Glo is soos asemhaal, sê Cecile

http://kerkbode.christians.co.za/2018/06/13/glo-is-soos-asemhaal-se-cecile/

Dr Cecile Cilliers met haar kortverhaalbundel Die ou vrou en die priester.

Dr Cecile Cilliers was die eerste vrou wat in die Algemene Sinodale leierskap van die NG Kerk gedien het. NEELS JACKSON het by haar gekuier kort ná haar debuutbundel kortverhale verskyn het en kort voor haar 84ste verjaardag.


Glo is soos asemhaal, sê dr Cecile Cilliers. Dis die soort geloof wat sy van haar pa gekry het. Van wedergeboorte weet sy niks, sê sy. Sy het grootgeword met glo.

Dis dié soort geloof wat haar in die ou Suid-Afrika by versoeningswerk oor rasgrense betrokke laat raak het.

Later het sy in die kerkleierskap gedien. As ouderling van die NG gemeente Andrew Murray was sy lid van die sinodale kommissie van die Suid-Transvaalse Sinode (wat intussen Sinode Hoëveld geword het). Van 1998 tot 2002 was sy lid van die Algemene Sino­dale Kommissie – die eerste vrou wat daar gedien het.

Destyds was sy ook ’n rubriekskrywer vir die dagblad Beeld. Van 1981 tot 2013 is haar stem weekliks in die koerant gehoor. Toe het haar lesers haar geken as iemand wat skryf oor die lewe, waarvan glo deel is. Nie dweperig of prekerig nie, maar as doodnormale deel van die lewe. Soos asemhaal.

In daardie tyd het Hennie Aucamp al van haar gesê hier is ’n kortverhaalskrywer wat beur om uit te kom.

En toe die koerant haar dienste as rubriekskrywer in 2013 beëindig, het sy dit begin doen. Die resultaat is die bundel Die ou vrou en die priester, ’n debuut op 83 waaroor kritici gunstig geoordeel het.

Sy moes langer skryf as wat sy gewoond was. ’n Koe­rantrubriek het ’n baie beperkte lengte. Kortver–hale vra ’n langer aanpak.

Rubrieke, sê sy, beskryf die werklikheid. En haar kortverhale begin ook daar – by dinge wat sy self beleef het of wat vir haar vertel is. Maar dan neem die verhaal sy eie loop.

En ook in die kortverhale sien ’n mens die goue draad van gelowig lewe wat daardeur loop.

“Beeld van ’n lewe: man en perd” (in aansluiting by NP van Wyk Louw se gedig “Beeld van ’n jeug: duif en perd”) begin byvoorbeeld met die sin: “Hy wou van kindsbeen af predikant word, al was hy so ’n platjie.”

Daniël gaan studeer teologie, maar word uiteindelik nie predikant nie. Hy erf die plaas en gaan boer met perde. En dis in die verhouding met Sjerrie (en die woord “spogperd” laat nie reg geskied aan dié manjifieke dier nie) dat ’n stuk lewe uitspeel.

Want dit is waaroor die verhale gaan. Oor die lewe.

In van die verhale neem die geloofslewe ’n meer sentrale plek in. Soos in “Brood”, waarvan ’n vroeëre weergawe verskyn het in Bloots, ’n bundel erotiese verhale met ’n titel waarvan Cecile niks gehou het nie.

“Brood” is die verhaal van ’n weduwee wat 10 jaar na haar man se dood steeds hunker na die streling van sy hande oor haar lyf. Dan gaan woon sy ’n stil diens by waar die nagmaal bedien word – en op merkwaardige wyse word dié uiteenlopende gegewens bymekaar gebring wanneer die nagmaal ’n vreugdefees word wat ’n honger by haar stil.

Daar is die titelverhaal van die bundel oor ’n ou vrou wat deur haar kinders in ’n ouetehuis ingeboender word. Wat haar aan die lewe hou, is haar boeke. Maar nie boeke van Christelike skrywers nie. Dit is aannames, feëverhale. Sy is ’n ateïs.

Dan trek daar ’n priester in die ouetehuis in, ook ’n boekmens. En om die interaksie tussen hulle, tot op haar sterfbed, word die res van die verhaal gebou.

Maar, sê Cecile beslis, haar verhale is nié godsdienstige verhale nie. Sy onderskei baie duidelik tussen godsdiens en geloof. “Ek is nie ’n godsdienstige mens nie. Ek is ’n gelowige mens,” sê sy, en voeg by dat kerk niks met geloof te doen het nie.

Geloof gaan oor die Opperwese en die manier van leef wat daaruit voortvloei, sê sy. Terwyl godsdiens oor gebruike en rituele gaan.

Kerk het haar bitterlik teleurgestel, sê Cecile. Daar was soveel kanse wat die kerk gehad het om te wys hy kan voor loop, maar dan het die kerk haar teleurgestel in sy liefdeloosheid.

Sy verwys na die hele kwessie van ras. Hoe lank het dit die NG Kerk geneem om te begin vorder wat dit betref? En waar staan die NG Kerk nou met eenheid met ander kerke? Wat van Belhar? vra sy. Wat van die posisie van vroue? En nooit het die kerk haar meer te­leurgestel as met sy besluite van 2016 nie.

Maar dit het haar geloof nie aangetas nie.

Sy praat oor God en oor Jesus, oor hoe wonderlik dit is om te dink aan Jesus wat as mens op aarde geloop het. Maar ook oor die ervaring dat Jesus aan haar verskyn het toe sy ’n paar jaar gelede baie siek was.

Sy dink nie mense verstaan vir Jesus goed genoeg nie. Of wat dit is om as Christen te leef nie.