’n Stuiwer

http://kerkbode.christians.co.za/2018/11/08/n-stuiwer/

Arnold Lamont skryf:

Wat weet ons van die oorsake van homoseksualiteit? Voor post-modernisme het ons geleer en kennis geskep deur waar te neem en te dink – dus deur navorsing.   Die “Nature vs Nurture” klem kloof die onderwerp oop.

Daar is baie navorsing oor “Nature”. Hierdie navorsing kry befondsing, steun, eweknie evaluerings (want eweknieë is bereid is om hul naam onderaan te teken vir biologiese navorsing), publikasies en aansien. Nogtans is die resultate onoortuigend.

Slegs navorsing op biologiese vlak kry egter deesdae befondsing. Alhoewel die debat duidelik skarnier op “Nature vs Nurture” het haatspraakwetgewing en druk tot politieke korrektheid in Amerika en die Weste die geleentheid vir navorsing oor die rol van die omgewing (Nurture) effektief verwurg. Geen befondsing is beskikbaar nie. Geen akademiese tydskrifte sal waag om sulke navorsing te publiseer nie en te min eweknieë is bereid om sulke navorsing te evalueer. Dit lyk asof homoseksualiteit verwyder is van die DSM uit politieke druk en nie oor navorsing nie. Hierdie gebrek aan publikasies hou nie verband met swak navorsing nie, maar eerder as onpopulêre navorsing wat teen die prikkels van die tydsgees skop.

In Suid Afrika is die haatspraakwetgewing sterk op pad parlement toe wat hierdie Kerbode-debat gou stop kan sit.

Wanneer ons praat van “omgewing” bedoel ons eintlik die omgewing van “ander mense”. Die bevolking is breedweg verdeel is in 3% gay mense en 97% heteroseksuele mense, en ons het navorsing nodig oor die invloed van heteroseksuele mense op die vroeë en kinderjare koestering van volwasse gay mense.  

As die “straight” gemeenskap ʼn beduidende rol speel in die verwonding van ons sensitiewe, intelligente, kreatiewe en komplekse kinders, en as daardie wond partykeer manifesteer as “gay”, dan lê die antwoord glad nie in die blote “normalisering” en seëning van gay gedrag nie? Hoe is dit liefdevol? Watter verbetering en gedragsaanpassing bring dit dan by die 97% “straights”? Hoe kan ons dan uitvind watter sondes ons so onopsigtelik (dog verbete) pleeg dat ons mees sensitiewe, intelligente kinders daardeur verwond en verinneweer word? Hoe kan ons gehelp word om om met nuwe oë te sien?

Ons het navorsing nodig! Daar is navorsing gedoen, maar nie genoeg nie. Marcel Vosloo het al verwys na ’n paar bronne.

Die Kerkbode-debat gaan hoofsaaklik oor die 2015- vs die 2016-sinodalebesluite. Ek stel dit dat die parameters die gesprek onmoontlik maak. Dit is ʼn wen/verloorsituasie.

Die gesprek behoort te gaan oor Jesus wat vir ons wink en ek wat op my onbeholpe en gebroke manier toegee aan daardie wink. Dit moet gaan oor my eie sonde wat aan die lig kom namate ek nader aan Christus beweeg. Die gesprek moet ook gaan oor die ander mense wat saam met my die wink van Christus ervaar. Hoe moet ek hul liefhê en hoe moet ek myself en God liefhê.   Want Jesus kniel by elkeen van ons, skryf in die sand en sê vir my: “Gaan en sondig nie meer.” Van watter sonde praat Hy?