Gemeente sê: ‘Ons doen niks glamorous nie’

Die NG gemeente Wilgespruit wil volg waar Jesus lei – en ’n mens sien dit in die verskeie maniere waarop hulle uitreik na mense in nood. Neels Jackson berig.

Dis ’n koue wintersoggend aan die Wes-Rand. Kouefront op kouefront het die vorige dae oor die Kaap gespoel en hier word die rimpelings daarvan gevoel in ’n ysige wind wat waai.

Op ’n straathoek sit sowat 40 mans en probeer ’n bietjie warmte uit die winterson te oes. Hulle is van vroeg af daar in die hoop dat iemand wat ’n dagloner soek, hulle sal kom haal. Maar teen 10:00 het daardie hoop beskaam.

Dis dan dat ’n groepie mense van die NG gemeente Wilgespruit daar kom stilhou. Die mans ken hulle al. Hulle draf nader en kom staan in twee netjiese rye.

Pastoor Peter Hlokwa bring ’n boodskap en bid vir die werklose mans terwyl hulle tou staan om
kos te kry. Foto: Neels Jackson

Eers bring pastoor Peter Hlokwa ’n kort geestelike boodskappie. Hy het ’n lang verbintenis met Wilgepruit sedert hy jare gelede as lid van ’n diensjaarspan by die gemeente betrokke geraak het. Intussen het hy ’n onafhanklike gemeente in ’n township begin, maar die vennootskap met Wilgespruit bly sterk.

Dan word daar kos uitgedeel. Elkeen kry vier snye brood wat deur lidmate van Wilgespruit gesmeer is en kerk toe gebring is. Soms is daar ’n winkel wat pasteitjies of ander kos gee, en dan is die maaltyd groter.

Dit gebeur elke Woensdag op twee straathoeke in Roodepoort.

Simon Mate is een van die mans wat kom kos kry. Hy is 43 jaar oud, kom oorspronklik van Mahikeng, en hy soek werk. Hy het, anders as party van die ander, darem blyplek. Oor Wilgespruit se mense, sê hy. “They help us.” Later voeg hy by: “They pray for us.” Hy vertel dat daar party van die mans is wat dae lank sonder kos gaan. Hy dink God het hierdie mense gestuur om hulle te help.

Gift Mkhata kom van Malawi af. Nadat hy sy kos gekry het, kom vra hy of hulle hom nie kan help met ’n Chichewa-Bybel nie. So twee keer per jaar bring Wilgespruit se mense wel Bybels, maar vanoggend is daar nie. Hulle hoor egter die versoek en help solank met ander geestelike leesstof wat hulle by hulle byderhand het.

En dis nie net die honger mans vir wie die uitreik betenisvol is nie. Vir Anne Dugmore van Wilgespruit is dit ook sinvol. “’n Mens voel jy dra die liefde van Jesus daar uit,” sê sy. “Dis waaroor dit gaan.”

Ds Hennie West vertel dat hierdie uitreik maar een van baie voorbeelde is van die kern van die gemeente se bestaan. Nog lank voordat “missionaal” ’n gonswoord in die kerk geword het, het hulle dit begin leef.

Om Jesus te leef
Dis waaroor Jesus se boodskap oor die eindoordeel in Matteus 25 gaan. Elke keer dat hulle brood gegee het vir een van die geringstes, sê Jesus, het hulle dit aan Hom gedoen. En die gemeente snap dit. “Hier by ons gaan dit doodgewoon daaroor om Jesus te leef in ons gemeenskap,” sê Hennie. As hulle afkondig dat daar ’n gesin in nood is en dat hulle ’n bed nodig het, dan is dit dalk twee dae, dan bring iemand ’n bed.

Die gemeente leef hierdie roeping om mense in nood te help, op vele fronte uit. Daar is byvoorbeeld die Makietiefees, die gemeente se jaarlikse kermis of basaar. By dié geleentheid word kinders en personeel van vyf kinderhuise in die omgewing genooi. Daar word vir elkeen ’n koevert met kaartjies ter waarde van sowat R150 gegee en hulle kan dit bestee soos hulle wil. Daar is ’n winterwarmprojek vir die koue maande, en ’n kospakkie- en skryfbehoefteprojek aan die einde van die jaar. Hulle het ’n ondersteuningsfonds wat oorbruggingshulp gee vir lidmate wat hulle werk verloor het.

By ’n plaaslike skool gee hulle elke Dinsdag vir 105 kinders vier snye brood met ’n proteïen daarop. In hulle omgewing is daar ’n ouetehuis waar mense bly wat net ’n staatspensioen kry. Die plaaslike vereniging vir bejaardes wat kos voorsien het, het sy deure gesluit. Die omgewing se kerke het bymekaar gekom en elke gemeente het een dag per week gekry waarop hulle daar vir sowat 200 mense kos gee. Wilgespruit doen dit op Woensdae.

Alma Fourie (met die bril) en die dames wat haar help, kom saam om te bid voordat hulle die hek oopmaak dat mense kan inkom vir die klereverkoping. Foto: Neels Jackson

Daar is ander betrokkenheid by vier ouetehuise en hulp wat verleen word in ’n informele woonbuurt in die omgewing. Hennie verwys weer na Matteus 25. “Ons konsentreer op basiese dinge. Ons doen niks glamorous nie,” sê hy.

Maar daarvoor is daar geld nodig. Missionaliteit kos geld. En om dié rede het hulle Living Waters of Hope op die been gebring. Dis ’n hulporganisasie sonder winsoogmerk wat ’n belastingsertifikaat vir bydraes kan uitreik en wat vinnig op nood kan reageer.
Alf Levin, jare lange lidmaat, het ’n sleutelrol gespeel hierin, en saam met sy vrou, Hester, is hulle nou baie betrokke betrokke by die barmhartigheidswerk.

Uit Letland na Afrika
Alf is ’n interessante man. Sy grootouers was Jode wat uit Letland in Oos-Europa na Suid-Afrika gemigreer het. