’n Eiesoortige Protestantse kunstradisie

http://kerkbode.christians.co.za/2017/11/09/n-eiesoortige-protestantse-kunstradisie/

In die klein Duitse stadjie Wittenberg is daar twee kerke wat albei bekendheid verwerf het vanweë hul verbintenis met Martin Luther. Die mees be­roemde van die twee is die sogenaamde slotkerk wat in die tyd van Luther deel van die kasteel van keurvors Frederik die Wyse van Sakse gevorm het en waar Luther volgens (betwyfelde) oorlewering op 31 Oktober 1517 sy 95 stellinge teen die kerkdeur vasgespyker het.

Minder bekend is die sogenaamde stadskerk wat die eintlike gemeentekerk van Wittenberg is en waar Luther ook gereeld as prediker opgetree het. Die noue band wat hierdie kerk met Luther gehad het, vind ver­al uitdrukking in die beroemde Reformasie-altaarstuk, wat die werk is van die tydgenoot en persoonlike vriend van Luther, Lucas Cranach die ouere (1472-1553), met medewerking van sy seun, Lucas Cranach die jongere (1515-1586).

Cranach die ouere het sy loopbaan as kunstenaar begin met werke in die hoog-Katolieke styl van die laat-Middeleeue, maar onder die invloed van die Kerk­hervorming oorgeslaan na ’n meer eenvoudige styl waarmee hy uitdrukking wou gee aan ’n sobere ge­loofsperspektief met ’n fokus op die sentrale waarhede van die evangelie.

Hoewel Cranach veral as kunstenaar bekendheid ver­werf het, was hy ’n tipiese voorbeeld van die opkomende burgerstand in die tyd van die Reformasie. Hy was nie net hofskilder vir Frederik die Wyse nie, maar ook ’n sakeman wat ’n apteek (met ’n dranklisensie!) en ’n drukpers bedryf het. Hy was daarbenewens ook lid van die stadsraad van Wittenberg en verskeie kere die burgemeester van die stad. As vriend was hy in­stru­menteel om Luther aan Katharina von Bora voor te stel en was hy ook een van die getuies by hulle hu­weliksluiting in 1525 en ook die peetpa van een van hulle kinders.

As kunstenaar het hy naas sy religieuse kunswerke ook talryke portretstudies geproduseer, ondere andere portrette van Luther, keurvors Frederik en die (Katolieke) keiser Karel die Vyfde. Hierbenewens het hy ook die houtsneedrukwerke geskep wat gebruik is as illu­strasies in die eerste uitgawe van Luther se vertaling van die Bybel in Duits.

Die altaarstuk in die stadskerk wat in 1547 voltooi is en sedertdien die sentrale plek in die liturgiese ruimte beklee, is in die tipiese Middeleeuse formaat van die triptiek (of drieluik) met ’n sentrale paneel en twee sypanele. Aan die onderkant is ’n sogenaamde predella (letterlik ’n “voetstuk”) wat die gebruiklike benaming is vir die kunswerk waarmee ’n altaarstuk afgerond word.

In die sentrale paneel van die drieluik/triptiek word die laaste maaltyd van Jesus en sy dissipels uitgebeeld. Anders as in die hoogs gestileerde en geritualiseerde weergawes van hierdie toneel in die Katolieke kuns­tradisie van die tyd word die gewone maaltyd- en ge­meen­skapskarakter van die gebeurtenis beklemtoon. Op die tafel is daar nie net brood nie, maar ook be­kers waaruit daar gedrink word, en ’n heel lam wat aan die spit gebraai is.

Jesus neem nie die sentrale posisie in die middel van die tafel in nie, maar sit aan die linkerkant as vriend tussen vriende. Nie hy of die dissipels word met stralekranse uitgebeeld soos dit gebruiklik in Katolieke kunswerke is nie, en die dissipels is gemodelleer op leidsliede van die Hervorming in Wittenberg. Luther self figureer aan die regterkant as die bebaarde figuur vir wie daar ’n beker aangegee word.

In die linkerkantse paneel word die gemeente rond­om ’n groot doopvont uitgebeeld met Luther se mede­wer­ker, Philip Melanchton, besig om ’n kind te doop. In die regterkantse word die openbare skuldbelydenis (die Protestantse teenhanger van die Katolieke bieg) uit­ge­beeld met die plaaslike leraar van Wittenberg, Johan­nes Bugenhagen, as die “sleuteldraer” wat die God­delike ver­giffenis vir die boetelinge ontsluit. Die klem in albei die panele (soos ook in die sen­trale nag­maal­toneel) is op die plaaslike gemeente as die plek waar die gena­de­middele tot die be­skikking van gewone mense gestel word en waar Christus gemeenskap beoefen met sy gelowige volgelinge.

In die predella aan die onderkant sien ons aan die regterkant ’n uitbeelding van Luther in die preekstoel besig om te preek, met die gemeente wat met aandag luister aan die linkerkant. Luther se een hand rus op ’n oop Bybel wat die sola Scriptura– (die Skrif alleen) beginsel van die Reformasie beklemtoon, terwyl hy met sy ander hand na die sentrale Christusfiguur wys – ’n uitdrukking van die solus Christus- (Christus alleen) beginsel. Christus word enersyds uitgebeeld as die gekruisigde, maar andersyds ook as die opgestane Heer wat besig is om die grafdoeke van Hom af te werp.

’n Mens sou waarskynlik ’n saak kon uitmaak dat Cranach sr die een persoon is wat (onder andere met sy Reformasie-altaarstuk) die grootste bydrae gelewer het om die sterk weerstand teen religieuse kuns in die vroeë Reformasietyd te versag en om te verseker dat daar veral in die Lutherse wêreld (meer as in die Gereformeerde wêreld onder in­vloed van Calvyn) uit die staanspoor ’n eie­soor­tige kunstradisie ontwikkel het.

The post ’n Eiesoortige Protestantse kunstradisie appeared first on e•Kerkbode.