Kerk se besluitnemers praat mét eerder as oor gays

Ds Louis van der Riet verlaat die verhoog waarop hy en vyf ander ‘n gesprek gevoer het om te illustreer hoe die gay-kwessie as gesprek eerder as debat benader kan word. Foto’s: Le Roux Schoeman

’n Pa van twee seuns sit voor 650 mense en vertel van die dag toe sy seun, sommer so rondom die braaivleisvuur, “uit die kas” gekom het. Wat meer is, vertel die NG dominee: “My gay kind is liewer (as sy broer) vir die kerk. Hy wil daar trou, en sou sy kinders daar wou laat doop.”

Nou is hierdie ouer “op ’n journey” saam met sy kind. “Hoe begelei jy jou kind in ’n seksualiteit wat jy nie verstaan nie?” wou hy weet. In die gehoor sit dominees by die dosyne, ouderlinge en “gewone” lidmate. Hulle het uiteenlopende standpunte: Van uitgesproke gay dominee en proponent tot die dominee van Oudtshoorn wat maan: “Broers en susters … daar is gay persone wat getuig: ‘Ek het in Christus verlossing gevind, maar ek het ook gevind deur die krag van die Gees dat ek selibaat leef. Of dat ek oorwinnend leef, heteroseksueel, in ’n verhouding of ’n huwelik.’ Ons moet na daardie getuienisse luister,” was sy beroep aan afgevaardigdes by die sinodesitting van die grootste streeksinode van die NG Kerk.

Twintig jaar gelede was hierdie nog ’n taamlike “tough crowd”. Daar is daai dae sommer van die vloer af geskerts: God het Adam and Eve geskape, nie Adam and Steve nie. Intussen blyk dit daar het ’n skuif in die NG Kerk plaasgevind. Sommige meen gletseragtig stadig. Ander meen gans te vinnig. En hulle sit selfs met vrees dat hulle as liefdeloos uitgekryt sal word as hulle teen gay verbintenisse praat, sê ds Steven Sass. “Ek wil nie die liefdelose ou wees nie.”

So hoe bestuur ’n mens so ’n breë meningsverskil? Hoe skep jy ’n ruimte waar Philipp Dietmann, ’n proponent in die NG Kerk, bereid is om vanaf dieselfde verhoog te vertel: “Ek het van jongs af geleer daar is sekere dele van my wat ek moet toehou en ander wat ek mag wys. Die gift wat die kerk vir my gee, is om my volle menswees te vier”?

Die afgelope paar dae in die Boland het ’n mens ’n blik gekry op ’n groot groep lidmate se beste poging tot so ’n bestuursproses.

‘Sitnode’ by Goudini

Vanaf gemeentes in Leeu-Gamka, Knysna, Villiersdorp, Leipoldtville, Bellville, Oudtshoorn asook die omliggende dorpe van die Breederiviervallei het mense toegesak op Goudini Spa, waar die water mineraalryk en stomend warm diep vanuit die aarde borrel.

Sinodegangers by Goudini.

Maar die afgevaardigdes by die sitting van Wes-Kaapland-sinode was nie hier vir hierdie ATKV-oord se bekendste trekpleister nie. Hulle was hier vir gelowige samesyn en ’n 294 bladsye-agenda. Die 48ste “sitnode”, het een skalkse bywoner die saamtrek gedoop. Temas so wyd as ekologie, grondonteiening en millennials is bespreek deur NG lidmate wat op hulle beurt weer as sinodale streek sowat ’n kwart van die totale aantal belydende lidmate in die NG Kerk verteenwoordig. Daar was ’n verskeidenheid. Van die iets-in-hulle-20’s tot ’n 76-jarige. Van straight tot nie. Van gehoorgestremd tot horend. Van stereotipies tot matig eksentriek. Laf tot stroef. En dis nie sommer ’n getjommel nie. Die kerk belê groot geld (meer as R3 miljoen) om gemeentelede, leraars, teoloë, ouderlinge, waarnemers elke vier jaar so tesame te kry.

Dag 1 was ’n stadige opstyging. Dag 2 het prof Piet Naudé die enjin brandgeskop met ’n begeesterde rede oor kerk en ekonomie. (“Nooit mag dit uit die mond van ’n kerkmens kom om te kla oor die sosiale toelae in Suid-Afrika nie. Jy kan wel ekonomies sê dis onvolhoubaar, ek verstaan daai argument, maar as ’n beginsel is dit ongelooflik belangrik.”) Daar is ook gepraat oor ekologie (plastieksakke is uit en die kerk moet sy eie fondse oordeelkundig en verantwoordelik belê). En toe is dit Dag 3. Afgevaardigdes kon ter voorbereiding deur Bylaag 3 lees: ’n Volle 40 A4-bladsye oor hoe die Bybel gebruik word om besluite te maak soos dié: Hoe gemaak met selfdegeslagverhoudings?

