Missionaliteit is meer

http://kerkbode.christians.co.za/2018/09/10/missionaliteit-is-meer/

Ons praat in ons tyd graag van “missionale kerkwees”. Enersyds is dit ’n gesonde reg­stelling. Dat ons as kerk deel van God se sen­ding na die wêreld is, ontbreek immers in ons belydenisse – met Belhar as ’n uitsondering. Ons gestuurdheid word ook nie beskou as een van die drie kenmerke of van die vier eienskappe van die kerk nie terwyl Jesus Christus ons juis roep om lig en sout in die wêreld te wees.

Om van “missionale kerkwees” te praat, kan ons help om hierdie wesenlike dimensie van kerkwees weer behoorlik te respekteer. Byna soos in belydenis­vorming word een aspek ter wille van die ge­loof­waardigheid van die evangelie en die regstelling van ons diepste identiteit beklemtoon.

Andersyds dra die uitdrukking “missionale kerkwees” die kiem van verskraling. ’n Belydenissituasie is soos die nies van ’n kerk, het David Bosch verduidelik. Die liggaam moet van onsuiwerhede ontslae raak maar as die liggaam met die drukking, waarmee ’n nies gepaardgaan, sou volhou, is dit dodelik.

’n Mens sou byvoorbeeld simpatiek kan wees dat in ’n volkskerksituasie sommige begin praat het van “wedergebore Christen” of “ware Christene”. Woorde onderskei egter nie net nie maar gereelde gebruik skep ook. Die soort byvoeglike naamwoorde het gevolglik die dwaling van twee klasse Christene bevorder.

Die persepsie bestaan dat missionale kerkwees op barmhartigheid fokus wat veral deur gemeente­projekte gedoen word. Dit word die toetssteen vir ware kerkwees. By ringsittings word gevra: “Versorg julle gemeente al ’n kleuterskool of plakkers­kamp?” Ongelukkig is daar geen navrae oor lidmate as leiers van maatskappye se roeping of oor hoe ons sosiale geregtigheid kweek nie.

Barmhartigheid is beslis ’n Bybelse opdrag maar wanneer ons die opdragte oor geregtigheid vermy, word barmhartigheid die regverdiging vir ’n ernstige verskraling. Soos ons vroeër met ’n sendingbewussyn probeer kompenseer het vir die gebrek aan ’n behoorlike Bybelse kerkbegrip en deur koninkryksbelange ons volksbelange probeer vermom het.

Ongelukkig lyk dit nie of ons uit ons veelbewoë geskiedenis leer nie. Is ons onderontwikkelde sin vir geregtigheid deel van ons DNS? Onlangs is twee keer besluit om nie eens ’n ruimte te gun aan NG Kerklidmate en -kerkrade wat ’n geregtigheidsywer vir die Belharbelydenis en vir lidmate met selfdegeslagverhoudinge het nie.

Sendingwetenskaplikes Hans-Werner Gensichen en David Bosch help ons met die formule: “Alles in die kerk het ’n sendingdimensie maar nie ’n sendingintensie nie.” Hierdie onderskeiding is gegrond op vroeë gemeentes se werkswyse wat eerder missionarisch (boodskap deur aanvaarding en voorbeeld) as missionerend (eksplisiete verkondiging) bestempel word.

Dit is goed wanneer dominees en lidmate opspraakwekkende barmhartigheidsprojekte aanpak. Gelowiges wat hulle egter beywer vir billike hofbeslissinge, veilige brûe, aanbidding in die ere­diens, versorging van bejaardes, vorming van kinders se geloof (en wiskunde), natuurbewaring én – terwyl hulle saam met CEO’s golf speel – oor die beste praktyke van onderwys-ondersteuning wonder, is beslis nie missionaal-apaties en tweede­klas-Chris­tene nie!

▶Dr André van Niekerk is predikant van die NG gemeente Waterkloof.