Bybelvraebus - Vrae & Antwoorde
- Geplaas op:
- 20 Januarie 2010
- Geplaas deur:
- Ria de Vos
- Onderwerp:
- GODDELIKE GENESING
Vraag
Goeie dag ek het n paar goed waaroor ek onduidelikheid het. Die Bybel se dat as ons iets in die naam van Jesus vra ons dit sal ontvang maar hoekom sterf mense dan steeds?
Ons het verskeie male gebid vir genesing vir n siek oom maar hy is steeds oorlede?
Verder leer Jesus die disipels om te bid in die Onse Vader - laat u wil geskied. Is dit dan God se wil dat mense moet siek word en sterf? Hoe bring n mens dit dan in verband met die feit dat die Bybel ook se -God is liefde? Hoekom sou n liefdevolle God dan toelaat dat mense siek word en sterf?Hoop julle kan duidelikheid verskaf. Dankie
Antwoord
Theo
Bedoel jy letterlik dat as God is soos jy Hom wil hê, niemand ooit sal siek word of doodgaan nie? Maar die punt is dat ons in ‘n wêreld lewe waar die dood die één ding is waarvan ons seker kan wees. Ons gaan almal die een of ander tyd sterf. Dit help nie om dit te ontken nie. Dit is ‘n absolute, onveranderlike feit.
As ons eerder bly by die werklikheid van die lewe, en nie dinge op ‘n idealistiese manier probeer uitredeneer nie, gaan ons by ander antwoorde uitkom. Nie altyd dié wat ons graag wil hoor nie, maar as ons antwoorde nie help of werk nie, moet die “regte” antwoorde mos anders wees. En dit is: Die enigste verband waarin ons ‘n belofte het dat ons ewig sal lewe, is wanneer ons sterwe. Die dood is’n deur na ‘n beter lewe – die soort lewe waarna jy nou al verlang.
God belowe ons nie die dinge wat ons vir onsself sê Hy ons behoort te gee nie. As ons Hom wil ken soos Hy is, moet ons Hom glo wanneer Hy in die Bybel vir ons sê hoe en Wie Hy is. Hy belowe nie dat mense nooit sal sterf nie. Jesus self het, as ek reg onthou, net die seun van die weduwee van Nain, die dogtertjie van Jaïrus en Lasarus opgewek. Dit was groot uitsonderings. Hy het ook nie almal gesond gemaak nie. Siekte is ‘n deel van die werklikheid, en is een van die manier waarop mense sterf. Dit is die feite.
Ons stel vir onsself sekere dinge voor as ons ideale. Ons dink geluk en gesondheid is die beste dinge in die lewe. Baie mense voeg rykdom en voorspoed daarby. Maar as ‘n mens by die Here probeer uitvind wat geluk, gesondheid, rykdom en voorspoed is, kom ons by heeltemal ander dinge uit.
Paulus praat só oor sy eie lewe: “Ek het harder gewerk, ek was meer in die tronk, ek is meer dikwels geslaan, ek was dikwels in doodsgevaar. Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van nege en dertig houe gekry, drie maal het ek lyfstraf gekry, en een maal is ek met klippe gegooi. Drie maal het ek skipbreuk gely en een maal het ek ‘n dag en ‘n nag in die oop see deurgebring. Ek was dikwels op reis en in gevaar: daar was gevare van riviere, gevare van rowers, gevare van my volksgenote en gevare van heidene; gevare in die stad en gevare in die veld; gevare op see en gevare onder vals broers. Daar was vir my harde werk en swaarkry, dikwels nagte sonder slaap, dikwels honger en dors; en dikwels was ek sonder kos, sonder skuiling of bedekking teen die koue” (2 Korintiërs 11:23b-27).
“... ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp. Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee” (Filippense 4:11b-13).
Hy was gereeld in die tronk, en tog wat hy in God se oë suksesvol. Hy het verstaan dit gaan nie oor onsself nie. Hy het selfs gesê hy sien uit na sy dood omdat hy dan by Jesus sal wees.
God is ‘n God van liefde. Maar wat beteken dit vir Hom wanneer Hy dit sê? As ons altyd net ons eie interpretasie van iets glo, gaan ons nooit reg verstaan wat enige ander persoon (Persoon) bedoel nie.
Die gedeelte waarin Johannes 2 keer sê: “God is liefde”, is 1 Johannes 4. Maar hy sê meer daaroor. God se liefde staan altyd in die verband van sonde en daarom Jesus se verskriklike lyding en dood. As ons dit liewers wil vergeet, gaan ons dit nooit verstaan nie:
Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ‘n kind van God en ken God. Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde. Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes. Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê. Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik. Hiéraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons: Hy het ons sy Gees gegee.
En ons het gesien en is getuie daarvan dat die Vader die Seun as Redder van die wêreld gestuur het. Wie bely dat Jesus die Seun van God is–God bly in hom en hy in God. En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin. God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom.
Hiérin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wêreld lewe ons reeds deur die liefde net soos Jesus. Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het (1 Joh 4:7-19).
Ware geluk, liefde, gesondheid, sukses lê daarin dat God ons sondes vergewe omdat ons glo dat Jesus vir ons (vir elkeen persoonlik) moes sterf sodat ons kan lewe. Eendag, nadat ons gesterf het.
Lyding is ‘n deel van die lewe, en dit is eenvoudig ‘n feit. God weet van ons pyn. Hy gebruik ons om sy liefde na mense te bring wanneer ons jammer is vir dié wat ly en wanneer ons vir hulle bid. Dit is waaroor dit gaan wanneer ons lees God is liefde. Ons moet sy liefde uitdeel. Sonder ons kan dit nie in die wêreld duidelik word nie. Hoe goed vaar ons? As mense God se liefde nie kan raaksien nie, lê die fout nie by Hom nie, maar by jou en my.
Maar Hy sê nie almal vir wie ons bid, sal gesond word nie. Want die dood is nog steeds ‘n deel van ons werklikheid. As ons nie sterf nie, kan ons nie deur die deur na Hom toe gaan, na die plek waar daar nie siekte of dood is nie.
Lyding is iets waarmee ons vrede moet maak. Het jy gesien dat waar daar ware liefde is, is daar nie vrees nie? Nie vir pyn en siekte nie, en nie vir die dood nie. Want ons rus in God se liefde. Ons weet Jesus is Immanuel, God by ons, in elke situasie. Ons is nooit alleen nie.
Daarom is Romeine 8:26-39 een van die gedeeltes wat my altyd troos. Dit vertel van God se liefde, van hoe Hy by ons is, in lewe en in siekte en in dood. In goeie en slegte tye. En saam met Hom kan ons enigiets hanteer en as oorwinnaars anderkant uitkom.
Die soort liefde wat net goeie goed gee, is soos ‘n ouer wat sy kinders met geld probeer gelukkig hou. Dit kweek ongelukkige, ongebalanseerde en selfsugtige kinders. Die Arabiere sê glo: ‘n Plek waar die son altyd skyn, is ‘n woestyn. Hulle behoort te weet ... ‘n Lewe sonder enige teenspoed is soos ‘n woestyn. Niks groei daar nie.
advertensie