In die PKN het gemeentes die finale sê

http://kerkbode.christians.co.za/2018/11/06/in-die-pkn-het-gemeentes-die-finale-se/

rsiteit, ook diversiteit van teologiese standpunte, is niks vreemds aan die NG Kerk nie. ’n Mens sien dit byvoorbeeld in die uiteenlopende standpunte oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag, maar ook in die onderliggende Skrifbeskouings en Skrifhantering. Wat maak ’n kerk met sulke verskille? LEOPOLD SCHOLTZ kyk hoe die Protestantse Kerk in Nederland (PKN) die saak hanteer.


Die Protestantse Kerk in Nederland (PKN) is ’n breë kerk wat ’n wye verskeidenheid oortui­gings herberg. Dit is in twee opsigte die geval.

Ten eerste het die PKN in 2004 tot stand gekom weens die samesmelting van die Hervormde Kerk, die Gereformeerde Kerke en die Evangelies-Lutherse Kerk. Die samesmelting het aanvanklik slegs op sino­dale en klassisvlak plaasgevind; gemeentes het hul eie karakter behou.

Sedertdien het Hervormde en Gereformeerde gemeentes toenemend ook begin saamsmelt. Die gevoel was dat die verskille hoofsaaklik op die vlak van kerkkultuur was.

Die PKN se belydenisskrifte is, nes dié van die NGK, die Drie Formuliere van Enigheid. Maar die Lutherse gemeentes het die reg behou om hul eie Kon­kordie van Leuenberg as alternatiewe belydenisskrif binne die PKN te handhaaf.

Die tweede aspek is ewenwel belangriker. Dit is dat kerkrade die reg het om self die teologiese rigting van die gemeente te bepaal, en dat geen sinode of klassis dit aan hulle mag opdwing nie.

Dít na aanleiding van die reformatoriese beginsel dat die kerk nie primêr by die hoër vergaderings is nie, maar in die gemeentes. Die kerk is immers ’n versameling gemeentes wat in belydenis en geloof oor­eenstem.

Dus kry jy in die PKN ’n wye verskeidenheid, van ultra-ortodoks tot besonder vrysinnig.

Die een uiterste word verteenwoordig deur ’n ver­eniging in die kerk, bekend as die Gereformeerde Bond (GB). Die GB word gekenmerk deur sy prinsi­piële verwerping van die vrou in die amp, hetsy dia­ken, ouderling of predikant, en sy kompromislose verwerping van homoseksualiteit.

By sommige Bondsgemeentes word nét psalms ge­sing, en dan op die ou manier waar daar geen langer en korter note is nie; alle note is ewe lank. Vroue word geag onderdanig te wees en die kerk met ’n hoed op die kop te besoek; kerkraadslede dra dikwels swart pak­ke met wit dasse en die predikant dra ’n swart toga met wit beffie. Die Bybel word gesien as die letterlike en volmaakte Woord van God.

Daar is ook verskille tussen die Bondsgemeentes. Onlangs is die eerste vroulike predikant in die Amster­damse Jerusalemkerk, ’n Bondsgemeente, bevestig, wat wys dat die vestingmure ook in dié omgewing langsamerhand begin verkrummel.

Die ander uiterste in die PKN word verteenwoordig deur die vereniging Vrijzinnig Hervormd (VH), waarby eweneens sekere gemeentes aangesluit is. Die VH-gemeentes beskou die Bybel deur ’n teologies liberale bril, en het geen beswaar teen die vrou in die amp of aktiewe homoseksualiteit nie, selfs nie by predikante nie.

In enkele gevalle het vrysinnige predikante selfs die bestaan van God of die historisiteit van Jesus van Nasaret bevraagteken. Twee voorbeelde:

In 2007 het ds Klaas Hendrikse van Zierikzee in die provinsie Zeeland ’n boek gepubliseer, Geloven in een God dat niet bestaat: Manifest van een ateïstische domi­nee. Daarin skryf hy dat God nie “bestaan” nie, maar “tussen mense gebeur” – die implikasie synde dat God alleen tussen mense se ore bestaan.

’n Tugprosedure teen hom het op niks uitgeloop nie. Sy vrysinnige kerkraad se bevinding was dat sy prediking nie die fondament van die kerk aantas nie.

In 2010 het die PKN se sinode hom wel van Hendrikse se opvattings gedistansieer, maar die saak is verder by sy kerkraad gelaat.

In 2014 het ds Edward van der Kaaij van Nijkerk ’n boek gepubliseer waarin hy ontken het dat Jesus ooit bestaan het. Die eerste Christene het die idee van Jesus as gekruisigde Seun van God by die antieke heidene oorgeneem, was sy standpunt.

Sy vrysinnige kerkraad wou aanvanklik nie teen hom optree nie, maar meer ortodokse buurgemeentes het daarna geweier dat hy by hulle preek. Uiteindelik het sy kerkraad hom afgedank, maar binne ’n paar maande het hy ’n beroep van ’n ander gemeente in die dorp Aardenburg aanvaar.

Verreweg die meeste gemeentes is ewenwel gematig konserwatief. In die stede groepeer die gemeentes hulle na gelang van teologiese oortuiging en kan kerkgangers self besluit waar hulle hulle die meeste tuis voel.

Die PKN doen in gehoorsaamheid aan Jesus se oproep in Johannes 17 baie moeite om die uiteenlopende vleuels bymekaar te hou. Wanneer klassisse of die algemene sinode inisiatiewe onderneem, word ­spesiale aandag gegee aan die teologiese verteenwoordigheid van die inisiatiefnemende liggaam sodat alle rigtings seggenskap het.

Dalk gaan die PKN soms bietjie te ver, soos in die geval van di Hendrikse en Van der Kaaij. Maar dit is uitsonderings; oorwegend behandel die vleuels mekaar met respek en verdraagsaamheid.

Is dit dalk ’n model vir die NG Kerk?

▶ Dr Leopold Scholtz is ’n historikus en onafhanklike ontleder.