‘Nehemia is ons rolmodel’

http://kerkbode.christians.co.za/2018/06/05/nehemia-is-ons-rolmodel/

’n Groepie leerlinge van Jakes Gerwel Tegnies by die Cabernet Sauvignon- en Shiraz-wingerde wat op die skoolterrein groei. Soos die wingerd in daardie klimaat, kry die kinders by die skool die geleentheid om te gedy. Foto verskaf

Bonnievale se gemeenskap het onlangs ’n hele blok wingerd ontwortel. Uitgehaal. Skoongemaak. En in die plek daarvan ’n merkwaardige skool begin bou: Jakes Gerwel Tegnies. Dit staan al half-klaar en huisves reeds 240 graad 8 en 9 leerders. Weer-probeerders sowel as nuwelinge. Die Kaap gons daaroor. Annalise Wiid het gaan kyk.


skuins in die liefde ’n visioen wat die oë ontroer: Bonnievale
die son loop sonder kieries of toue soos reuk deur die land
die aarde rooi en die hemel blou en wolke wit vlieënde tapyte  …
Breërivier ’n slentertong wat diep fluister oor spoelklip en palmiet
agter die rant gooi Happy Valley se mense hul klanke teen die randjies vas

Só dig Breyten Breytenbach oor sy grootworddorp, Bonnievale. Waar die pad van Robertson se kant af deur die randjies uitmond in die vallei van kaas en wyn, daar vat die Breërivier se blink tong sy kronkelgang verder na regs tussen die wingerde en tamarisk-bome deur. Op links lê Happy Valley, toekatyd se “lokasie”, teen die kop. Daar was ook baie jare lank ’n blok wingerd teen die pad.

Nou het Happy Valley en dié wingerd ’n verstrengeling van verhale geword. Soos wingerd-rankies draai die stories deurmekaar: Dié van twee jongmans en hulle oupas; ’n ander jongman en sy pa; ’n skoolhoof wat van ver af gekom het; ’n anti-apartheidsaktivis en akademikus; en ’n bottel Robbeneiland-wyn. ’n Wonderbaarlike weefwerk. Kom ek pak dit vir jou uit.

Philip Jonker se familie boer al sedert 1912 net daar waar jy Bonnievale inkom, op regterhand. Oorkant Happy Valley, op die Weltevrede-landgoed. Wynboere. Sy oupa het nog daai blokkie “skool”-wingerd geplant. Sy oupa het ook geloof, beginselvastheid en waardes in hom geplant: Karakter is belangrik, my kind. Wie jy is bepaal hoe jy dinge doen en wat jy agterlaat …

Wilhelm de Wet se wortels lê weer in Namibië. Sy oupa het nooit skool gegaan nie. Sy ouma het wel laerskool klaargemaak. “Keuses,” sê hy, “ek pluk vandag nog die vrugte van hulle keuses.” En deursettingsvermoë. Sy ouma het gesorg dat sy ma gaan leer het. Hy en sy sibbe kon verder gaan.

Vandag is hy ’n aktuaris. Gevestig genoeg in sy beroep dat hy van die huis af kan werk. “Ons wou ons kinders graag op die platteland grootmaak. Ná ’n paar jaar in Engeland het ons Kaap toe gekom en gekyk na plekke binne trefafstand van Kaapstad. Bonnievale het gewen.” Hy glimlag daaroor.

Wilhelm dien op die beheerraad van Bonnievale Hoërskool. Oor die afgelope jare het ’n somber en kommerwekkende prentjie ontwikkel: Meer as 1 500 kinders uit 11 laerskole in en om Bonnievale ding mee om slegs 350 beskikbare hoërskoolbanke. Dit is ’n hopelose situasie. Wat staan hulle te doen? Wilhelm het sy vriend, Philip, genader. En, soos Nehemia, het hulle mense bymekaar gemaak en begin bid en bou.

