‘Ons wou bloed keer …’

http://kerkbode.christians.co.za/2018/12/11/ons-wou-bloed-keer/

“Ons wou bloed keer” en “Ek het my vin­ger op die sneller gehad.” Dit is die woorde van onderskeidelik ds Freek Swa­nepoel, ’n vorige moderator van die NG Kerk, en genl Constand Viljoen, voormalige hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag. Die spanning in hierdie stelling is ’n aanduiding van hoe naby Suid-Afrika in 1994 aan die rand van ’n burgeroorlog was. Dit vertel ook die onbekende verhaal van die NG Kerk se belangrike rol in die soeke na vrede.

Die vrylating van mnr Nelson Mandela en die opheffing van die verbod op die ANC in 1990 het Suid-Afrika op ’n nuwe koers geplaas. Terwyl die nuwe koers die politieke kookpot in Suid-Afrika byna laat oorkook het, het die leierskorps van die NG Kerk ’n deurslaggewende rol gespeel om gemoedere te kalmeer sodat ’n vreedsame verkiesing in April 1994 kon plaasvind.

Tussen 1990 en 1994 het die Dagbestuur van die Algemene Sinodale Kommissie onder meer vier keer vir Mandela ontmoet. Tydens hierdie gesprekke was mediasie tussen strydende groepe, die rol van die Afri­kaner in die “nuwe” Suid-Afrika en die soeke na ’n vreedsame oplossing vir die land telkens op die agenda.

Gesprekke is egter nie net met die ANC gevoer nie. Aan die ander kant van die politieke landskap het ’n groot groep konserwatiewe Afrikaners gedreig om die verkiesing van 1994 omver te gooi. Hulle was goed georganiseer onder leiding van Viljoen wat na bewe­ring ’n mag van 50 000 man onder leiding van vyf ge­neraals landswyd ontplooi gehad het. Hulle het gewag op die bevel om die verkiesing te ontwrig.

Viljoen was egter ook ’n ouderling-afgevaardigde op die Algemene Sinodale Kommissie. Dit het die deur oopgelaat om gewelddadige verset te ontmoedig. Na afloop van ’n vergadering met sy generaals op De Deur in April 1994 het Viljoen in sý woorde besluit “om die honde los te laat”. Daar sou geen verkiesing op 27 April 1994 wees nie. Intensiewe vredesamespre­kings het hom op 23 April 1994 van besluit laat ver­ander en die verkiesing kon voortgaan.
2019 is weer ’n verkiesingsjaar en emosies gaan weer hoog loop. Miskien moet Kersfees 2018 die vertrekpunt wees van ’n nuwe besluit om in 2019 vir vrede te werk, om voort te bou op die werk wat die kerk se leierskorps destyds gedoen het. Hierdie keer is dit die uitdaging aan elke lidmaat en elke predikant in elke gemeente van die NG Kerk wat met Kersfees die koms van die Vredevors gaan vier.

▶ Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.