Die oorsig daal nie op die leser neer vanuit ’n Kweekskool iewers nie. Dit sluit aanhalings in van die terugvoer wat uit die breedvoerige “konsultasieproses” met lidmate gekom het. Vorige sinodebesluite asook sleutelpunte in die ellelange “paper trail” wat die kerk oor die jare hieroor nagelaat het, is deeglik bygewerk. Die teks sluit teenoorgestelde standpunte in wat steeds in die kerk se midde voortbestaan ondanks die besluit wat Woensdagaand op Goudini, na sowat drie ure se voorlegging en onderlinge bespreking, aanvaar is. Die uitkoms is ’n stel nuwe riglyne waarop die sinode by wyse van stemming besluit het. Dit bepaal onder meer: “Wanneer (kerkrade) besluit of hulle iemand beroep as predikant, of benoem of aanwys as ouderling of diaken, moet hulle kyk na die persoon se spiritualiteit, die karakter van sy lewe asook na die integriteit van die verhoudings waarin hy leef,” het ds Nelis Janse van Rensburg Woensdagaand in ’n onderhoud met die sinodale kommunikasiespan gesê.

“Ons sê kyk na die persoon se totale lewe. Die baie belangrike punt is: Ongeag ’n persoon se seksualiteit, ras of geslag, moet hierdie riglyne gebruik word,” het Janse van Rensburg, wat vroeër die week as moderator herkies is, die verwikkeling opgesom.

Afgevaardigdes moes stem, maar dit was duidelik uit die verslag dat dit ’n doelwit van die breedvoerige konsultasie en aanvoorwerk was om juis te keer dat die ganse proses afstuur op ’n dramatiese stemproses wat die onderwerp op ’n mespunt balanseer. “[Dit was] waarskynlik in die geskiedenis van ons sinode die mees inklusiewe proses wat tot nog gevoer is,” het dr Frederick Marais tydens sy aandeel in die bekendstelling van die verslag gesê. “Toe ek laas gehoor het, was dit ’n vyftigtal gemeentes wat op skrif gereageer het en presies gesê het hoe hulle die saak hanteer in die gemeente en hoe hulle dink om vorentoe te gaan hiermee. My indruk is waarin ons geslaag het is om ’n meerderheid gemeentes in ons streek, wat gereed was daarvoor, op ’n verantwoordelike wyse in te neem in die proses.”

Marais het gesê – en herhaal – dat gemeentes in hierdie kerklike streek oor die saak verskil. “Ons is almal deel van een verband. Ons werk met dieselfde Skrif, ons is in dieselfde belydeniskonteks, en tog is daar by ons verskille oor hoe ons geloofsonderskeidend op hierdie stadium by ’n plek uitkom wat ons dink sin maak vir ons navolgingskap van Jesus Christus.”

“Ek dink ons het by die plek gekom waar ons verstaan – na al die jare se gesprek – is ons dalk by ’n punt waar ons vir mekaar sê: ‘weet jy, ons verskil van mekaar, maar ons gee vir mekaar ruimte’.”

Die “jare se gesprek” waarna Marais verwys het, sluit ook omvattende wroeging in oor die ses “klassieke” Bybeltekste hieroor:

  • Genesis 19:5
  • Rigters 19:22
  • Levitikus 18:22 en 20:13
  • Romeine 1:26-28
  • 1 Korintiërs 6:9
  • 1 Timoteus 1:10

Dit is ingesluit by die einste 40 blad-verslag deur die Sinodale Taakspan vir Leer en Aktuele Sake (STLAS). Daarin word ook verwys na vrae (“kan homofilie genees word, is dit veranderbaar?”) wat kennelik voortleef in die hart van ’n moeilik bepaalbare aantal gelowiges op kerkbanke – en op kerkkoerante se Facebookblaaie, waar wydlopende verslae soos dié van STLAS dikwels by die knieë afgesny word deur kommentaar soos dié: “Wat is die besluit tussen al die mooi woorde en rondpratery?”

Nog ’n vraag is eenvoudig wat die geskiedskrywers van Goudini sal onthou? Dalk dat daar mét gays eerder as óór gays gepraat is? Kerkbode-verslagspan.