Om in plakkies te preek

https://kerkbode.christians.co.za/2019/06/10/om-in-plakkies-te-preek/

“Mense moet leer om te ontspan,” sê my kollega toe ek haar die e-pos wys wat ek van ’n ontstoke lidmaat ontvang het.

Dié stukkie korrespondensie was my eerste kennismaking met die kerk se skerp kant. Die hele ding kon seker vermy gewees het – as ek nie met plakkies aan my voete gepreek en die gemeente die Boeddha se lof laat besing het nie.

Laasgenoemde was darem per abuis. Sien, in my naïwiteit en te midde van my tegnologiese onvermoë het ek die gemeente ’n loflied laat sing – terwyl hulle, in plaas van na die woorde op die skerm, na die Boeddha moes kyk.

Ek was pas uit die universiteit en het niks geweet van gemeentemense se verwagting dat hul leraar netjies geklee moet wees nie. En ek kon regtig nie die skerm-flater voorsien het nie. Buiten­dien, dink ek, was my hare in elk geval te lank …

Die ding met die Boeddha het só gewerk: Ek het op daardie stadium ge­reeld met Christene te doen gekry wat die duiwel oral en in alles en nog wat raakgesien het. Hulle sou byvoorbeeld aan ander gelowiges vertel dat dié se kinders se slaapkamer vol boosheid is – kyk net vir Tinkerbell! En Spiderman!

Daar was ook ander wat daarvan oortuig was dat Christene slegs Chris­ten­vriende het, net gospelmusiek luister, net Christelike literatuur lees. En soveel moont­lik tyd by die kerk deurbring.

Só ’n uitkyk op die lewe lei daartoe dat jy iets “Christelik” kan noem slegs as ’n Christen daarby betrokke is of as dit kenmerkende Christelike simboliek be­vat. ’n Kunswerk sonder ’n kruis of han­de wat bid of ’n Bybelvers wat daarop aangebring is, is nie Christelik nie. ’n Liedjie sonder ’n opbouende verwysing na Jesus is nie Christelik nie. ’n Vervoer­maatskappy sonder ’n Jesus-slagspreuk op hul vragmotors is nie Christelik nie.

Daardie Sondagoggend wou ek hierdie dualistiese uitkyk op die lewe uitdaag deur die kerkgangers te nooi om oor hul hele lewe as “Christelik” te dink. In my prediking het ek probeer om die vraag wanneer iets nou eintlik “Christelik” is, te beantwoord.

Hiervoor het ek die Boeddha nodig gehad. Oftewel die foto wat ek jare tevore op ’n pragtige Bolandse dorpie van ’n Boeddha-beeld geneem het. Dit was een van my gunstelingfoto’s ooit. Nee, nie oor die beeld nie, maar omdat die foto my altyd daaraan herinner het dat my lewe ’n geskenk uit God se hand is.

In daardie jare het kameras met film gewerk; jy was nooit seker hoe die finale produk sou lyk nie. As amateurfoto­graaf met ’n baie ou kamera en nie juis geld vir goeie lense nie, was daar altyd ’n klompie vrotterige pogings tussen die res. Wanneer ek die koevertjie met foto’s by die plaaslike apteek ontvang het (waar die film “ontwikkel” is), moes ek maar tevrede wees met die oes.

Maar daardie foto van die Boeddha was só na aan perfek soos wat ek op daardie stadium dit sekerlik sou kon regkry. Die komposisie was wonderlik. Die lig het sag op die lowergroen plante en op die beeld se verweerde lyne geval.

Toe ek die knoppie druk, het ek net geweet: Hiér is ’n goeie een …

My plan was om dié foto aan die gemeente te wys en te vra of hulle dink dit is Christelik. Dit alles moes aan die begin van die preek gebeur – maar toe “bou” ek die skyfies verkeerd en die Boeddha-foto beland te vroeg op die skerm. Heeltemal te vroeg: net ná die votum, net voor die orrelis die eerste akkoorde van die bekende lied “God is hier teenwoordig” speel.

Op hoop van seën haak die skyfie vas. Die orrelis speel en speel, en die gemeente sing tot eer van ’n ander heer.

Dae daarna moes ek nog telefoonop­roepe beantwoord en koes vir SMS’e en e-posse.

Dit alles het meer as elf jaar gelede gebeur, maar elke af en toe word ek deur oudlidmate aan dáárdie erediens herinner. Vreemd genoeg: Al wat hulle onthou, is dat ek daardie dag met plakkies aan my voete gepreek het.

▶ Ds Fourie Rossouw is ’n predikant in Somerset-Wes.

  • Hierdie rubriek verskyn met vergunning van LiG, Kerkbode se susterpu­blikasie. Die jongste uitgawe van LiG is in Julie beskikbaar.