Heuning uit die seshoek-sel

http://kerkbode.christians.co.za/2018/12/03/heuning-uit-die-seshoek-sel/

“Uit die gevormde literatuur is nooit weer poësie te maak nie,” het die digter NP van Wyk Louw in sy Ars Poetica van 1962 verklaar. Heuning, sê hy, word “uit blomsap” gemaak en “uit heuning self, glo nog; maar nie meer uit die seshoek-sel.”

Hiermee stel Louw die vraag oor die oorspronklikheid van kuns aan die orde: Is goeie kuns “oorspronklik” in die sin dat dit in beginsel vry is van beïnvloe­ding deur enige ander reeds bestaande kunswerk? Op die oog af lyk dit asof Louw van mening is dat dit inderdaad ’n voorwaarde vir goeie kuns is, alhoewel hy wel toegee dat “heuning … uit heuning” tot stand kan kom.

Die werklikheid is egter dat alle kuns deel uitmaak van ’n tradisie en dat daar binne enige tradisie ’n voort­durende gesprek is tussen nuwe skeppinge en kuns­werke wat dit voorafgaan. Oorspronklikheid bete­ken in die lig hiervan nie dat daar geen sprake van wedersydse beïnvloeding is nie, maar dat elemente en motiewe uit die verlede op ’n kreatiewe manier herbenut word en opnuut betekenis kry in ’n nuwe konteks. Dit sou op een van twee maniere kon gebeur: óf deur herbevestiging van wat ’n vorige kunswerk wou oor­dra, óf deur krities in gesprek daarmee te tree.

’n Fassinerende voorbeeld van hierdie proses van herinterpretasie is die Studie na aanleiding van Diego Velázquez se Portret van Pous Innocentius X deur die Iers-gebore Britse skilder Francis Bacon (1909-1992).

In die oorspronklike werk van die Spaanse hofskilder Diego Velázques (1599-1660) (links hieronder afgedruk) word die pous uitgebeeld met die waardigheid van ’n hoogs intelligente en uitgeslape persoon. Sy houding en kleredrag straal selfvertroue en inhe­rente gesag uit – ’n toonbeeld van absolute mag in ’n tyd toe die gesag van die pous feitlik onbetwis in die destydse wêreld was.

In Bacon se werk (regs hieronder) word hierdie visie van mag op meedoënlose wyse gedekonstrueer. Die uiterlike tekens van kerklike mag is nog daar, soos verteenwoordig deur die klere van die pous en die troon waarop hy sit. Die kleur van die pouslike mantel het egter verwissel van ’n swierige rooi na ’n byna sieklike pers-blou, terwyl die pouslike troon in die woorde van die joernalis Michael Glover in die proses is van “transmogrifying … into something else, a corral or a cage-like shape”.

Die pous as verteenwoordiger van kerklike mag is volgens Glover hier “in the throes of becoming trapped inside that which once served to emphasise his hieratic eminence. The chair on which he sits, fiercely gripping its arms, almost seems to be in motion … It lacks groundedness, solidity … For all that, he grips it in order to re-find some stability.”

Die mees opvallende is dat die selfvertroue van Velázquez se pous plek moes maak vir die angstigheid en onsekerheid van Bacon se eietydse pous (waarskynlik soos die vyf ander “skreeuende pouse” wat hy op obsessiewe wyse op dié skildery van Velázquez gebaseer het, ’n toespeling op Pius XII wat pous was van 1939 tot met sy dood in 1958). Hierdie angstigheid en onsekerheid word nie net weerspieël in die wyse waarop die pous met sy hande aan die troon vasklem nie, maar veral in die angskreet waardeur sy gesig op skrikwekkende wyse vertrek word. Dit is ’n pous, weer in die woorde van Glover: “utterly robbed of his imperious serenity. He now inhabits a terrible, streaked, shimmering void of unknowing”.

Die herinterpretasie wat deur Bacon in hierdie kunswerk voltrek word, lewer vlymskerp kommentaar op wat van mag (en veral in dié geval van kerklike mag) in die moderne era geword het. Die vaste sekerhede waaraan dit in die verlede geanker was, het grootliks verval, en wat oorbly is ’n angstige gevoel van vervreemding en verlies. Agter die uiterlike reste van magsvertoon lê wat in die woorde van ’n anonie­me kunskritikus beskryf is as: “that existential fear, loathing and incomprehension at the atrocities … that came to light at the end of World War II”.

Daarin lê egter ook die kreatiewe moontlikheid om op ’n nuwe manier te dink oor kerklike gesag: nie meer in terme van mag en beheer nie, maar met ’n groter bewustheid van menslike weerloosheid en onsekerheid; minder beheptheid met die uiterlike vertoon van groot en magtige kerklike strukture, en ’n meer nederige ingesteldheid teenoor die kompleksiteite van die lewe; leierskap wat as ’t ware van die heersertroon afklim en gestalte vind “nie deur baas te speel oor dié wat God aan julle toevertrou het nie, maar deur ’n voorbeeld vir die kudde te wees” (1 Pet 5:3).

Deel van hierdie uitdaging bly egter om nie die kreet van Bacon se skreeuende pous te misken nie. Want, sê Glover: “this scream is not quite a denial … To scream against the denial of the light is also a self-vaunting and heroic thing”. Weerloosheid en protes staan nie noodwendig teenoor mekaar nie, maar kan saam dalk juis meer vermag. Soos heuning uit die seshoek-sel.

▶ Dr André Bartlett is hoof van Excelsus, die NG Kerk se sentrum vir bedienings­ontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria.