Lig en genade by Ouma Lena se huis

http://kerkbode.christians.co.za/2018/11/06/lig-en-genade-by-ouma-lena-se-huis/

Twee studente van Suid-Kaap Kollege help die kleuters blokkies bou.

Buite Stilbaai is daar ’n huis op ’n heuweltjie in Melkhoutfontein. Ouma Lena se huis is ’n vangnet vir die kinders van die gemeenskap wat sosiale probleme soos werkloosheid en dwelmmisbruik daagliks moet trotseer. CONETTE LE ROUX het gaan kuier.


Moenie dink as jy in Stilbaai aftree jy gaan heeldag sit en rus nie. Jenny Olivier waarsku: “Hier tree jy af in Stilbaai en tree jy aan by Ouma Lena se huis.”

Jenny (65) is ’n vrywilliger en aan die stuur as koördineerder van Ouma Lena se huis, wat deel vorm van Badisa, in Melkhoutfontein buite Stilbaai. Wanneer jy op die bultjie van Freesialaan stop, sal jy nooit kan raai hoeveel hoop daar binne die mure van die huis gebring word nie.

Die idee van Ouma Lena se huis het jare gelede ontstaan toe Jenny gesien het hoe getraumatiseerde kinders in ’n kar sit nadat hulle ma hulle pa met ’n mes doodgesteek het. Hulle het nêrens gehad om heen te gaan nie, verduidelik Jenny.

’n Inwoner van Stilbaai, Lena Viljoen, het ’n huis in Melkhoutfontein besit wat sy destyds vir haar man se oppasser gekoop het. Sy het dit gratis beskikbaar gestel en selfs die aangrensende erf gekoop. Met donasies uit die gemeenskap kon hulle die huis vergroot.

Vandag is Ouma Lena se huis ’n plek van veiligheid of hulp, maar ook veel meer. Dit is ’n nasorgsentrum wat sowat 80 kinders in die middae akkommodeer, dit huisves Seesterretjie-kleuterskool, is ’n satellietkampus vir studente wat vroeëkinderontwikkeling by Suid-Kaap Kollege studeer en vele meer.

In die middae is daar rekenaarklasse en ondersteu­ning vir leerders wat sukkel. Maandag is die tyd vir gholflesse, Dinsdae is daar kreatiwiteitsklasse, Woensdae is kinderkerk en Donderdae word remediërende klasse aangebied. En dan is daar boonop ’n leessentrum. Daar is ook storte vir kinders wat nie wasgerie­we tuis het nie.

En dít alles word deur sowat 35 vrywilligers uit Stilbaai moontlik gemaak, afgesien van die kombuispersoneel wat etes kook en die bestuurder en haar assis­tent wat uit die gemeenskap aangestel is.

Jenny, ’n lidmaat van die NG gemeente Stilbaai, ver­duidelik: “Die afgelope 10 jaar het die kerke in Stilbaai en hulle lidmate vir dié kinders gesorg. Dit is eers die afgelope jaar wat ons befondsing vanaf die staat kry.

“Dié plek is my sendingveld. Want as ons die kleuters verloor het, dan het ons hulle verloor. Hulle raak dan dikwels betrokke by dwelms …”

Daarom beskryf sy Ouma Lena se huis as ’n “vangnet vir kinders in die gemeenskap”.

Jenny het op 40-jarige ouderdom vanaf Johannesburg na Stilbaai verhuis nadat daar ’n gewas op haar brein ontdek is. Sy en haar gesin wou kom rustiger leef, vertel sy. Maar dié skuif het haar lewe onherroeplik ver­ander.

Sy het jare lank ’n gastehuis bedryf en onder andere vir Vrede Michaels, wat vandag assistentbestuurder van Ouma Lena se huis is, leer ken as werknemer. “Die jare het my geleer om anders te kyk. Ek het die bruin gemeenskap ook beter leer ken. Ons besef nie hoe benadeel is mense wat nie toegang tot goeie onderrig gehad het nie,” sê Jenny. Sy het goeie verhoudings met mense in Melkhoutfontein begin bou en begin droom om daar te kan help.

Maar dit is nie altyd maklik nie. “Ons sukkel om brûe te bou tussen die gemeenskappe. Mense in albei gemeenskappe het soveel vooropgestelde idees. Mense vra my soms: ‘Hoekom doen jy dit?’ of: ‘Maak dit regtig ’n verskil?’”

Jenny vertel van die vorige naweek toe hulle 50 “probleemkinders” op ’n kamp geneem het. Sommige van die 11-jarige dogtertjies rook en gebruik reeds tik, sê sy. Maar vir ’n naweek lank kon hulle net weer kind wees en byvoorbeeld krieket speel en swem. En hulle kon ’n roetine van persoonlike higiëne vestig.

Net voor dié kamp, sê Jenny, het hulle nie genoeg geld gehad om die kampterrein te betaal nie. Maar sy het ’n stap in geloof geneem, want sy het geweet die Here sal sorg. Onlangs het Jenny-hulle ook ’n vroue­kamp sommer by Ouma Lena se huis gehou. Hulle het mooimaaksessies vir elkeen gereël. “Soveel vroue het net ’n behoefte aan sagte aanraking of sagte, vriendelike oë,” sê Jenny.

