Genesing ten spyte van verskrikking

http://kerkbode.christians.co.za/2018/07/09/genesing-ten-spyte-van-verskrikking/

Die Spaanse skilder Pablo Picasso (1881-1973) is waarskynlik die bekendste, maar tegelyk ook die mees kontroversiële kunstenaar van die 20ste eeu. Dit het nie net met die onkonvensionele aard van sy kuns te doen nie, maar ook met sy flambojante leefstyl en sy uitgesproke ateïsme.

Wat opvallend van sy werk as kunstenaar is, is dat hy, ten spyte van die feit dat hy hom gedistansieer het van enige vorm van georganiseerde godsdiens en van die Katolieke geloofstradisie waarbinne hy grootgeword het, herhaaldelik gebruik maak van religieuse (en heel spesifiek Christelike) motiewe en temas.

Ook hieroor loop die menings sterk uiteen. Aan die een kant is daar kunskritici soos Hans Rookmaker wat in sy boek Modern art and the death of a culture uiters afwysend staan teenoor die religieuse aard van Picasso se kuns. Hy praat onder andere daarvan as “a whirlwind of anarchy, nihilism and the gospel of revolution” en “the shattering of art’s capacity to convey the goodness and intelligibility of the world”.

Daarteenoor is daar die oordeel van kritici soos Jane Dillenberger en John Handley wat in hulle boek The religious art of Pablo Picasso  hierdie kuns beskryf as “profoundly Christian insofar as the Christian narrative resonates in the paintings and drawings when one encounters this art”.

Wat in ag geneem moet word, is dat Picasso se ateïsme in die eerste plek verstaan moet word as ’n reaksie teen die reaksionêre en eng moralistiese Spaanse Katolisisme van sy tyd: Dit was eerder gerig teen die bepaalde gestalte van die kerklike struktuur as teen dít waaroor dit ten diepste in die Christelike geloof gaan. Dit verklaar waarom hy hom nie daarvan kon weerhou om telkens weer terug te keer na sentrale Christelike simbole – in besonder die uitbeel-ding van die kruisiging van Christus – nie.

Sy gefassineerdheid met die kruisiging word duidelik geïllustreer in die skildery “Kruisiging” wat in 1930 geskilder is. Soos in die tradisionele uitbeelding van hierdie gebeure neem die kruisfiguur die sentrale plek in die kunswerk in. Anders as gebruiklik, word Christus en die kruis in swart en wit geskilder, terwyl die res van die skildery oorheers word deur helder skakerings van rooi, geel en oranje. Daarmee verskuif die fokus weg van die lydingsgebeure aan die kruis self na die reaksie van angs en verskrikking wat deur die gebeure by die omstanders gewek word.

Die feit dat die Christusfiguur sonder enige her-kenbare trekke uitgebeeld word, gee aan die gebeure ’n meer universele betekenis as net die eenmalige gebeurtenis wat 2 000 jaar gelede plaasgevind het. Dit word as ’t ware die simbool van alle onreg en lyding wat dwarsdeur die geskiedenis ’n sentrale deel uitmaak van die menslike ervaring. Anders as die res van sy liggaam word die een arm en hand van Christus wel in kleur geskilder, om daarmee aan te dui dat die lyding van Christus onlosmaaklik deel van die gewone aardse lyding van mense uitmaak.

Rondom die kruis word verskeie ander figure uitgebeeld, onder andere die soldate wat aan die voet van die kruis die lot werp oor Christus se klere, ’n persoon bo-aan ’n leer besig om Christus se een hand aan die kruis vas te spyker, en ’n figuur op ’n perd wat Christus se sy met ’n lans deurboor. Opvallend is dat hierdie figure heelwat kleiner is as die ander figure in die skildery, wat verstaan sou kon word as ’n toespeling op die onbeduidendheid van diegene wat vir die lyding en ellende in die wêreld verantwoordelik is  – “the banality of evil” in die taal van Hanna Arendt.

Weerskante van die kruis is daar verskeie ander figure wat beswaarlik van mekaar onderskei kan word. Die figuur aan die linkerkant dra ’n swaar las op die skouer en het ’n gesig wat vertrek is in ’n mengsel van pyn en verdrietige protes. Net regs van die kruis is ’n figuur met ’n blik wat in verdwasing afgewend is van die kruisgebeure, terwyl die figuur heel regs se hande in ’n pleitende gebaar ten hemele saamgeklem is.

Die mees opvallende van die figure aan die regterkant het ’n kop veel groter as sy/haar voete, oë wat lyk asof dit geblinddoek is en ’n vreemde glimlag op die gesig. Sou dit ’n ironiese verwysing wees na mense wat blind is vir die lyding rondom hulle en deur die lewe gaan asof alles in orde is – terwyl alles in werklikheid drasties buite orde is?

Enigmaties is die figuur wat aan die gekruisigde Christusfiguur vasklem en met ’n oopgesperde mond op die punt staan om bloed uit die kruiswond aan Christus se sy te drink. Moontlik ’n verwysing na Maria Magdalena wat by die lyding aan die kruis verbykyk en die verlossende aard daarvan aangryp – so asof sy saam met mense deur die eeue wil sê: “Deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom”.

▶ Dr André Bartlett is die hoof van Excelsus, die NG Kerk se Sentrum vir Bedieningsontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria.