Individualisme en kollektivisme – wat rig my hartewense?

https://kerkbode.christians.co.za/2019/06/11/individualisme-en-kollektivisme-wat-rig-my-hartewense/

In Psalm 20 word iemand uitgenooi om op die Here te vertrou, want Hy antwoord in die dag van nood. Verder word die wens of bede uitgespreek dat die Here die een se hartewense sal vervul en sy planne sal laat geluk (Ps 20:5-6). Ook ander tekste in die Bybel mag vir sommige van ons op die klank af klink of dit gelowiges nooi om al hulle begeertes en hartewense aan God be­kend te maak en dat Hy dit sal vervul. Die tekste word dikwels met oorgawe so gepreek en gelowiges word aangemoedig om die Here in dié verband op sy woord te neem.

Wanneer mense se gebede of wense nie vervul word nie, word daar meerma­le geargumenteer dat hulle nie genoegsaam vertrou het nie, nie duidelik was in wat hulle presies verlang nie, of dat wat hulle bid of wens nie “binne God se wil” is nie.

Die indruk is dat Psalm 20 ’n bepaalde koning – ons kan aanvaar van Israel of Juda – in gedagte het en dat dit waarskynlik verband hou met ’n kon­flik van ’n aard. Die wens word uitgespreek dat die Here sal let op die koning se toewyding, terwyl die ko­ning herinner word dat die oorwinning nie in mag en krag lê nie, maar in die naam van die Here. Dit is die konteks van “hartewen­se” en “planne” in hierdie psalm.

Dat hierdie psalm nie individualis­ties nie, maar kollektief verstaan moet word, is enersyds duidelik uit 20:8-10 en andersyds uit ons wete dat Bybelse mense nie individualisties nie, maar dia­diese persoonlikhede was. Hulle was groepsmense met ’n waardesisteem wat met groepsbelange verband gehou het.Die meeste mense was afhanklik van ’n bestaansekonomie, met ’n hoë premie op balans en harmonie in die groep. Die lewe het gegaan om die voortbestaan en welwese van die groep. Hartewense en planne sou altyd ook die belange van die groep ingesluit het.

Wanneer ons as hedendaagse individualistiese Westerlinge die brug slaan tussen die teks en ons eie tyd sal ons met hierdie spanning tussen die individuele en die kollektiewe rekening moet hou.

Die vraag is of daar van geldige interpretasie sprake is wanneer ons son­der meer ’n teks uit ’n wêreld met ’n groeps­gerigtheid en waardesisteem van toepassing maak op ons individualis­tiese, kapitalistiese Westerse hartewense, begeertes en gebede?

Miskien moet ons ’n slag ons harte­wense, planne en gebede, meer groep-gerig en minder “ek”-gerig maak. Verder behoort die groep so inklusief as moontlik en nie klein of eksklusief te wees nie. In Suid-Afrika het ons vandag meer as ooit mense nodig wat in die naam van die Here en nie deur mag of krag nie, gemeenskapsgerig wens, beplan, bid en handel.

▶Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG gemeente Riviera-Jakaranda in Pretoria.