Meeste Europeërs noem hulself ‘Christene’

http://kerkbode.christians.co.za/2018/07/09/meeste-europeers-noem-hulself-christene/

Ofskoon Europeërs steeds minder kerk toe gaan, beskryf ’n groot meerderheid hulleself steeds as Christene.

Dít is die sentrale gevolgtrekking van ’n omvattende peiling wat die gesaghebbende Amerikaanse Pew-Navorsingsinstituut gedoen het. Altesame 24 000 mense is tussen April en Augustus 2017 oor hul religieuse oortuigings uitgevra, en die verslag met die resultate is pas bekend gemaak.

Vir die doeleindes van die studie is die Europeërs in drie groepe ingedeel: praktiserende Christene wat gereeld die kerk besoek, nie-praktiserende Christene wat net twee of drie keer per jaar ’n erediens bywoon (meestal met Kersfees of Pase), en diegene wat geen godsdiens aanhang nie.

Dit blyk dat kerkbesoek in tradisioneel protestantse lande veel minder is as dié in Katolieke lande. In Italië gaan 40% van die mense gereeld kerk toe, in Finland en Swede slegs 9%. In Nederland is dit 15%, maar in Duitsland is dit nog 22%.

Waar 27% van die Europese bevolking in God glo soos Hy in die Bybel beskryf word, meen 38% hulle glo wel in ’n “hoër spirituele mag”, ’n soort God, maar nie soos die Bybel Hom uitbeeld nie.

As dit gaan oor wetenskap en geloof, is daar ’n yslike kloof. By ongelowiges stem 63% saam met die stelling dat “die wetenskap geloof onnodig in my lewe maak”. By praktiserende Christene daal dit tot 17% en tot 27% by nie-praktiserende Christene.

’n Interessante gevolgtrekking is dat mense se religieuse oortuiging geen dramatiese invloed het op hul houding rakende die Islam nie. Dis uiters aktueel op die oomblik, gesien die stroom vlugtelinge wat die laaste jare uit die Midde-Ooste op Europa toegesak het.

Altesame 40% van die praktiserende en 37% van die nie-praktiserende Christene meen immigrasie uit die Midde-Ooste moet beperk word. Onder ongelowiges is dit minder, te wete 28%.

In totaal 49% van die praktiserende en 45% van die nie-praktiserende Christene (en 32% van die ongelowiges) sê die waardes van die Christendom is onversoenbaar met dié van die Islam.

Verrassend is die bevinding dat die korrelasie tussen geloof en die sterkte waarmee mense hul etniese identiteit beleef maar taamlik effens is. By 42% van die ongelowiges kon ’n sterk etniese identiteit waargeneem word; by praktiserende en nie-praktiserende Christene was dit 52% en 53% onderskeidelik.

’n Stelling is aan die ondervraagdes voorgehou: “Ons mense is nie perfek nie, maar ons kultuur is meerderwaardig teenoor ander.” Van die praktiserende Christene het 54% en die nie-praktiserendes het 48% saamgestem. By die ongelowiges het dit gesak tot 25%.

’n Duidelike verskil kon wel gesien word betreffende die wettiging van homoseksuele huwelike en aborsie. Waar 58% van die kerkgaande gelowiges vír die wettiging van gay-huwelike en 52% vír die toelating van aborsie in sekere omstandighede was, was die persentasies onder nie-kerkgaande Christene 85 en 80. Onder ongelowiges was dit nóg hoër, te wete 87 in albei gevalle.

Nog ’n veld waar die verskil duidelik is, is die vraag of die staat Christelike waardes aktief moet steun. Praktiserende en nie-praktiserende Christene (35% en 36%) stem saam dat dit moet gebeur, maar net 18% van die ongelowiges stem saam.