Op die pad tussen Dwaalboom en Soekmekaar?

Prof Hoffie Hofmeyer

Ek kom pas terug van my voorganger by die Universiteit van Pretoria (UP), prof Flip van der Watt, die bekende kerkhistorikus, kerkleier en gelowige (10/8/1937-8/8/2019) se dankdiens na sy skielike afsterwe verlede week. Hy was ’n mens wat diep spore op baie plekke getrap het: in die kerk, teologie en in die samelewing. Hy was natuurlik ook ’n gewilde dosent by beide die UP en die Universiteit van Stellenbosch (US)  wat ’n besondere liefde vir die kerkgeskiedenis by sy studente wakker gemaak het.

Twee indrukke tydens en na die diens sal my lank bybly. Aan die een kant die soberheid van die dankdiens waarin primêr verwys is na Van der Watt wat telkens na ons Gereformeerde tradisie verwys het en diep bewus was van God se groot genade in ons almal se lewe – in lewe en in sterwe. Aan die ander kant ten tye van die verversings sê prof Flip Smit (een van die prominente voormalige rektore aan die UP) aan André Bartlett en aan my in ’n terloopse ligte opmerking waarin daar dalk nogal heelwat waarheid steek: “Miskien moes die komende Algemene Sinode se eerste deel eerder by Dwaalboom in Limpopo plaasgevind het. En die tweede deel by die ander Limpopo-dorp, Soekmekaar!”

Ek as ’n oud teologie-dosent (wat hoegenaamd nie ’n fundamentalis is nie) wat 35 jaar se ervaring by Unisa, UP, en die Universiteit van die Vrystaat (UV) en in die buiteland het, voel deurgaans sterk oor voortgaande vernuwing. Ek is egter iemand, soos prof Flip van der Watt, met groot ontsag vir God en sy Woord. Ek beweer dat daar miskien dwarsdeur ons geskiedenis – maar nou ook weer – genoeg rede is vir ’n omvattende kerklike en teologiese selfondersoek deur die NGK mbt sy teologiese opleiding.

Ek persoonlik bly deurentyd oop vir vernuwing in teologiese insigte en die bevordering van die teologiese wetenskap. Soos ook maar verder terug in die verlede het daar ook onlangs en veral sedert die 1990’s bepaalde vreemde en hier en daar selfs vrysinnige klanke hoorbaar begin word binne die teologiese fakulteite: Dit behels kwessies soos twyfel oor Skrifgesag, die ontkenning van bepaalde Bybelse waarhede en soms ook die Ou en Nuwe Testament-lyne, twyfel oor Christus se verheerlikte maar historiese opstanding, en die oordrywing van die selfdegeslag-debatte. Dis my oortuiging dat waar die gesag asook ’n nie-verantwoorde interpretasie van die Bybel in die NGK in gedrang kom, ’n deeglike selfondersoek ingestel moet word voor dit soos ook in die verlede soms te laat is.

Die onlangse geskiedenis waarmee beide ek en prof Flip besig was, het jammer genoeg drie dinge bewys naamlik eerstens dat NGK-lidmate tans erg verward is en al meer verdwyn uit die NG Kerk, soms ook agv verwarring wat deur kerklike teoloë en kerkleiers gesaai word. Tweedens dat die NGK-opleidings dit soms moeilik vind om gebalanseerd binne ’n gesonde ekumeniese verband ook kerkspesifieke behoeftes aan te spreek. Dit wil soms van buite gesien lyk of die belydenisskrifte van die kerk as deel van ’n mode-verskynsel, nie meer orals van wesenlike belang in teologiese opleiding is nie. Die vraag moet inderdaad gevra word hoeveel van ons dosente nog hul legitimasie-eed waarin hulle die Bybel en die belydenisskrifte as basis aanvaar, kan of wil honoreer. En watter weg word afgestudeerde jong predikante gewys as dit die oortuiging van heelwat van hul dosente is, want die ou spreuk bly maar waar: “dat wiens brood men eet, wiens woord men spreek”. Derdens dat sommige kuratoria (kerklike toesigliggame) van fakulteite moontlik bang of geïnhibeerd begin raak het om sommige teologiese dosente in liefde maar met erns oor hul teologiese beskouinge en moontlike eensydighede aan te spreek.

Dis my oortuiging dat die NGK en veral sy Algemene Sinodale Moderamen ook nou weer spoedeisend selfondersoek na hierdie verskynsels moet instel en by die eerskomende Algemene Sinode in Oktober reeds dringend verslag daaroor moet doen. Hierdie proses moet dus pro-aktief aangepak word, in plaas van om een van die skynbaar byna 200 beswaarskrifte te wees wat by die komende sinode ingedien gaan word. Die groot vraag sal dus juis ook in erkenning aan prof Flip van der Watt se nagedagtenis gevra moet word: Waar staan ons mbt die diepgrypende goddelike genade-boodskap van die Bybel en die Reformasie, en waar bevind ons onsself op die pad tussen Dwaalboom en Soekmekaar?

  • Prof JW (Hoffie) Hofmeyr, emeritus-professor aan die UP en die Evangeliese Teologiese Fakulteit (Leuven, België).