Hulle het die Wes-Kaapse Onderwysdepartement gaan sien en dié het gevra: Kry grond, kry 60% van die geld wat gaan nodig wees en kry genoeg mense om die plan te laat werk. Binne ’n week was hulle terug by die minister: “Ons het die grond – 12 hektaar op ’n 100-jaar pag. Ons het nog nie al die geld nie. Maar ons het planne en baie steun uit die gemeenskap.” Die grond moes hersoneer word. Die minister het gedink dit sal ongeveer twee jaar neem. Maar binne net ses maande val alles in plek en kon hulle begin bou.

In die proses om mense bymekaar te maak, mense wat die hele gemeenskap verteenwoordig, mense wat verstaan dat God ’n hart het vir Bonnievale se kinders, het Philip vir Dawid en Mac Kühn, jarelange staatmaker-werkers van sy pa, gaan sien. “Ons sal graag wil hê ons seun moet by wees,” het hulle gevra. So het Curren, ’n jongman uit Happy Valley, ’n onmisbare deel van die span geword.

Curren se pa, Dawid, het lankal die belang van geleerdheid besef. Daarom het hy destyds grond gehuur by die kaasfabriek en met beeste geboer om sy kinders se studies te finansier. Vandag is Curren ’n elektriese ingenieur, die derde trustee van Jakes Gerwel Tegnies en voorsitter van hulle dissiplinêre komitee – streng, maar met ongelooflik baie genade.

“Curren staan eenvoudig op ander voete wat kontak met die kinders betref,” sê Philip. “Hy is ’n skitterende rolmodel. ’n Geestelike mentor. Dit is vir ons baie belangrik. Hierdie is kinders sonder boundaries. Die omvang van gebrokenheid in die gemeenskap is moeilik om te verduidelik. Vergeet van ’n quick fix. Dit is ’n generasie-ding. Dit vra natuurlik ongelooflik baie van die skoolhoof en personeel. Hulle is karakterbouers. Ons wil regtig die identiteit, die eiewaarde van kinders aanraak.” 

“I don’t just see a community being healed, I see a country being healed,” sê Suzanne Smith, die lewensoriëntering-onderwyser.

“Die gemeenskap van Bonnievale het bykans 60 miljoen rand bygedra tot die skool se kostes,” vertel Wilhelm. “Ons het gewoon vir mense gevra: Wat is in jou hand? En hulle het vrymoedig begin gee.”

Drie van die sleutelfigure in die verhaal van Jakes Gerwel Tegnies, by van die bouwerk wat nog aan die gang is. Van links staan Philip Jonker, Wilhelm de Wet en Curren Kühn. Foto verskaf

Dit wissel van groot donasies tot gratis dienste wat enorme bedrae beloop. Die rugbyspan kon byvoorbeeld nie geld gee nie, maar hulle het die wingerd kom uithaal. By die twee plaaslike supermarkte, Spar en Multi Save, kon mense bakstene koop teen R2,50.

Nadat die gemeenskap só 60% van die fondse gegenereer het, het die regering die ontbrekende 40% aangevul. Die Wes-Kaapse Minister van Opvoeding, Debbie Schäfer, is “oorweldig om te sien wat gebeur wanneer ’n gemeenskap so hande vat met die regering. En die manier waarop dit eenheid in ’n voorheen verdeelde gemeenskap gebring het, is merkwaardig.” Die feit dat die skool op tegniese vaardighede sowel as akademie klem lê, maak dat sy dit ’n “miracle school” noem.

Want Jakes Gerwel Tegnies se kurrikulum kan kinders hoofstroom-universiteit toe vat. Maar hulle het ook ’n vaardigheidsbeen – wat op tegniese bekwaamheid fokus: Voedselverwerking, elektriese bedrading, loodgietery, sweiswerk … Die kinders gaan “shadow” by besighede – by die kaasfabriek, by Langeberg-inmaakfabriek op Ashton. Sommer vir twee weke, elke af en toe. Die blootstelling aan die werkplek versterk hulle selfvertroue en selfdissipline. Selfwaarde ook. En hoop, energie en dryfkrag.

’n Lewe met blink oë

“Onthou,” sê Wilhelm, “statistiek wys dat slegs een uit elke vyf mense in die Langeberg-streek matriek het. Ons kinders bestaan dus meesal maar net – sonder visie, opsies of eiewaarde.”

