie my roeping in die ‘sentrum’ van die kerk beleef nie, maar op die ‘rande’. Ek het destyds vir die kerkraad gesê: ‘Ek glo nie in tradisionele huisbesoek nie. Ek het net sóveel tyd om mense te gaan besoek. Dit is vir my ’n mors van tyd om mense te besoek wat 100% fine is. Ek het vir daardie mense gesê hulle moet my laat weet as ek ’n draai moet maak. Ek wil eerder my tyd spandeer by mense op die rande, want verhoudings neem tyd.’”

Maar tog was dit nie die rede waarom sy die gemeentebediening verlaat het nie. Vir haar was dit ’n “organiese proses”.

Jalize het, terwyl sy tentmaker in Houtbaai was, ’n deeltydse pos as berader by Metropolitan Health aanvaar. Haar beradingspos het tot ’n voltydse posisie as “Employee Wellness Manager” ontwikkel. “Ethics Officer” is later by haar titel gevoeg wat gelei het tot verdere studie: Eers ’n sertifikaatkursus by die Ethics Institute of South Africa, en uiteindelik ’n meestersgraad in besigheidsetiek aan die Universiteit van Pretoria (UP). Van Metropolitan het sy by Cullinan Transport beland, waar menslike hulpbronne deel van haar verantwoordelikhede geword het.

Jalize het haar status as predikant behou en was deurentyd by die kerk betrokke – ná Houtbaai, by Stellenberg-gemeente se Genex-bediening vir jong volwassenes; daarna by Tableview-gemeente, waar haar man, ds Johannes Mouton, voltyds leraar is.

Vandag, as strategiese bestuurder, beleef sy haar roeping só: “As ek na my lewe kyk, voel dit asof die Here my tree vir tree gebring het waar ek nou is. Want ek sou baie verveeld geraak het met gemeente-bedieningswerk. Ek het variasie en komplekse uitdagings nodig om te floreer. En ek moes hierheen groei. Ek sou beslis nie op my eie uitgekom het waar ek vandag is nie; ek het nie geweet dat ek dit sou geniet, of dit goed sou doen nie. Die hele journey was nodig.”

Jalize voel bevoorreg dat sy “’n invloed kan uitoefen op strukture en mense”. Sy sê: “Ek wil die wêreld ’n beter plek maak, dag vir dag, taak vir taak. Die besigheidswêreld is dikwels selfsugtig en geldgierig. As hoof van HR kon ek – en kan ek ’n ander tipe benadering vestig. Ek het die voorreg gehad om direk betrokke te wees by die ontwikkeling en vestiging van ons maatskappy se waardes … Personeel kom dikwels na my toe om leiding te vra oor hoe hulle moeilike mense en situasies moet hanteer. Ek kon van die begin af seker maak dat regverdigheid (geregtigheid), integriteit en genade deel is van elke beleid en proses.

“Ek kan op ’n uiters konkrete manier help om die agterstande van die verlede te oorkom, om diskriminasie te beveg, om mense se vooroordele af te breek, om werk te skep en om die koninkryk te laat kom. Ek kan ’n besigheid help beïnvloed om vrygewig te wees; by nood betrokke te raak; dankbaar te wees.”

Haar werk maak haar soms uiters ongewild, verduidelik Jalize. Maar jy kan nie gewild wees én die regte ding doen nie.

“Ek dink nie eintlik meer oor wát ek doen ten opsigte van my roeping nie. Ek fokus op hóé ek dit doen, sodat ek nooit vergeet om regverdigheid, integriteit en genade deel te maak van alles nie.”


’n Bediening om die ontbyttafel

“As ek dit net kan regkry om elke dag meer regmerkies as swart kolle te kry sal ek dit maak …”

Só het Marius Marais Sondag na Sondag gedink terwyl hy die orrelpype in die NG gemeente Kestell getel het.

“In daardie selfde kerk het God my ook geroep om teologie te gaan studeer. Miskien, het ek gedink, sal ek dán elke dag genoeg regmerkies kry om eendag in die hemel te kom,” vertel Marius.

“Genadiglik het dit verander toe ek die Ware Verlosser ontmoet en leer ken het langs die wonderlike pad van my studies,” sê Marius.

Toe hy en sy vrou Elbé trou het hulle ooreengekom om hulle geloofshuis op drie pilare te bou: 1. Ons soek die koninkryk van God 2. Ons gee ons tiende en 3. Ons droom iets waarvoor ons saamwerk. Elbé vra toe: “Wat droom jy?” “Ek droom om eendag, as ons aftree, ’n gastehuis te koop.” “Dan droom ek dit saam met jou,” het sy gesê.

Met sy eerste beroep as predikant in Bloemfontein was het hy gevoel hy dien en soek na die koninkryk van God, maar dat hy nie al sy gawes gebruik nie. “Die ou gevoel van regmerkies wat nie afgemerk word nie, het teruggekom. Ek wil bou en breek, skep, soos die Skepper, met my hande, projekte aanpak, regmaak soos op die plaas in my grootwordjare en ek wil weet dat ek elke dag iets gedoen het met die talente waaroor ek preek,” vertel Marius.

Marius kry toe voor sy aftrede ’n geleentheid om ’n gastehuis in Kemptonpark te koop.

Marius dink terug: “Ons koop, sonder kontant, ’n pragtige gebou vol in bedryf en vir my om dit te kan bestuur moes ek ankers uittrek in Bloemfontein en skuif Gauteng toe. Die Vader voorsien ’n tentmakerpos sonder ’n pastorie. ’n Huis sonder geld en geloof sonder bewyse. ’n Wonderlike pad van vertroue vir elke dag se brood en elke maand se terugbetaling aan die bank.”

Na agt jaar moes dié gemeente hom losmaak as tentmaker as gevolg van finansiële uitgawes en so word hy voltyds betrokke by Le Chateau.

“As ek terugkyk sien ek hoe my Hemelse Vader die pilare van geloof in my lewe geplant het en dit gee vir my vashouplek om die toekoms met hoop aan te pak. Daarom probeer ek elke dag te leef in sy Liefde. Dit het my vry gemaak van ’n wetgedrewe lewe soos voor my bekering en selfs van die skuldgevoel binne die bediening. God lei sy kinders tot geestelike vryheid.”

Marius sê dié pad het hom gebring by ’n punt waar hy ander kan help om los te kom van “onbybelse verpligtings wat hy/sy op hom/haarself geplaas het”.

Só sit Marius ure lank en gesels met gaste om die ontbyttafel. Hy vertel hy kon al jonggetroudes help om saam ’n gemeente te kies waar hulle geestelik kan groei in plaas van om “ouma en oupa gelukkig te hou”. Hy kon ander ook help ontdek dat duisende Christene in hulle gewone werk Jesus dien. Hy kon onlangs ook ’n man help wat moes kies of hy van werkgewer moes verander. “Ek deel toe met hom dat ek op drie dinge staat maak: my hart (voel dit reg?), my siel (dien ek God met my besluit?) en my verstand (maak dit finansieel sin vir my gesin?)” Volgens Marius het hy die volgende week kom vertel hy het vrede met sy besluit en hy het die beste besluit vir sy gesin gemaak.

Marius sê sy vrou kan ook haar roeping in Gauteng uitleef en is ’n senior argitek. En hulle drie seuns, Evert, Danthus en Francois is “begenadig en gesond”.