Hart en hande, winter en hoop

https://kerkbode.christians.co.za/2019/06/11/hart-en-hande-winter-en-hoop/

William Hills. Foto: Le Roux Schoeman

William Hills draai links en beduie oor die stuurwiel: “Hierdie is die Nyaope-boys. Hulle slaap almal hier. Jy sien sulke rye. Hierdie outjies is erg druggies. Baie van hulle ken my. Hulle noem my Mr GROW. Dis hartseer. Ek is vir hulle soos ’n pappafiguur.”

Hills, op ’n street smart 60, is een van die kenmerkende gesigte by die nieregeringsorganisasie MES se tak in Kemptonpark. ’n Skraal man met ’n blik wat jou nie los nie. “Jy moet hare op jou tande hê, elke dag,” sê Hills van agter die stuur van MES se vragmotortjie, wat ook al ’n bekende gesig in Kempton se gevaarstrate is.

“Hierdie is ’n rowwe area,” merk hy op op die verstaanbaar dog oorbodige wyse waarop ’n toeris by Kampsbaai dalk sal sê “hierdie is ’n mooi strand” of iemand in die Karoo sal sê “dit lyk maar effe droog hier by julle”. Kempton se middestad is inderdaad rof en hou MES se skuiling beddens vol en kombuisspan besig. Ook die GROW-program, waarmee Hills gemoeid is en wat ten doel het om werkloses en haweloses op stelselmatige en volhoubare manier terug in die werkmark te probeer kry, sien ’n toeloop van meer as 40 mense per dag, vertel Hills.

Nyaope is maar een soort dwelm wat hier aan ’t verwoes is. Jong verslaaf­des staan verniel en verwese teen die skemer, sekswerkers hou in groepies van drie tot vier in die nie-amptelike rooiliggebied en groepe mans wat iewers in die goed-geoliede dwelmketting inpas, staan en vroetel met hulle fone voor donker drink- en kuierplekke.

Hier by MES is die winter veral tyd vir saamstaan met ander nieregerings­organisasies, waarvan baie ander, nes MES, gebore is uit NG Kerk-uitreike en omgee-aksies en intussen reuse-spelers in daardie reuse-veld geword het. Kerkbode het die afgelope drie uitgawes lesers se aandag op Winterhoop* gevestig – die werk wat mense soos William en talle ander doen omdat hulle weet dat die winter se koue vir hawelose en weerlose mense meer as ongemaklik is – dis dikwels lewensbedreigend.

Dit is nie ’n maatskaplike werk-agtergrond wat William hierheen gebring het of daagliks motiveer nie. Hy’t ’n storie, wat begin in 2007, “toe die wêreldmarkte so inmekaar geval het,” vertel hy aan sy besoeker. “Ek het onder in Glen Marais (‘die Sandton van Kempton’) gebly. Baie geld, baie karre, my kinders het na die beste skole gegaan. Eventually het ek alles verloor, Ook my vrou … Dit ná ’n hartaanval. Toe land ek op die sypaadjie voor MES. Toe skreeu ek voor die Here: ‘Hoekom het jy my hiernatoe gebring, met net die klere aan (my) lyf. En Hy’t gesê: ‘Jy kan nie hier sit en sulk nie. Ek het jou hande nodig en ek het jou hart nodig’.”

Meer oor Winterhoop

Die Winterhoopveldtog* sal van­af 1 tot 30 Junie plaasvind. Lede van die pu­bliek word aan­ge­moedig om hoofsaaklik met die insa­me­ling van warm winters­klere, komberse en nie-bederfbare voedsel te help, asook om by plaaslike skui­lings­inisiatiewe betrokke te raak. Dié landswye projek is reeds in sy 19e bestaans­jaar en word deur MES (Mould Empower Serve), PEN (Participate Empower Navi­gate), Torings van Hoop en die Denis Hurley Sentrum, in samewerking met verskeie kerke en welsynsorganisasies aangebied. Die fokus van die projek val op verskeie stede soos Pretoria, Johannesburg, Kaapstad, Durban, Port Eli­za­beth en Bloemfontein, asook klei­ner dorpe binne die land se streke. Vir meer inligting oor die spesifieke behoeftes van die veldtog en die verskillende afleweringspunte, besoek die webwerf: www.winterhoop.org