Hoe moet predikante se salarisse werk?

Cobus van Wyngaard van Sunnyside, Pretoria, skryf:

Ek was ’n finale jaar student toe ek die eerste keer afgevaardig word na ’n sinodesitting. Ek het maar net geluister. Die sinode moes onder andere ’n voorstel dat die salariskas gesentraliseer word oorweeg. Ek onthou van die argumente, hoe duidelik dit vir my was wat die regte pad sou wees, en my eie skok toe die sinode uiteindelik daarteen besluit.

Wat moet ons daarmee maak as twee gemeentes etlike kilometers van mekaar af bestaan, en die een ’n besluit kan neem om hulle predikante substansieel bo skaal te betaal, terwyl ’n ander hul predikant ver onder die skaal betaal? Wat sê dit oor ons kerkbegrip? Ons kan hoeveel mooi dokumente skryf oor die kerk, maar as iemand sou wou vra hoe ons in die NG Kerk oor “kerk” of “verband” dink, is dit werklik die dokumente wat die hardste praat? Of is dit die wyse waarop ons ons bronne met mekaar deel? Die wyse waarop ons bedieningsuitdagings saam in die oë kyk?

Hoe klink ons publieke stem in ’n wêreld van ekonomiese uitsluiting wanneer die inkomstevlakke van gemeentelede bepaal hoeveel tyd die plaaslike dominee tot haar of sy beskikking sal hê om voor te berei vir Sondag se preek, of selfs óf daar iemand sal wees om mense pastoraal te versorg? En dan het ons nog nie geraak aan die komplekse vraag of predikante in lae sosio-ekonomiese omgewings nie in werklikheid meer komplekse en drukkende werksomgewings het nie.

Natuurlik moet ons kerk wees in ryker omgewings ook. Maar as die konkrete realiteit van hoe poste en salarisse werk konstant kommunikeer dat die kerk se teenwoordigheid van groter belang is waar daar meer geld beskikbaar is, dan moet ons lank stilstaan by die vraag wat dit beteken om kerk te wees, of om ’n kerkverband te wees.


Note: There is a poll embedded within this post, please visit the site to participate in this post’s poll.