‘Ons is almal God se implemente’

http://kerkbode.christians.co.za/2018/03/12/ons-almal-god-se-implemente/

Adri Klindt voor die nuwe huis waarop vyf jaar ver­blyfreg deur ’n anonieme weldoener geskenk is. Foto verskaf

“Ek was stukkend toe ek by Huis Jabes ingestap het. Daar was niks van my oor nie.”

Só vertel Mia Malan (’n skuilnaam), destyds ’n jong ma van drie seuntjies, wat onder mishandeling van haar man deurgeloop het tydens haar laaste swangerskap.

Huis Jabes, ’n heenkome vir slagoffers van gesins­geweld, het Mia gehelp om “oor te begin”. Die fokus is op vroue afkomstig uit ’n mid­del- of hoë-inkomstegroep.

Die man het haar en haar seuntjies destyds sonder heen­kome weggejaag. Later het hy Mia en haar seuntjies by sy minnaar se huis in ’n an­der voorstad gaan aflaai. “’n Pakkie chicken fillets en ’n butternut vir die week” was al wat hy vir hulle gegee het.

Uiteindelik het Mia se skoonfamilie vir Adri Klindt, ’n gemeentelid van NG ge­meen­­te Welgemoed, van Huis Jabes gekontak.

Sowat 10 jaar gelede het Adri saam met NG gemeente Durbanville-Bergsig en Durbanville Sake­kamer Huis Jabes vir slagoffers van gesinsgeweld tot stand gebring.

“Ons het die afgelope 10 jaar sowat 800 vroue en hulle kinders gehelp om oor te begin,” sê Adri, ’n finansiële adviseur.

Volgens Adri is sy die eerste kontak met slagoffers. As hulle aan die kriteria voldoen, doen Huis Jabes se maatskaplike wer­ker ’n onderhoud met die vroue. Daar is byvoorbeeld dwelmverslaafdes wat al kanse probeer vat het om toegang tot die huis te kry, daarom moet hulle streng keuring ondergaan.

Die idee is dat Huis Jabes dié vroue sowat ’n jaar lank bystaan en help om weer op hulle voete te kom.

Adri sê die vroue kry die geleentheid om aan te gaan met hulle lewe, want die oomblik wat die oortreder beheer verloor omdat die vrou nie meer finansieel afhanklik van hom is nie, is sy hande afgekap.

Mia sê: “Dit is belangrik om te verstaan daar is verskillende vorme van mishandeling. Fisies, emosioneel en ook finansieel. Omdat ek voorheen ’n tuisblyma was, kon ek eenvoudig nie vir my en my kinders sorg nie. Ek het nie eens ’n kar gehad nie. Maar toe stap ons by Huis Jabes in en besef daar ís hoop. Die yskaste was vol kos. Jy kry toiletbenodigdhede en selfs klere. Ek was gelukkig om gou ’n werk te kry. Tannie Maria het selfs na my kinders omgesien terwyl ek by die werk was!”

“Tannie Maria” is Maria Vierra, ’n vrywilliger wat vertel sy het begin om Huis Jabes se kinders op te pas nadat haar dogter met haar twee kinders self ’n paar jaar gelede in Huis Jabes gewoon het.

En so vloei die strome van hulp byeen. “Gelowiges maak werklik hulle hart oop en help graag,” vertel Adri. “Ons kry veral materiële donasies soos klere. Soms kom salf mense die vroue. Of kom gee ’n wel­ko­me pedikuur. Die skenkings wat oorbodig is, gee ons da­delik aan ander instansies. Ek glo God sal weer sorg.”

Soos onlangs, toe Adri-hulle begin soek na maniere om ’n huis te koop, sodat hulle los kan kom van die on­stabiliteit van huurooreenkomste. Toe koop ’n vrou ’n huis en gee vir Huis Jabes vyf jaar verblyfreg. “Sy wou dit graag doen omdat sy in haar verlede swaarkry goed geken het,” sê Adri.

En toe gee ’n ander donateur R1,5 miljoen sodat hulle die huis later kan koop. Adri is vol vertroue dat hulle die res van die koopprys bymekaar sal kan maak.

Huis Jabes se verhaal is een van gelowiges wat op verskillende maniere bydra om vroue in nood te help.

In Adri se woorde: “So is ons almal net God se implemente.”

Besoek www.sostrust.co.za indien jy betrokke wil raak.

The post ‘Ons is almal God se implemente’ appeared first on e•Kerkbode.