Martin Luther – held of skurk?

http://kerkbode.christians.co.za/2017/12/06/martin-luther-held-skurk/

Martin Luther

Martin Luther is nie meer ongekwalifiseerd die geloofs­held van vroeër nie, het FRANCOIS WESSELS gesê in die WD Jonker-gedenklesing wat hy op die Hervorming se 500ste verjaarsdag in Kaapstad gelewer het. Hieronder gee hy sy argument kortliks weer.


In Desember 2015 berig Newsweek dat die speelgoed-vervaardiger Playmobil in Duitsland pas ’n nuwe speelgoed-figuurtjie op die mark geplaas het wat alle vorige verkoperekords gebreek het. Binne die eerste 72 uur is daar 34 000 van hierdie figuurtjies in Europa verkoop, en die aanvraag groei by die dag. Die figuurtjie? Martin Luther – ’n blitsverkoper in Europa, in Duitsland 2015 weer ’n held.

Tog is daar twee redes waarom daar deesdae vraag­tekens geplaas word oor Luther se status as held.

Luther se anti-Semitisme

Die eerste is ’n dieper besef van die omvang en veral die gevolge van Luther se anti-Semitisme. Hoewel Luther se anti-Semitisme al lank bekend is, is daar ’n groei­en­de besef van die omvang daarvan. Luther se vier geskrifte oor die Jode vertel die storie.

In sy eerste geskrif, gepubliseer in 1523, wil Luther die punt maak: “Dat Jesus ’n gebore Jood was” – en dit word die geskrif se naam. Luther is optimisties dat, as Jode net sou besef dat Jesus ’n gebore Jood was, hulle in Hom sou glo.

Toe dit nie gebeur nie, verander Luther se houding radikaal. In 1538 skryf Luther “Teen die Sabbatariërs”, waarin hy Christene teen die Jode waarsku. Hy stel nie meer belang om die evangelie aan Jode te bring nie – wat wel gekeer moet word, is dat Christene Jode sou word. Sy uitkyk is nou negatief, sy strategie is verdedigend, sy doelwit is behoudend eerder as missionêr.

Sy ergste anti-Joodse geskrif, “Oor die Jode en hulle leuens”, verskyn in 1543. Wat Luther hierin skryf, is gewoon haatspraak: Jode moet gestraf word, “sodat almal kan sien hoe God sy toorn uitstort op diegene wat sy genade verwerp. Joodse skole moet afgebrand word, hulle huise moet afgebreek word, hulle gebede­boeke moet gekonfiskeer word, hulle sinagoges moet afgebrand word”.

In dieselfde jaar beskryf Luther entoesiasties die buitemuur van sy beroemde Wittenbergse Stadskerk. Daarop is ’n klip-reliëf, waarvan Luther opgewonde vertel dat hy die reliëf vir die voorblad vir sy “Oor die Jode en hulle leuens” gaan gebruik: “Hier op ons kerkmuur in Wittenberg is ’n vark in klip uitgebeitel. Jong varkies en Jode suig aan die varksog. Agter die sog sit ’n rabbi. Hy lig haar stert op en kyk in haar Talmoed in, asof hy daarin iets besonders lees.”

Hierdie klipreliëf waaroor Luther so opgewonde was, is steeds deel van die beroemde Wittenbergse Stads­kerk. Die Messiaanse Jood Richard Harvey het ’n veldtog aanlyn begin om die “Jodesog”-reliëf van die kerkmuur te verwyder en in ’n museum te bewaar. Vir Harvey is dit ’n belangrike saak. “Solank die Jodesog-reliëf aan die muur van die Wittenberg-Stadtkirche is, sal ek nie in die kerk kan aanbid nie – en ook geen ander Jood nie.”

’n Mens wens dat hierdie opmerkings van Luther in die vergetelheid weggeraak het. Ongelukkig nie. Luther se haatspraak het vir die volgende vier eeue die ver­­skuilde anti-Semitisme in die Europese kultuur ge­voed en gelegitimeer, en uit­einde­­lik is Luther se ergste anti-Joodse geskrif, “Oor die Jode en hulle leuens”, in 1943 – presies 400 jaar nadat Luther dit in 1543 ge­skryf het – met groot sukses deur die Nazi’s herdruk en versprei. Om hulle uitwissing van Jode goed te praat.

Verskraling van die evange­lie

Die tweede rede waarom Luther nie meer vir almal die groot held van die Hervorming is nie, is omdat baie Nu­we-Testamentiese geleerdes oortuig is dat Luther se interpretasie van Paulus in belangrike opsigte ’n ver­skraling van die apostel se evangelie is.

Hulle argumen­teer dat Luther ’n fout gemaak het om Paulus se briewe te interpreteer asof sy teenstan­ders dieselfde teologie gehad het as sy Katolieke teen­stan­ders. Met ander woorde, wanneer Luther Paulus se briewe lees, interpreteer hy dit asof Paulus se teen­stan­ders dieselfde werkgeregtigheid-godsdiens gehad het wat Luther se Katolieke teenstanders aangehang het.

Die gevolg is dat Luther wel die hart van Romeine hoof­stuk 1-5 verstaan het – maar dat hy so sterk fokus op Romeine 1-5 en die regverdigmaking van sondaars, dat hy ander belangrike aspekte van Paulus se boodskap verskraal.

Dit lei daartoe dat Luther die “geregtigheid” wat God aan die sondaar skenk, hoof­saaklik forensies verstaan – dit wil sê, in terme van skuldig of onskuldig voor die reg­bank – en dat veel minder klem daarop val dat ge­regverdigde sondaars ook regverdiger mense moet wees, en dat die Heilige Gees hulle juis hierin by­staan.

Die klem by Luther val so sterk op Romeine 1-5, dat lesers dikwels nie genoeg aandag aan Romeine 6-8 gee nie, waarin Paulus skryf oor die werk van God se Gees, waardeur gelowiges se “sterflike liggame lewend ge­maak word deur sy Gees wat in julle woon” (Rom 8:11).

Dieselfde gebeur in die Lutherse interpretasie van die sosiale impak van Paulus se bediening. Paulus se ver­maninge dat Joodse en nie-Joodse Christene op ’n sosiale vlak mekaar moet respekteer en aanvaar, word mis­gekyk as ’n toevallige vermaning – in plaas van ’n deel van Paulus se boodskap. En dieselfde met Paulus se klem daarop dat die verkondiging van die evangelie dikwels gepaard gaan met swaarkry en lyding. In die Lutherse tradisie word dit te maklik misgekyk as ’n ­toevallige deel van Paulus se bediening, in plaas van ’n in­herente deel van die goeie boodskap.

Was Luther ’n held, of ’n skurk? Hy was altwee – soos hyself gesê het: elke Christen is simul iustus et peccator – tegelyk ’n geregverdigde en ’n sondaar.

Dr Francois Wessels is ’n emeritusleraar van die NG Kerk en steeds betrokke by ’n bediening onder Jode.

The post Martin Luther – held of skurk? appeared first on e•Kerkbode.