Please note: You are viewing the unstyled version of this site, either your browser does not support CSS or it has been disabled.
Skip to : [Content] [Services Menu] [Quick Navigation]


Message Details

Message posted on:
16 December 2009
Message author:
Andries Combrink
Message topic:
Versoeningsdag, 16 Desember

 

advertisement

 

The current message


GELOFTEDAG / VERSOENINGSDAG.
Kan burgerlike versoening in ons land ’n werklikheid word?

Versoeningsdag, 16 Desember, is ‘n burgerlike Suid Afrikaanse nasionale vakansiedag, en nie, soos byvoorbeeld Kersfees, Lydenstyd en Paasfees, ’n dag wat alle Christene en kerke in die wêreld vier nie. Dit is uit die geskiedenis van Suid Afrika gebore en bied vir Suid Afrikaners die geleentheid om oor versoening te dink, te bid en dit in die praktyk ’n werklikheid te probeer maak.

Die Reënboognasie word uitgedaag deur die realiteite van diversiteit. Dit maak vrede, samewerking en versoening ’n groot uitdaging en dit sal steeds in die toekoms uitdagend bly.

Ons het die dag vroeër Geloftedag genoem, want Versoeningsdag het 'n historiese perspektief wat begin by die gelofte en die slag van Bloedrivier. Maar pasop om nie in die geskiedenis dinge in te lees, of om met die geskiedenis iets te probeer maak, wat nie eerlik is nie. Wie byvoorbeeld die geskiedenis van 16 Desember 1838 as 'n wit-swart polarisasie vertolk, kyk met 'n kleinlike politieke en rassistiese bril daarna. Nee, die konfrontasie was tussen Christelike waardes soos regverdigheid, veiligheid en vryheid teenoor goddelose waardes soos misleiding en moord.

Bloedrivier was nie 'n konfrontasie tussen wit en swart nie. Benewens die 468 wit Voortrekkers en 3 Engelse was daar ook 60 swart mense en 'n onbekende getal bruinmense in die laer. Dingaan was nie as aanvoerder van 'n 'Swart mag' beskou wat vernietig moes word nie. Bewys daarvan is die bondgenootskap tussen Voortrekkerleier Pretorius en Mpande, halfbroer van Dingaan, wat deur 'n straf ekspedisie saam met 17 000 Zoeloes finaal met ’n moordlustige en algemeen gevreesde diktator, Dingaan, afgereken het.
Afrikaners het nie deur hierdie geskiedenis en die gelofte ’n uitverkore volk geword nie en swart mense is nie daardeur buite die genade van God geplaas nie. Dis oneerlik om dit so te sien en die geskiedenis bewys dit as onwaar.

Die gelofte is juis gemaak omdat daar by die Voortrekkers 'n deurlopende besef was dat hulle van God afhanklik is en dat hulle daarom aan God rekenskap verskuldig is. Dit mag dus nooit gebruik word om haat, woede, vrees en polarisasie, kleinlike politiek en aftakeling van mense wie se kultuur van jou verskil, aan te blaas nie. Daarom is die naam Versoeningsdag ook ’n goeie naam vir dié dag. Want as eer aan God gegee word op grond van ’n historiese veldslag, kan dit deur Christene net versoenend en afhanklik van God, gedenk word.

As dit ’n dag is waarop almal in ons land sou kon bid en werk vir versoening, regverdigheid en vryheid en saamwerk teen emosies van magtelose vrees en woede, kan en sal dit God eer. Want dis ook wat God vir ons en vir alle mense wil hê. Versoening, regverdigheid en vryheid is ook waardes wat alle regdenkende mense in die geliefde land met mekaar deel, afgesien van hulle taal, kultuur of politieke keuses.

Die grootste uitdaging, voordat versoening moontlik is, is om van woede as gevolg van onreg, ontslae te raak. Almal wat hier bly en Christenwaardes as belangrik beskou en wat korrupsie, misdaad, geweld en banale materialisme en selfsugtigheid as gemeenskaplike vyande sien, kan saam veg en saam wen. Maar ons moet ophou om kwaad te wees en gewillig wees om as Christene vrede te maak met mekaar en so die vyande van vrede saam die stryd aansê!

’n Mens wat oor die algemeen as ’n woedende mens, ’n aggressiewe, ontevrede mens lewe, kan nooit gelukkig wees en kan nie die vrede van God vertaal in ’n betekenisvolle lewe wat van God afhanklik en God vererend en veilig is nie.

Op Versoeningsdag -
· Bid vir vrede in Suid Afrika.
· Bid teen geweld, misdaad en korrupsie.
· Bid teen vreemdelinge haat en bloedvergieting.
· Bid teen elke vorm van diskriminasie - ook teen ras gemotiveerde werk reservering en bevoordeling soos prakties ervaar in regstellende aksie! Bid vir aksies wat liewer alle sosiale en ekonomiese onreg wil regstel en uitroei.
· Bid teen gulsige materialisme waar arm mense armer word en geen hulpelose bemagtig word nie, al word dit bemagtiging genoem, want dis oneerlik en beroof al die arm mense in die geliefde land van geleenthede.
· Bid vir voedsel sekuriteit vir almal wat hier woon.
· Bid vir goeie onderwys en ontwikkeling van vaardighede by alle kinders in elke gemeenskap.
· Bid vir geloof by almal wat hier woon; geloof in ’n regverdige God wat mense met Homself in Jesus Christus wil versoen.
· Bid teen elke vorm van rasse-haat en kwaadwilligheid teenoor mense op grond van ras en kleur.
· Bid dat eerlikheid en eerbaarheid, veiligheid en Christen waardes sal seëvier.
· Bid dat die Kerk van Christus in elke opsig en op elke plek regverdig sal wees en nie kulturele voorkeure sal verteenwoordig nie, maar versoening met God in Christus Jesus sal verkondig aan alle mense, sonder aansien van die persoon en sonder om een groep bo die ander te bevoordeel.
· Bid dat Christene van alle tale en afkoms en van alle Christen tradisies, eenheid en versoening in Christus sal vind en dit prakties in die geliefde land sal uitleef as voorbeeld vir almal wat onreg pleeg en haat en woede aanwakker.
· Bid teen apartheid in die Kerk van Christus, sodat ons effektief getuies van ’n heilige, regverdige God kan wees.
· Bid vir die vrede van die Kerk van Christus, vir bewaring van die Geloof en vir getrouheid aan God en aan sy Seun, aan die Woord en aan die waarheid en geregtigheid.

Mag die liefde van God ons rein en heilig hou.

 

 

Post a Reply

 
 
 

Back to top