Onrusrivier se spore trap diep

http://kerkbode.christians.co.za/2017/12/15/onrusrivier-se-spore-trap-diep/

SPORE VAN SEËN – DIE SPORE WAT ONS GELAAT HET
Deur Clifford Heys
Uitgegee deur NG gemeente Onrusrivier, 2017
Resensie deur Frits Gaum


Voorin hierdie boeiende boek staan geskryf: “Ons is die gemeente van Onrusrivier. Ons is pelgrims. Ons bly aan die beweeg. Ons migreer. En ons nooi jou om by ons aan te sluit, maar beoordeel ons eers op grond van die spore wat ons trap en die rigting waarin ons stap. Ons stap in die skadu van ons Heer. En vandag kyk ons met dankbaarheid terug op spore van seën.”

Clifford Heys gaan haal die verhaal van Onrusrivier-gemeente ver, en vertel van al die spore wat getrap is. Maar sy vertelling is baie meer as die opstapeling van historiese feite. As predikant wat bekend is vir sy raakvat-preke, dink hy op sy soektog na Onrusrivier se spore, diep na, maak interessante toepassings, erken fou­te, sien die seën van die Here ook in die klein dingetjies raak.

Hy skryf dat die kerk baie kri­tici het. “En dit is goed. Dit hou ons op ons tone.” En ons kan maar altyd onthou dat die kerk nie die gemeenskap van volmaaktes is nie, skryf hy. En tog noem die Here ons “die heiliges”. “Ons word nie so genoem omdat ons volmaak is nie, maar omdat ons deur die bloed van die Lam gereinig is van die sonde, deur God as sy kinders aanvaar is en deur die Heilige Gees gedoop is.”

Heys vertel van gemeentelede wat die pelgrimstog op die Camino de Santiago gaan stap het (1 600 km!): “Lekker is nie die woord daarvoor nie, maar dit was wonderlik!”. Hy voeg by dat al die gemeen­te­lede nie so ’n tog kan aanpak nie, maar hulle kan Volmoed toe gaan, digby Onrusrivier, waar ’n eie pel­grims­pad gestap kan word.

Hy vertel van die droewige begrafnis van ’n gay lid­maat wat nooit regtig tuis in die kerk gevoel het nie en wie se ma “baie diplomaties” versoek het dat hy maar “buite die kerk” begrawe moes word – sy wou tog niemand aanstoot gee nie. Hy vertel ook van mense wat kla dat “ons net té veel Engelse liedere voor die diens sing”, en van ’n kerkraadsvergadering wat vroeg verdaag het so­dat die lede kans kon kry om na die Super-maan te gaan kyk …

Grepe uit ’n gemeente se lewe. Flitse wat jou ’n oomblik lank laat nadink. Één gemeente met baie stories. Soos maar alle gemeentes. Spore in die sand. Baie waai weg, dink ’n mens, dis net party diep spore wat bly. Maar by God, so glo ons, waai jy en jou spore nie weg nie.     

– Bestel by 028 316 2116.

The post Onrusrivier se spore trap diep appeared first on e•Kerkbode.