Baie kinders word in die omgewing groot, bruisend met energie en sporttalent, maar sonder geriewe om aan georganiseerde sport deel te neem. Op die agtergrond is die grondverskuiwingsmasjiene besig om berge te verskuif om drie sportvelde by Jakes Gerwel Tegnies te skep om dié leemte te vul.
Foto verskaf

“Jy sien nog die kleintjies – so tot op vyf jaar – met blink ogies en glimlagte,” vul Philip aan. “En dan, soos hulle ouer word, skop die begrip van die werklikheid wreed in: Ek is die produk van my omstandighede. En jy sien hoe hulle begin glo hulle is niks werd nie.”

Daarom is Jakes Gerwel, as rolmodel, so belangrik. Sy innerlike sterkte en karakter het gemaak dat hy uitgekom het waar hy uitgekom het. Hy was bereid om oor grense te tree ter wille van versoening. Sy seun, Hein Gerwel, beaam: “There is hope in South Africa. We all work together towards something positive.”

Die visarend op die skoolwapen is vir Philip ’n simbool van uitstyg, maak nie saak wat die omstandighede is nie.

“Jakes Gerwel was ’n nederige man wat ontsettend baie vermag het,” sê Jakes Gerwel Tegnies se skoolhoof, Albert Mocke. “Jakes was nie ’n boorling van Bonnievale nie. Hy kom uit die Oos-Kaap en was saam met Madiba ’n politieke gevangene op Robben-eiland. Philip het eendag die eiland gaan besoek en gesien die ou wingerdjie wat hulle daar het, lyk maar taamlik verlep en verwaarloos. Hy het ingespring met raad en hulp en die oes was beter. Van daardie oes het hy toe wyn gemaak en vir Madiba geneem. En daardeur het ’n vriendskap tussen hom en Jakes Gerwel ontstaan.

Baie van die kinders in die skool weet nie eens wie Jakes Gerwel was nie. Maar dís hoekom hulle hier is – om te leer. Van verhoudings en karakter en die impak wat mense en kennis op ’n lewe kan hê. Ons het twee onderwysers wat uitsluitlik as karakter-bouers aangestel is.”

Meneer Mocke noem Jakes Gerwel Tegnies ’n entrepreneurskool. ’n Nuwe model, ’n nuwe versnit van akademie en tegniek; ’n nuwe samewerking tussen die staat en die privaatsektor. Hulle is deel van die saamwerk-skoleprogram in die Wes-Kaap. ’n Voldag-, “no fee”-skool met ’n voedingskema.

Hy vertel van ’n seun wat gesê het: “Ek wil na hierdie skool toe kom, want ek wil ’n verskil maak.” Presies soos hyself ook gevoel het: Die dag van sy onderhoud, was die fondasies nog nie eens gegrawe nie. Maar hy het sy werk in Bloemfontein bedank en Bonnievale toe geskuif om letterlik pa-wees te modelleer vir honderde kinders.

“Nehemia is ons rolmodel,” verduidelik Wilhelm. “Toe hy die mure van Jerusalem herbou het, kon mense weer glo die Here het ons nie vergeet nie. In Bonnievale het God meer as net ’n skool kom bou. Hy bou mense; verander harte.”

Drie jongmanne. En hulle oupas, hulle pa’s; hulle vrouens; hulle jong gesinne; vriende; en die res van die gemeenskap wat bereid is om te commit; en die regering wat sê kom ons help julle. En hulle God. Van bo-op die rant gooi Happy Valley se mense nou hulle gelukkige klanke oor die land uit, en roep na elke dorp toe: Julle kan, julle moet dit ook doen! Breytenbach se woorde is nou nóg meer gepas:

my grootvader se heerlike stof lê warm in die heuwels
God sit en droom in ’n mikboom met bril en boek en ’n beker
koffie Hy kyk oor sy handmerke oor die boorde
die waterlope die varingtuine die muildiere die wolke
die stof en van pure blydskap knip Hy sy oë

Kontak Philip Jonker by info@jgeskool.co.za of 084 588 6540 vir meer inligting.

The post ‘Nehemia is ons rolmodel’ appeared first on e•Kerkbode.