Johan van der Merwe

15 Augustus 1926 – 8 Mei 2018


Prof Johan David Gerhardus van der Merwe (BA, MA, DPhil (UP), DPhil (US)) is op 15 Augustus 1926 gebore te Griekwastad. Sy vader, Jan Valentyn van der Merwe, is ’n besigheidsman en sy moeder, Catharina Wilhelmina Christina Gertsner, ’n onderwyseres. Johan begin in 1932 met sy skoolloopbaan aan die Laerskool Prieska en matrikuleer in 1942 aan Hoërskool Prieska. Dit is oorlogjare en die jong skoolseun stel intens belang in die wel en wee van die Tweede Wêreldoorlog en sy groot droom is om loods te word.

Die Here roep Johan vir die evangeliebediening en hy begin in 1943 met sy studie aan die Universiteit Stellenbosch. Hy behaal in 1945 die BA-graad en studeer verder om in 1947 die Meestersgraad in Sielkunde te verwerf. Hier blink Johan uit in sport en is in die eerste span van boks (middelgewig), speel o/19 rugby, kampioen in 440 hekkies, waar hy twee jaar lank die rekord hou. Hy is ook twee jaar lank kaptein van die Stellenbosse Universiteitspan. Hy studeer verder in Sielkunde en behaal sy doktorsgraad in Sielkunde met die proefskrif: “Emosionele labiliteit – ’n Eksperimentele ondersoek”. Dit is ’n merkwaardige prestasie om in die jaar waarin hy as predikant afstudeer, ook doktor te word in Sielkunde. Die jong Johan is toe reeds met groot respek behandel deur sy dosente en studentevriende op Stellenbosch.

Intussen word hy student aan die Teologiese Seminarium in die Eike­stad en is vier jaar lank student aan die profeteskool en word op 7 Desember 1950 as proponent van die NG Kerk gelegitimeer. Aanvanklik help hy begin 1951 as hulpleraar in die geskiedkundige NG Moederkerk op Swellendam tot ’n roepstem kom na die NG Gemeente Ysterplaat in die nabyheid van Tafelberg. Johan trou op 25 September 1951 met mej Erica Barbara Slabber, ’n lewensmaat wat hom ’n leeftyd lank met oorgawe ondersteun. Uit die huwelik is vier kinders gebore: Etheline, Gerhard, Adriaan en Johan.

Prop JDG van der Merwe word op 19 Oktober 1951 met handoplegging in die NG Gemeente Ysterplaat ontvang en bevestig, waar hy die kollega is van fynbesnaarde ds JR Holzapfel, waarskynlik ’n depressielyer wat op 29 Mei 1954 selfdood pleeg. Intussen neem ds Johan op 19 Junie 1953 demissie om verder te studeer en vertrek na die Vrije Universiteit in Nederland, maar behou nog bande met die gemeente. Prof Johan van der Merwe skryf: “Die selfmoord van my medeleraar in Ysterplaat het my finaal laat besluit om my bedieningslyn te verander en oor te gaan na kliniese sielkundige werk. Ek word die eerste geregistreerde kliniese sielkundige by die Mediese Raad van Suid-Afrika, met registrasienommer PS 1.”

Na dr Johan se studie in Nederland vertrek hy in 1954 na die Verenigde State van Amerika, waar hy twee jaar lank aan die Menninger School of Psychiatry in Topeka, Kansas studeer. Hy keer in 1957 terug na Suid-Afrika en studeer aan die Universiteit van Pretoria, waar hy die meestergraad behaal in toegepaste Sosiologie. Dr Johan van der Merwe verwerf ook ’n tweede doktorsgraad. Hierdie keer in Teologie. Hiervoor studeer hy in 1978-1979 aan die Theologische Hogeschool in Kampen te Nederland, waar hy in Praktiese Teologie navorsing doen. Terug in Suid-Afrika, dien hy sy proefskrif in by die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch. Hy verwerf in 1978 die DPhil-graad aan Maties met lof.

In 1958 is dr Johan van der Merwe terug in Suid-Afrika en is hy tot in 1961 pastorale sielkundige van die Sinodes van Noord- en Suid-Transvaal. Hier kom hy na jare weer naby die hart van die NG Kerk en word sy wysheid en insig waardeer. In 1961 word hy senior lektor aan die Hugenote Kollege te Wellington, die begin van ’n unieke loopbaan in belang van die kerk aan die voet van Groenberg. Hier trap hy diep spore en doen baanbrekerswerk en word later rektor van die Hugenote Kollege op Wellington, wat onder sy bekwame leiding inskakel as volwaardige deel van die Universiteit van Suid-Afrika. Onder prof Johan van der Merwe en sy hardwerkende span se leiding word die Hugenote Kollege op Wellington ’n spog-opleidingsentrum van die NG Kerk waar maatskaplike en kerklike dienswerkers opgelei word.

