Kerkbode sal vir Annalise mis

http://kerkbode.christians.co.za/2018/06/28/kerkbode-sal-vir-annalise-mis/

Annalise Wiid

Die skielike dood van Annalise Wiid sal vele leemtes laat – en een daarvan is by Kerkbode.

Annalise is op 27 Junie dood toe sy ’n paar dae na ’n operasie ’n bloedklont deur die long gekry het.

In Maart 2014 verskyn daar twee artikels uit haar pen in Kerkbode. Die eerste was oor Nobuntu Motholeni, destyds beskryf as ’n swart vrou wat in ’n bruin gemeenskap werk as deel van ’n oorwegend wit gemeente se uitreikspan. Die tweede het gegaan oor ’n NG gemeente wat as deel van hulle uitreik musiekklasse vir kinders in Khayalitsha aanbied.

Annalise was destyds al ’n gevestigde rubriekskrywer en daar het al ’n paar boeke uit haar pen verskyn. Tog was dié soort joernalistiek wat Kerkbode van haar versoek het – verslaggewing waar jy moet uitgaan, kyk, luister, vrae vra, interpreteer en weerspieël – nuut vir haar.

Maar dit het haar soos ’n handskoen gepas. Haar vaardigheid met woorde, haar deernis met en respek vir mense, en haar diep deurleefde begrip van die evangelie het daartoe bygedra. Sy het verstaan wat dit beteken dat Kerkbode op soek is na verhale van God se genade wat deur sy mense na die wêreld toe vloei.

Kort voor lank het sy self sulke verhale geïdentifiseer en aangebied. Dit het ’n stroom van stories geword. In die afgelope vier jaar en vier maande het daar 76 stukke uit haar pen in Kerkbode verskyn.

Dit het gehelp dat sy self as sanger en spreker wyd gereis het. Sy het vir Kerkbode stories geskryf uit Aranos en Dubai, Nelspruit en De Rust, Vanderbijlpark en Ladybrand, Nyanga en Swakopmund, Hoekwil en Beaufort-Wes, Keimoes en Ceres, Kleinmond en hoeveel meer.

Deur onderhoude met mense te voer, het sy verder verhale neergepen oor bedienings so ver as Malawi, Pakistan, Indië en Nepal.

In die proses het sy vir Kerkbode se lesers ’n kykie gegee in die harte van uiteenlopende mense. Daar was gevangenes agter tralies, vroue wat deur hulle mans mishandel is, uitkyk-anties op die Kaapse vlakte, ’n gay paartjie, kunstenaars, ’n vlugteling uit die Demokratiese Republiek van die Kongo, boere, dominees, sendelinge, oud-bendelede, ’n bomslagoffer, die skenker en die ontvanger van ’n nier. Die lys is lank.

Annalise was inderdaad, soos dit by haar rubriek in LiG staan, ’n veelkantige kunstenaar. Sy sal gemis word as liedjieskrywer, sangeres, rubriekskrywer, spreker en as mens. Kerkbode se lesers sal haar mis as vryskutskrywer wat die verhale van God se genade met soveel begrip vertel het.