“Ons kry net genoeg lig en genade vir elke dag. Ons weet verseker dat ons God se guns elke dag oor Ouma Lena se huis ervaar. En dat daar wel ’n oes sal wees wanneer Hy weer kom.”

Dis nou slaaptyd vir die kleuters, wat almal tussen die ouderdom van drie en vyf is. Hulle is moeg ná ’n oggend se speel en stimulasie. Behalwe vir sensoriese ontwikkeling, die ontwikkeling van ’n wiskunde-woor­deskat en vele meer, probeer die Seesterretjies se hoof, Suzelle Mouchtouris, ook elke dag vir hulle sosiale vaardighede leer. Soos om nie iemand se ruimte te betree nie of om regop te stap.

Sy het vroeër jare ’n kleuterskool in Stilbaai bedryf en was reeds afgetree. Haar man is skielik oorlede in 2016 en na ses maande se rou het sy vir die Here gevra: “Waarnatoe met my?” Daarna het sy gedroom van ’n spesifieke kind wat om hulp roep. “Aan die einde van my droom het ek met die dogtertjie in my arms gesit,” vertel Suzelle. Sy het toe die enigste maatskaplike werker, Cornelia Giliomee, van Badisa in die omge­wing gebel wat haar toe aan iemand voorgestel het. Op ’n manier het sy en die persoon as vrywilligers by Ouma Lena se huis beland.

Vandag bestuur sy die kleuterskool maar is ook die fasiliteerder vir vroeëkinderontwikkeling-studente van die Suid-Kaap Kollege. Dié studente, wat almal uit die Melkhoutfontein-gemeenskap kom, kom doen hulle prakties in die Seesterretjie-klas onder haar leiding.

“Ons grootste roeping is om die karakter van Jesus uit te leef. En dis wat ons elke dag hier doen,” sê Suzelle.

Jenny voeg by dat elkeen by Ouma Lena se huis ’n Galasiërs 6:7-hart het. Dié vers inspireer elkeen van hulle om nooit moeg te word van goed doen nie.

Beryl Prins (44), bestuurder, en Vrede (bestuursassistent) sê die kinders bly hulle inspirasie om aan te hou werk by Ouma Lena se huis.

Vrede verduidelik: “Ons gemeenskap se ouers gaan vroeg in die oggend uit die huis. Hier fill ons daai gap en gee ons aandag in die middae.” Volgens Beryl en Vrede “val hulle gemeenskap uitmekaar” omdat daar geen dissipline of nie ’n goeie fondasie vir die kinders is nie.

Beryl, wat die afgelope vier jaar voltyds hier werk, sê sy was voorheen ’n berader by die kliniek en daarom ken sy elke huis in Melkhoutfontein. “Ek het besef in plaas van om ’n toeskouer te wees, moet ek sélf ’n verskil maak. Iemand het my al ’n beter offer gemaak, maar ek besef ek kan nie hier weggaan nie. Ek wil deel wees van die veilige hawe wat Ouma Lena se huis is,” sê Beryl.

Albei vroue sê hulle het net met hulle moederinstink hier ingestap. Nou is hulle ook albei besig om ’n diploma in vroeëkinderontwikkeling te doen.

Hulle is baie trots daarop dat hulle die leesgroep, wat elke dag 60 kinders bedien, ook dryf. Die mate­riaal en kurrikulum word gratis deur Tina Cowley verskaf. Die Tina Cowley-leessentrums maak reg oor Suid-Afrika ’n verskil aan geletterdheid. Dié leesgroep het begin nadat Tina se sussie, Ryna Griessel, ook as vrywilliger by Ouma Lena se huis betrokke geraak het.

Vrede sê haar pa, wat haar naam vir haar gegee het, sou baie trots op haar gewees het. Hy was voor hy onlangs oorlede is, die hoof van die laerskool in die gemeenskap. Ook Vrede het al ander werksgeleenthede gehad, maar sê sy, sy kan nie die kinders teleurstel nie. “Hulle het klaar so baie teleurstellings. Ons is dag en nag beskikbaar om te help. Al die kinders weet dit,” sê Vrede.

Melkskommel saam met mamma

Nicolene Schultz (60), ’n sielkundige, het vroeër vanjaar in Stilbaai kom aftree. Sy het ook as vrywilliger betrokke geraak en onlangs die kinders geëvalueer. Haar voorstel was dat die mammas van die gemeenskap meer kwali­teit-tyd saam met hulle kinders spandeer en sy het iets soos ’n melkskommel voorgestel. Jenny het geweet meeste ma’s sou dit nie kon bekos­tig om hulle kinders vir ’n melk­skommel te neem nie en daarom voorgestel dat hulle dit by Ouma Lena se huis doen. So het sowat 16 kinders en 15 mammas onlangs kom aansit vir ’n hamburger en ’n melkskommel. Nicolene vertel behalwe vir die samesyn het hulle ook die ouers en kinders vir ’n oomblik geskei en gevra waarmee hulle kan help. Volgens Jenny was die grootste behoefte van die ma’s se kant af dat hulle hulle sal help sodat hulle in staat sal wees om hulle kinders met huiswerk te help. Ook dat hulle kinders se gedrag vir hulle ’n probleem is en dat hulle hulp nodig het om dissipline toe te pas. Die meeste kinders het weer gesê dat hulle daarvan sal hou as hulle mamma vir hulle ’n lekker bord kos kook.