Kerk brand af, maar lofliedere klink steeds op

Ds Karlien van Wyk (NG Kerk Welgemoed) en Yolande Lodewyk (met Cowboy-hoed), lidmaat by Maitland Gemeenskapskerk, gee mekaar ‘n drukkie in die kerk wat Saterdagaand 29 Desember 2018 afgebrand het. Foto: Le Roux Schoeman

Hul kerk het Saterdagnag afgebrand, maar lidmate van Maitland Gemeenskapskerk het Sondag steeds saam gesing en gebid. 

Voor die smeulende puin van die 115-jarige gebou in Voortrekkerweg in Kaapstad, het gelowiges mekaar getroos en lofliedere gesing, het ds. Karlien van Wyk van die nabygeleë NG Kerk Welgemoed op die toneel aan Kerkbode gesê. 

Van Wyk en haar mede-leraar by Welgemoed, ds. Nelis Janse van Rensburg, was een van ’n aantal dominees, besorgdes, Maitland-lidmate en nuuskieriges wat Sondagoggend (30 Desember) deur die as en verkoolde oorblyfsels van dié aanbiddingsplek rondgeloop het. Die brand het omstreeks 20:00 Saterdagaand van kansel tot orrel verwoesting gesaai. Slegs die kloktoring en twee aangrensende vertrekke het die vlamme vrygespring, hoewel die rook- en hitte-beskadiging oral sigbaar is.   

Emily Maarman, die koster, is die aand van die brand deur ’n mede-lidmaat na die toneel ontbied: “Dit was net tonge vuur gewees,” het sy gesê. “Dit was verskriklik om dit te sien.” 

Ds. Riaan de Villiers van Groote Kerk is ook die vorige aand gevra om by te staan en was die volgende oggend weer daar om aan die spontane diens voor die kerkgebou deel te neem. “Ons het partykeer nie woorde nie, maar ons kon sug voor God. So mense het gesug voor God en het toe so stukkie gelees uit Jesaja 58, saam gebid … so op ’n manier het die hartseer en die treur ook ’n mate van hoop begin reflekteer wat vir my roerend was,” het De Villiers gesê.

Die Maitland-gemeente se leraar, ds. Juanita Greyvenstein, was met vakansie tydens die voorval. Sy het by navraag gesê dis ’n afskeid van baie wat in daardie ruimte gebeur het. 

Die oorsaak van die brand was nog nie bekend toe Kerkbode Sondag op die toneel was nie.