Gepenpoets? Vrae oor briefskrywer se identiteit

https://kerkbode.christians.co.za/2019/06/13/gepenpoets-vrae-oor-briefskrywer-se-identiteit/

’n Soektog na ’n briefskrywer se bewyse van lidmaatskap by Moreletapark Gemeente is in Pretoria van stapel gestuur deur ’n gemeentelid wat snuf in die neus gekry het oor die skrywer se aanspraak dat hy tot dié makrogemeente behoort.

“Ek het by die gemeentebestuurder navraag gedoen en hy het vir my gesê … (dat) geen leraar of ander lid van die leierskap van die gemeente so ’n persoon ken nie,” het Danie Haasbroek, op 19 Junie per e-pos aan Kerkbode geskryf.

“Hulle kon hom ook nie in die gemeenteregister opspoor nie, want hulle sou hom graag vir ’n gesprek wou uitnooi,” het Haasbroek gesê.

Dit volg na die brief van Johan van Aswegen op 16 Mei per e-pos aan Kerkbode gestuur en daarna as een van vier briewe op die brieweblad van die gedrukte Kerkbode van 31 Mei verskyn het. Die brief is ook aanlyn gepubliseer, by www.kerkbode.co.za, waar dit deur sowat 500 mense gelees is, gemeet van publikasie op 27 Mei tot 12 Junie.

Pieter Breytenbach, bedryfshoof van die gemeente, het die kommunikasie met Haasbroek vandeesweek bevestig en gesê hulle sal ’n gesprek met Van Aswegen verwelkom.

Van Aswegen het in sy brief kritiek uitgespreek teen die gemeente, wat oorweeg om weens ’n aantal redes die NG Kerkverband te verlaat.

“Die pad wat Moreleta nou gaan stap is een wat weg is van die Woord van God, een waar hulle baas is oor hulle eie besluite en waar hulle as eie profete optree,” meen die briefskrywer, wat nie vandeesweek gereageer het op Kerkbode se e-posnavraag oor die bewering dat hy / sy Kerkbode en dié se lesers sou wou mislei deur die volgende sin uit die brief nie: “Ek is ’n NG Moreleta-lidmaat en hulle besluit is vir my hartverskeurend.”

“Van Kerkbode se kant streef ons eenvoudig na waarheid en akkuraatheid – ook op die brieweblad waar ons lesers se bydraes verwelkom en in goedertrou aanvaar,” het Kerkbode op 10 Junie in ’n e-pos aan Van Aswegen geskryf met die versoek ter verheldering rondom die verwarring. Teen 13 Junie was daar nog geen reaksie hierop nie en die briefskrywer het nie verdere kontakbesonderhede verskaf nie.

“Indien dit wel blyk dat ons mislei is – soortvan gepenpoets of ge-punk is deur iemand, sal ons ’n regstelling plaas en oorweeg om ’n hoër drempel van deelname aan die brieweblad te stel,” het Le Roux Schoeman, Kerkbode se redakteur gesê. – Eie kantoor.