Imagineer dra reuse-kruis vir kanker

http://kerkbode.christians.co.za/2018/04/16/imagineer-dra-reuse-kruis-vir-kanker/

 

Nadat Johan Smit in 2017 die #imagine-fees in Bredasdorp bygewoon het, besluit hy hy wil ’n verskil maak. En in egte #imagine-styl het dié ma­triek­leerder van Clanwilliam nie net gedroom nie, maar gedóén. Vanjaar het hy by die 2018-fees kom getuig.

“In 2017 het ek gevoel God sê vir my ek moet uitgaan en ’n verskil gaan maak. Ek het heeltyd met God hieroor gepraat, en ge­vra wat kan ek doen,” sê Johan.

Toe hoor hy van klein Mihla Engel­brecht, ’n vierjarige dogtertjie van Rustenburg met ’n rare vorm van breinkanker. ’n Gedeelte van die gewas in haar brein is verwyder, maar daar word steeds geld ingesamel sodat sy in Desember vir spesiale behan­de­ling in Amerika kan gaan om te verhoed dat die kanker terugkom.

Johan wou help en het toe ’n muntlegging by sy skool, Augsburg Landbougimna­sium gereël. Die leerders was gretig om te help en R20 000 is uiteindelik vir Mihla ingesamel.

Johan Smit, met die kruis waarmee hy gestap het. Foto’s verskaf

Johan wou nóg meer doen en het toe be­sluit om ’n kruis van 2,4 meter hoog te bou. Hy het die name van Mihla en ander kan­kerlyers wat hy ken daarop geskryf en be­­sluit om ter ere van hulle daarmee te stap. Voor hy op 28 Maart die 5 km afgelê het vanaf Bo-vlei, ’n plaas buite Clanwilliam, tot by sy ouers se plaas, Middeltuin, het hy vir do­nasies gevra.

Hy vertel: “Ek het familielede, bure en vrien­de vir donasies gevra. Op die ou end het almal se bydraes, van groot donasies tot ’n R10, ’n verskil van R10 000 gemaak.”

R6 000 hiervan het Johan vir die Mihla Trust inbetaal. Die oorblywende R4 000 het hy in ’n koevert saam na vanjaar se #imagine-fees in Bredasdorp geneem – om in 2019 te betaal vir tieners wat dit nie kan bekos­tig nie.

“Ek gun #imagine vir elke tiener. Almal móét dit net een keer beleef. Ek gaan dit een­dag bywoon tot ek 60 is,” het Johan skertsend bygevoeg.

“Daar het ek besef, maak nie saak hoe­veel foute ek al gemaak het of wat ek al verkeerd gedoen het nie, saam met Jesus kán ek ’n verskil maak.”

Johan se storie sluit aan by vanjaar se deurlopende tema van Saggeus wat na vore gekom het in die program. Al is Saggeus deur ander skeef aangekyk oor alles wat hy verkeerd gedoen het, het Jesus met ander oë na hom gekyk. Sy ontmoeting met Jesus het hom verander om ’n seën vir ander te wees.

Ds Anriëtte de Ridder, predikant in si­no­dale diens van die Wes-Kaaplandse Jeug- en Familiebediening én #imagine-koör­di­neer­der, vertel Johan se storie het hul­le so aan­ge­gryp dat hulle ’n video gemaak het om sy getuienis met die imagineers, soos die tie­ners by die #imagine-feeste genoem word, te deel.

Sy sê: “Hy het die imagine-droom gesnap én dit gaan doen.”

Anriëtte sê hulle het vanjaar by elke fees nóg meer gefokus daarop om tieners toe te rus om ’n verskil in hul gemeenskap te gaan maak deur talle werkwinkels daaroor aan te bied.

Die ander twee bene van die #imagine-feeste se oorhoofse strategie was hoe om met God te connect (geestelike groei) en hoe om met ander gelowiges te connect, sê Anriëtte.

Hulle het dié strategie gebaseer op navorsing wat in 2017 onder imagine-tieners deur middel van ’n aanlyn-vraelys en op Whats­App gedoen is.

Volgens beskikbare syfers het sowat 5 500 tieners die feeste in Bredasdorp, Jeffreys­baai, Bothaville en Bela-Bela bygewoon. Meer as 300 dorpe, heelwat meer as ’n 1 000 ge­­­meen­tes en sowat 60 denominasies se tieners het weereens kom deel in die “imagine-droom”.

The post Imagineer dra reuse-kruis vir kanker appeared first on e•Kerkbode.