’n Volheid wat alle verstand te bowe gaan

http://kerkbode.christians.co.za/2018/08/06/n-volheid-wat-alle-verstand-te-bowe-gaan/

Die uitstalkamer met Malevich se Swart Vierhoek in die posisie wat normaalweg vir ’n ikoon gereserveer word – daar waar twee mure en die plafon ontmoet.

Daar is ’n groot deel van die meer abstrakte kuns van die laaste eeu wat geworstel het met die vraag oor hoe die werklikheid visueel voor­gestel kan word. In die geval van kunswerke wat op een of ander wyse as religieuse kuns beskryf kan word, het hierdie vraagstelling veral gefokus op die voorstelbaarheid van die transendente werklikheid van geloof en die ervaring van die goddelike.

Waarskynlik die mees ekstreme voorbeeld van ’n poging in hierdie verband is die skildery Swart Vierhoek van die Pools-Russiese kunstenaar Kazimir Malevich (1879-1935). Die skildery wat in 1915 geskep is en aanvanklik as Swart Kwadrilateraal bekend gestaan het, bestaan uit die suiwer abstrakte vorm van ’n swart vierkant op ’n wit agtergrond.

Hoewel die kunswerk nie op die eerste oogopslag die indruk wek dat dit ’n religieuse werk is nie, het die wyse waarop dit die heel eerste maal tydens ’n uitstalling in St Petersburg ten toon gestel is, die skilder se bedoeling dat dit só verstaan moet word, duidelik oorgedra. Dit is naamlik in die posisie geplaas waar die mees heilige ikoon in ’n Ortodokse huis normaalweg vertoon sou word: in die sogenaamde “rooi hoek” waar twee van die mure en die plafon mekaar ontmoet.

Hierdie plasing met die geïmpliseerde aanduiding dat dit as ’n ikoon beskou moet word, het tot radikaal uiteenlopende reaksies aanleiding gegee. Die totale ab­straktheid en leegheid van die werk het volgens som­mige kritici gedui op die negering of nietigverkla­ring van die Christelike ikoniese tradisie. ’n Tydgenoot van Malevich wat ook die uitstalling bygewoon het, het hom soos volg uitgelaat:

“Everything that we hold sacred and holy, everything that we loved and lived for has vanished … this is one of those acts of self-assertion that … reduces all to ruin.”

Vanuit hierdie afwysende perspektief is die skildery beskou as ’n uitdrukking van nihilisme, ’n ikoon van die dood van God, ’n voorbeeld van modernistiese hubris en ’n bespotting van die Christelike geloof. Die afwesigheid van enige kleur of enige herkenbare gestalte is gesien as bevestiging dat die werk (en ander soortgelyke abstrakte kunswerke) ’n lewensuitkyk van sin- en betekenisloosheid verteenwoordig.

Kazimir Male­vich se Swart Vierhoek.

Malevich het homself en sy benadering tot die kuns, en in besonder hierdie spesifieke kunswerk, uitvoerig teen hierdie soort kritiek verweer. In ’n omvattende essay het hy die Swart Vierhoek beskryf as ’n “embrio van alle moontlikhede” onder meer omdat die kleur swart potensieel alle ander kleure en die vormloosheid potensieel alle moontlike vorme omvat.

Hy wys daarop dat ’n kunswerk soos hierdie nie bedoel is as ’n ontkenning van die transendente en die bestaan van God nie, maar as ’n uitdrukking van die onuitspreekbaarheid van die transendente en die menslike onvermoë om in gewone redelike kategorieë oor die werklikheid van God te praat. In dié verband maak hy gebruik van die konsep “zaum” wat ’n same­stelling van twee Russiese woorde is, en wat letterlik beteken “aan die ander kant van rede”. Daarmee word bedoel ’n soort taal- of uitdrukkingsvermoë wat verby die grense van die gewone rasionele kategorieë beweeg om juis uitdrukking te gee aan dit wat hoër en dieper as gewone logiese formulering is.

Volgens Malevich was die funksie van kuns juis om die bewussyn te wek dat normale kommunikasie slegs “a conduit for the infinite ocean of knowledge and power that lies beyound mankind” is. Hy beskryf dan ook sy kunsfilosofie as “the pursuit of something more subtle than thought, something more light and more flexible. To express this in words is not merely false, but quite impossible.” Die implikasie hiervan vir sy werk as kuns­tenaar was ’n onverbiddelike strewe na objekloosheid.

In taal wat herinner aan die asketiese mistiek van die vroegkerklike woestynvaders, verwys hy na die objekloosheid van sy skilderye as ’n woestyn waarin hy soos ’n pelgrim rondbeweeg op soek na suiwering. Sy voorneme is “to muster the strength to go further and further into the empty wilderness. For it is only there that the transformation can take place.” Dit is egter ’n uitdagende proses, want: ” the ascent to the heights of non-objective art is arduous and painful … The familiar recedes even further and further into the background … No more ‘likenesses of reality’, no idealistic images – nothing but a desert! But this desert is filled with the spirit of non-objective sensation that pervades everything.”

Hiermee bevind Malevich hom volledig binne die tradisie van die apofatiese teologie – ’n teologiese benadering waarna daar reeds in ’n vorige artikel verwys is en waar daar gefokus word op die absolute “Andersheid” van God en waar die moontlikheid om by wyse van verbale, visuele of konsepsuele vorme uit­druk­king aan hierdie Andersheid te gee genegeer word. God self word nie in die proses genegeer nie, maar erkenning word gegee aan die problematiese aard van enige poging om God met menslike woorde of denke tot ’n hanteerbare objek te reduseer.

Ten nouste verwant aan hierdie denke is die Bybelse verwysing na God wat ontoeganklike lig bewoon: Die lig verberg die werklikheid van God, sonder om dit te negeer. En in die lig is daar nie niks nie, maar die Volheid wat alle verstand te bowe gaan.

▶Dr André Bartlett is die hoof van Excelsus, die NG Kerk se sentrum vir bedienings­ont­wikkeling aan die Universiteit van Pretoria.