In 1971 het prof Johan uitgereik na die skoolseun Gerdrie van der Merwe, hom raakgesien en in hom geglo. ’n Kosbare vriendskap het ontstaan wat Gerdrie se lewe soet en sy siel heel gemaak het. Tot die eindfluitjie geblaas het vir prof Johan van der Merwe, was sy vriendskap kosbaar met die hoogtepunt toe hy teenwoordig was toe die “Spesiale Andrew Murray-toekenning” op 19 Mei 2016 aan dr Gerdrie van der Merwe op Stellenbosch toegeken is.

Ek glo met my hele hart dat die geskiedenis en die ewigheid eendag sal uitwys dat dr Andrew Murray en prof Johan van der Merwe twee unieke rolspelers was om deur middel van Hugenote Kollege en die opleiding van jong mense ’n groot rol te speel.

Die baanbrekerswerk wat prof Johan en sy vrou Erica van der Merwe oor byna twee dekades op Wellington doen, is navolgenswaardig en onder hulle leiding word die Hugenote Kollege ’n ware sieraad in die NG Kerk. Onder sy leiding groei Hugenote Kollege op ’n buitengewone manier en word baanbrekerswerk verrig wat tot vandag toe groot vrug lewer op wye akkers. Bybelkor, wat later Bybel-Media word, ontwikkel in ’n unieke geestelike kragbron wat gelowiges bemagtig om groot dinge in koninkryksdiens te doen. Oral op Wellington sien ons hierdie kerkman se voetspore en tot vandag toe pluk die NG Kerk unieke vrugte van geestelike bome wat hy geplant het. Hy en sy bekwame vrou Erica red onder meer “Clairvaux”, die huis van dr Andrew Murray van sloping, langs die bekende Huis Samuel, wat vandag nog staan. Dit word tans ontwikkel as die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit, ’n unieke sentrum van die NG Kerk in Suid-Afrika.

Prof JDG van der Merwe verlaat in 1978 op 51-jarige ouderdom die akadamiese dorp Wellington aan die Groenberg, ’n unieke stap om die aflosstokkie van die rektorskap van Hugenote Kollege aan iemand anders oor te gee. Hierdie veelsydige mens en adademikus soek nuwe horisonne en uitdagings, so eie aan die roeping as kerk- en godsman wat altyd ’n verskil wou maak in die lewe. Hy vestig hom in 1979 te Bloemfontein aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat en is ook dosent in Sielkunde. Hy is ook hoof kliniese sielkundige by die Oranje- en Universitas-hospitale, waar hy diep spore trap. Hier kon prof Johan op ’n unieke manier sy liefde uitleef vir sielkunde en mense in nood aanraak en help op die pad na genesing. In dié tyd koop hy die plaas Luipaardsfontein in die distrik Fauresmith, waar hy deeltyds boer en sy liefde vir boerdery uitleef.

In 1988 tree hy finaal af en koop vir hom ’n plaas in die distrik Gobabis in die destydse Suidwes-Afrika. Prof Johan is iemand wat hou van uitdagings en in die boerdery beleef hy ’n nuwe uitdaging wat hy suksesvol bestuur. Maar hy is steeds betrokke en saai op wye akkers in koninkryksbelang. In Windhoek is hy betrokke by die Sinodale kommissie vir Diens van Barmhartigheid van die NG Kerk in Suidwes-Afrika in Windhoek. In die volgende twee dekades is Johan van der Merwe iemand wat sy talente op verskeie maniere gebruik, nie net in boerdery nie maar in die lewe van mense wat elke dag sy pad kruis.

Hy het ons geleer om daagliks voluit en met oorgawe te leef. Die lewe is eers verby wanneer die Here self die eindfluitjie blaas. ’n Mens is net oud as jy ophou droom en prof Johan van der Merwe het dit steeds op negentig gedoen.

In 2006 het die egpaar na Stellenbosch verhuis en het hy die plaas aan sy seun Gerhard oorgegee. Maar hy het tot 2008 elke maand met die bus opgery na die plaas in Gobabis. Op die bus het hy baie mense se lewe aangeraak. Die laaste tien jaar van sy lewe het hulle steeds in Stellenbosch gebly tot met sy dood op 8 Mei 2018. Sy vrou Erica leef nog en woon steeds in die Eikestad. Die begrafnisdiens vind op Stellenbosch plaas, ’n finale groet aan ’n geestelike reus wat elke dag ’n porsie genade uit die hand van die Hemelse Vader ontvang het.

Die lewensbeeld van prof Johan van der Merwe is soos ’n kosbare diamant met verskeie fasette. As man van God het hy as rektor, professor, gemeenteleraar, sielkundige, pastorale berader en boer, mense se lewe verryk en aangeraak. – Dr Gerdrie van der Merwe VDM