’n Oerkreet van angs en protes

http://kerkbode.christians.co.za/2018/06/05/n-oerkreet-van-angs-en-protes/

Waarskynlik een van die mees bekende (’n gerekende kunskritikus meen, naas die Mona Lisa van Leonardo da Vinci, dié bekendste) skilderye in die Westerse kunskanon is Die kreet van die Noorweegse skilder Edvard Munch (1863-1944).

Die werk, wat reeds in 1893 geskilder is, is nie net besonder treffend nie, maar word ook beskou as die voorloper van ’n nuwe kunsrigting, die Ekspressio­nisme, wat daardeur gekenmerk word dat die kunswerk uitdrukking (“ekspressie”) gee aan die diepste innerlike belewenisse en gevoelens van die kunstenaar.

Edvard Munch se skildery Die kreet.

Die skildery bied ’n uitbeelding van drie persone op ’n pier by ’n rivier of meer. Die sentrale figuur op die voorgrond word uitgebeeld as ’n persoon wie se gesig in ’n angskreet vertrek is en wat die geluid van die kreet (of dit wat aanleiding gee tot die kreet) met sy/haar hande oor die ore probeer uitdoof.

Die twee figure op die agtergrond stap weg van die kyker af, klaarblyklik onbewus of ongestoord deur die angstoestand van die skreeuende figuur op die voorgrond. Die gebeure wat hier uitgebeeld word, speel af onder ’n hemelruim wat op onheilspellende wyse deur die skakerings van ’n sonsondergang verkleur word.

Die aanleiding tot die skildery word soos volg deur Munch self beskryf: “I was walking down the road with two friends when the sun set; suddenly the sky turned as red as blood. I stopped and leaned against the fence, feeling unspeakably tired. Tongues of fire and blood stretched over the bluish black fjord. My friends went on walking, while I lagged behind, shivering with fear. Then I heard the enormous infinite scream of nature.”

Oor wat presies hierdie “scream of nature” was wat aanleiding gegee het tot die kunstenaar se emosionele ontsteltenis en wat in die kreet van die skreeuende figuur tot uitdrukking gebring is, is daar heelwat bespiegeling. Sommige kunshistorici bring dit in verband met Munch se eie lewenslange worsteling met depressie, terwyl ander meen dat dit verband hou óf met die slagpale in die onmiddellike omgewing van die pier waar die kunstenaar en sy twee vriende hulle bevind het, óf met die inrigting vir geestesversteurdes daar naby waar Munch se suster op daardie stadium behandeling ondergaan het.

Wat ook al die direkte aanleiding vir die kunswerk was, die werklikheid is dat dit sedert dit in 1893 geskilder is, mense op ’n baie diep vlak aangespreek het en feitlik ikoniese status verwerf het. Waarskynlik het dit deels daarmee te doen dat dit die tydsgees van die laat 19de en vroeë 20ste eeu op ’n betekenisvolle wyse verwoord het. Dit was veral in Europa ’n tyd van groot onsekerheid wat die resultaat was van die feit dat ou geloofsekerhede – onder andere ook die bestaan van God – op aandrang van wetenskaplike en tegnologiese vooruitgang diepgrondig bevraagteken is. 

Hierdie gemoedstemming en die gevoel van ontreddering wat wesenlik deel daarvan uitmaak, is jare later deur die Franse filosoof Jean Paul Sartre soos volg verwoord: “Indeed, everything is permissible if God does not exist, and as a result man is forlorn, because neither within him nor without does he find anything to cling to.”

By iemand soos Munch wat in ’n tradisioneel godsdienstige huis grootgeword het, maar as jongman in die intellektuele en kunstenaarskringe waarin hy beweeg het, blootgestel is aan idees wat sy geloofsoortuigings onder geweldige druk geplaas het, moes dit aanleiding gee tot ernstige innerlike spanning en konflik.

Die kreet van die figuur in die skildery gee op uitnemende wyse uitdrukking aan hierdie gevoel van Godverlatenheid wat op ’n manier ook weerklank vind in die kreet van Christus toe Hy aan die kruis uitgeroep het: “My God, my God, waarom het U My verlaat?”

Hoewel die skildery van Munch nie in die eerste plek bedoel is as ’n religieuse werk nie, kan dit dus in verband gebring word met van die basiese temas in die Christelike geloof, veral met die idee dat ’n bestaan sonder God as verlorenheid beskryf kan word, en dat dit veral in ’n tyd van krisis en lyding kan lei tot ’n belewenis van hopeloosheid en magteloosheid.

Myns insiens kan die geweldige impak van hierdie skildery ook toegeskryf word aan die moderne mense se ervaring van die groot krisisgebeure van die 20ste en 21ste eeu. Dis asof die oerkreet van angs en verskrikking telkens weer ’n skreiende reaksie  word op die gruwels waaraan mense in die laaste eeu blootgestel is: die massa-slagting van twee wêreldoorloë, Auschwitz, Hirosjima, Sharpeville, die Twin Towers in New York, Gasa …

Ook dít is in ooreenstemming met die lyn van profetiese protes in die Bybel wat herhaaldelik opklink in die noodkreet: “Hoe lank nog, Here!”

So kan Munch se kreet ook die kreet van gelowiges word wat hulleself in die naam van God verset teen elke skending van die Godgegewe visie van vrede, geregtigheid en menswaardigheid in ons wêreld en in ons tyd.

The post ’n Oerkreet van angs en protes appeared first on e•Kerkbode.