Is dit dan nog Dordt?

http://kerkbode.christians.co.za/2018/12/03/is-dit-dan-nog-dordt/

Vierhonderd jaar gelede, van 1618 tot 1619 is die sinode van Dordrecht in Nederland gehou. Dié sinode het onder meer die Dordtse Leerreëls opge­stel wat vandag nog een van die drie Gereformeerde belydenisse is wat die NG Kerk onderskryf. HENCO VAN DER WESTHUIZEN kyk terug en kyk na vandag.


“Uitverkiesing is genadewoorde!” So begin Willie Jonker sy boek oor die uit­ver­kiesing, Uit vrye guns alleen (1989).

Dit is ook wat hy tydens die 350 jaar-vieringe van Dordt in Die Kerkbode beklemtoon het (1968). Dordt, die belydenis oor die “uitverkiesing”, is ’n belydenis van “Gods genade”. Daarom is en bly die belydenis van belang, sê hy.

Die evangelie, die boodskap van die goeie nuus, dit wat hierdie nuus goed maak, is die genade, en wie genade sê, sê uitverkiesing. Die uitverkiesing is genade en genade uitverkiesing, volgens hom. Die uitverkie­sing is die grond waarop die genade vasstaan.

Dit is daarom dat hy sê die vieringe ’n geleentheid is om mense opnuut met die boodskap van die uitver­kiesende genade van God te vertroos. Dit is die bedoeling van Dordt, en dit moet ook tydens die 400 jaar-vieringe die bedoeling van die belydenis bly.

Die uitverkiesing beteken dat mense op grond van God se genade alleen uitverkies is (I). Dit is nie op grond van enigiets wat mense gedoen het of nog gaan doen dat hulle gekies is nie. Daar is in mense inderdaad geen gronde vir so ’n uitverkiesing nie. Dit is genade alleen, en daarom is en wil die belydenis ’n belydenis van vertroosting wees. Dordt wil vertroos, en dit is die bedoeling van die belydenis dat daar so oor die uitverkiesing gedink en gepraat moet word (I/14).

Dit is ook hoe daar oor kin­ders gedink en gepraat moet word (I/17). Dit is juis ook kin­ders, of ten minste die families van die kinders, wat deur die uit­verkiesing vertroos moet word, sê Dordt. Daar moenie twyfel bestaan of dié of daardie kind in der waarheid deel is van die familie wat God uitverkies het nie. Juis ook hulle wat nie weet wat kindwees beteken nie, behoort.

Dat hulle behoort, is gegrond in God se ja-keuse in en deur Jesus Chris­tus, die opgestane Ge­­kruisigde (II). Dit wat Hy daar deur sy dood gedoen het, sê Dordt, is meer as genoeg. Dit be­teken vir Dordt dat daar nie nog iets nodig is nie. Dit is nie dat ons eers dit of dat word en die genade dan genoeg is nie. Die ge­nade van God, wat in Jesus vir ons gegee is, is genoeg! En dit word die dui­delikste in dit wat Dordt oor kinders sê.

Want dit is vir hierdie kinders wat Jesus gesterf het. Volgens Dordt word die uitverkiesende genade van God juis nie duidelik wanneer gesê word dat Jesus vir almal, of nee, vir dié wat in Hom glo of nog gaan glo, gesterf het nie. Volgens Dordt sterf Jesus juis nie vir hulle wat glo nie. Hy doen dit vir dié wat uitverkies is. Hyself gee vir hulle geloof. Hy sterf vir dié wat God in Hom gekies het, en so word hulle sy kinders!

Maar wie is die kinders wat in Jesus gekies is, wat sy kinders is?

Dordt spel dit in detail uit. Hy kies sondaars (III/IV). Hy neem juis dié wat nie goed genoeg is nie aan as sy eie. Hierdie sondaars word Gods familie. En hulle word ’n familie van sondaars.

Hy kies dus nie soos ons kies nie. Hy kies nie dié wat Hom kies nie. Hy kies sondaars. Nee, Hy kies ons. Juis vir ons gee Hy geloof en die sekerheid wat die geloof gee, dat ook ons, deur die Gees, kan wéét dat ons wel gekies is, kinders van God is, behoort (III/IV)!

Dit is daarom belangrik dat niemand dié wat uit­verkies is laat glo dat hulle dalk nie hierin deel nie. Want niks wat hulle doen of nié doen nie, kan hulle van hierdie kindskap skei nie (V). Daarom dat Gerrit Cornelis Berkouwer, van wie Jonker ’n student was, in die laaste hoofstuk van sy werk oor die uitverkiesing (1955), voor hy die boek hieroor toemaak, waarsku dat die uitverkiesingsleer nie teen hierdie vertroos­tende doel in gebruik moet word nie.

En daarom is die belydenis ook vanjaar van belang!

Want juis ook ons dink en praat vandag nog oor mense asof hulle nie deur God uitverkies is nie, asof hulle nie kinders van God is nie, asof hulle nie aan God behoort nie.

Is dit omdat hulle sondig is, volgens ons? Sê Dordt nie dat ons juis as sondaars deel in God se uitver­kiesende genade nie? Dat ons as sondaars deel van God se familie geword het en dus susters en broers van mekaar is nie?

Is dit in die naam van Dordt dat God se kinders verwerp word, weeskinders word – dit wat, volgens Dordt, nie moontlik is nie? Is dit dan nog Dordt, die belydenis van die uitverkiesende genade van God, wat ons bely? En beliggaam?

– Dr Henco van der Westhuizen doseer historiese teologie aan die Universiteit van die Vrystaat.