Landbouers het nou beskerming nodig

Ek was bevoorreg om die afgelope aantal weke in verskillende gebiede in ons land besoek te bring en was telkens onder die indruk van die  buitengewone boerderypraktyke in elke streek van ons land. Die wyse waarop die winste van die natuurwetenskappe ingespan word om elke plaas te optimaliseer as ’n produksie- en winseenheid is merkwaardig. Die noukeurigheid en netheid daarvan is indrukwekkend.

Suid-Afrika is immers ’n land met diverse landbouomstandighede. Elke area bied sy eie uitdagings en nie twee plase is identies nie. Elke landbouer moet dus sy of haar unieke geleenthede en uitdagings ken en benut om die beste resultate te behaal. In die Noord-Kaap kon ek sien hoe boere in die moeilikste omstandighede steeds goeie weiveldbestuur toepas en hulle diere op individuele basis monitor. In Kwazulu-Natal het ek die mooiste en besbestuurde Nguni-kuddes gesien wat met die mees verfynde voedingsmetodes en inentings- en teelprogramme geoptimaliseer word. Op ander plekke het ek gesien hoe daar in die sagtevrugtebedryf met die buitengewone noukeurigheid na bome omgesien word met klimaat- en grondspesifieke besproeiingsmetodes en die bestuur van die plante se blootstelling aan die son en ander elemente. As ’n mens hierby in ag neem dat landbouers ook kenners moet wees van verpakking, vervoer, bemarking, menslike hulpbronne bestuur, finansiële bestuur en oor talle ander vaardighede moet beskik om sukses te behaal, is dit duidelik dat nie enigeen sommer net kan boer nie. Daar is immers oneindig baie op die spel. Dit gaan in die eerste plek oor 55 miljoen mense wat gesond moet kan eet. Dit gaan ook oor die verdienste aan buitelandse valuta en ’n gesonde handelsbalans. Dit gaan ook in ons land oor werkverskaffing, ’n kwessie waaroor ons bykans nie genoeg woorde het om die belangrikheid daarvan vir almal te beskryf nie.

Die regering doen nie genoeg om die boere van hierdie land te beskerm nie.   Plaasaanvalle en -moorde hou ’n reuse-bedreiging in vir die voortsetting van ons lanboubedrywe. Moord is ’n verskynsel wat alle mense en gemeenskappe in Suid-Afrika raak en bedreig. Boere en hulle werknemers is egter ’n sagte teiken vanweë die die feit dat hulle plase en wonings afgeleë is. Dit help nie om te sê dat die moordsyfer bv op die Kaapse Vlakte ook hoog is nie en dat die boere nie op voorkeurbehandeling kan aanspraak maak nie. Landbougemeenskappe moet deur die staat optimaal beveilig word soos wat die landbouomgewing dit vereis. Die Kaapse Vlakte en ander residensiële gebiede vereis weer ʼn ander soort beveiligingsmetodes wat ook 100 keer meer effektief geïmplimenteer moet word. Die veiligheid van ons landbougemeenskappe is ’n plig wat die staat nie op die oomblik effektief nakom nie. Wat dit egter erger maak, is die swye van politieke leiers oor die aangeleentheid. Elke politieke leier in Suid-Afrika behoort in hierdie dae by elke geskikte geleentheid hulle volgelinge op te roep tot die beskerming van die mense van hierdie land, en behoort alles in hulle vermoë te doen om aan hulle ondersteunende uitsprake gevolg te gee. Al die kwesbares behoort genoem te word en vir almal behoort daar beter planne te wees as wat tans in werking is. Die landbougemeenskap hoort saam met ons vroue en kinders op die lys van mees kwesbare mense. Spesiale eenhede vir spesialis-beveiligingswerk kan nie langer soos ’n politieke speelbal hanteer word nie. Natuurlik is dit so dat landelike polisiëring besondere uitdagings aan die staat stel. Die antwoord lê waarskynlik, soos met soveel ander aspekte van die lewe in ’n gesonde staat, in die samewerking tussen die burgerlike samelewing en die staat met sy groter operasionele en strategiese vermoë. Die regering en staatsdiens se koppige onwil om saam met die burgerlike samelewing te dink en werk, haal ons nou op talle gebiede in.

Voeg by die gewelddadige moorde op ons plase, die onwettige grondbesettings van die afgelope tyd, die onsekerheid oor grondhervorming, die droogtes en klimaatsverandering, die gebrek aan beskerming en ondersteuning van landbouprodukte in kompeterende internasionale markte, en die druk op ons landbougemeenskappe raak bykans ondraaglik.

Terloops, die NG Kerk en ekself, is en was nog altyd gekant teen die onteiening van grond sonder vergoeding en teen die wysiging van Artikel 25 van die Grondwet.  Ons het hieroor ’n omvattende en deeglike voorlegging aan die toepaslike parlementêre komitee gedoen. Grondeienaarskap is ’n emosionele saak. Meer grond moet vir residensiële ontwikkeling beskikbaar gestel word. Die oordra van titelaktes aan bewoners van “staatshuise” moet versnel word. Die 4000 plase wat reeds deur die staat gekoop is met die oog op grondhervorming moet beter benut word en oorgedra word aan eienaars. Grondhervorming moet egter gemeenskapsgebaseerd aangepak word. NG Kerk lidmate wat boer, en talle ander boere in bykans elke streek van ons land, het hulleself al oor en oor bereid verklaar om opkomende boere te help en nuwe boere op landbougrond te help vestig. Trouens, daar is talle en talle voorbeeld waar ons lidmate suksesvol en volhoubaar gehelp het om swart boere te vestig en ondersteun. Maar solank die staat sentristies met grondhervorming handel, sal hy bly sukkel om sukses te behaal en sal die politieke dromme van rassevooroordeel, verdeeldheid en agterdog al wees wat oorbly om geslaan te word.

Uit talle gesprekke met landbouers en landbou-organisasies weet ons wat landbouers se gesindheid is. Duisende landbouers in Suid-Afrika is ook toegewyde lidmate van ons kerk. Ons landbouers is geestelike en emosionele sterk mense. Anders sou hulle nie in die uitdagende omstandighede oorleef nie. Hulle is ook intelligente mense met ondernemingsgees wat verder dink as eie belang. Hulle kan en wil ’n bydrae maak tot die sukses van ons land. Maar hulle het nou beskerming nodig, polities, ekonomies, persoonlik op die gebied van veiligheid. Hulle het nou ons geestelike ondersteuning nodig. In gemeenskap na gemeenskap kom landbougemeenskappe byeen by die begrafnisse van mede-landbouers wat vermoor is. Dit raak en vat diep. Ons gemeentes en gemeenskappe word intens daardeur geraak. Kom ons ondersteun ons landbougemeenskappe geestelik. Maar kom ons plaas ook saam druk op ons leiers om op te staan en aksie te neem om nou ons landbouers se hande te vat. Hulle is vriende van die staat en die land, nie teenstanders nie.

  • Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.