Jaco kry erkenning vir sy bydrae

http://kerkbode.christians.co.za/2018/03/12/jaco-kry-erkenning-vir-sy-bydrae/

Ds Jaco Strydom

Een van die voorlopers in die NG Kerk as dit kom by die praktiese uitlewing van missionale kerkwees, kry eersdaags van Bybel-Media en Cordis Trust erkenning vir die bydrae wat hy gelewer het.

Ds Jaco Strydom van die Echo-jeugbediening kry dié toekenning waarvoor deerniswerk, woordkuns en geestelike groei die vernaamste kriteria is. Een van sy slagspreuke – “Moeilikheid is ons besigheid” – is ’n getuienis van die manier waarop die Echo-gemeenskappe ’n helende tuis­te word vir randfigure in die gemeenskap.

Dié praktiese uitlewing van die evangelie het ’n voorbeeld van missionale kerkwees geword lank voordat “missionaliteit” die gonswoord in die NG Kerk geword het.

Strydom was voorheen ’n rubriekskrywer vir Kerkbode, en verskeie stories oor die werk van die verskillende Echo-gemeenskappe het die af­ge­lope paar jaar in Kerkbode verskyn.

Die toekenning aan Strydom is een van drie toekennings van Bybel-Media en Cordis Trust wat onlangs bekend gemaak is.

’n Toekenning word ook gemaak aan me Stephné van Dyk, wat met Kerkbode se susterstydskrif LiG saamgewerk het vir ’n artikel oor ’n han­de-vat-musiekprojek.

’n Boek oor die verlies van swangerskap is aangewys as die wenner van vanjaar se Bybel-Media-Cordis-Trust-prys vir ’n oorspronklike, Afri­kaan­se, Christelike familie- en/of jeugpublikasie.

Marlena du Toit, Braam Klopper en Justine Pike word met dié prys be­kroon vir hulle boek Leeg – God se troos na swangerskapverlies of miskraam.

Die pryswenners ontvang elkeen ’n oorkonde en ’n kontantbedrag.

The post Jaco kry erkenning vir sy bydrae appeared first on e•Kerkbode.