‘Kom ons beweeg aan’

http://kerkbode.christians.co.za/2018/07/03/kom-ons-beweeg-aan/

Petrus C Louw skryf uit die Laeveld:

Ek rig hierdie skrywe na aanleiding van die gay-debat wat die bladsye van die Kerkbode die afgelope tyd oorheers.

Dit is duidelik dat persoonlike sienings en agendas die debat vanuit albei kante dryf en dat objektiewe aanvaarding van standpunte en vertolking tans geen plek gegun word nie. Vir my was die antwoord duidelik en was die skeidslyn onmiskenbaar. Geen interpretasie was volgens my siening nodig nie aangesien die Bybel baie duidelik oor die saak is.

Tog is die Bybel selfs meer duidelik oor die aspek van veroordeling. Die huidige debat fokus op gaywees alleenlik en dit is waar dit tekort skiet. By hierdie debat moet ook ingesluit word emosionele mishandeling, meerderwaardigheid, misbruik van enige aard, leuens, begeertes en vele ander sondes wat tans van die debat uitgesluit word.

Ons wil oordeel op grond van seksuele oriëntasie, asof ’n gay persoon slegter is as ’n vroueslaner, egbre­ker of enige ander sonde. Die punt is dat die kerk konsekwent moet wees en alle sondes onder dieselfde kam skeer ongeag wat dit is en ophou om die klem op seksuele oriëntasie te plaas.

Wat ’n persoon agter geslote deure doen as hy saans tuis is, het absoluut niks met enige een van ons te doen nie en geeneen van ons is in ’n posisie om te oordeel nie. Of die persoon aanlyn dobbel, sy vrou en gesin emosioneel afkraak en mishandel, haar dalk slaan, pornografie kyk of gay is, is verborge vir almal en daarom kan ons nie ’n oordeel vel nie. Dit is tyd om eerlik te wees en die skynheiligheid te laat staan, kom ons beweeg aan.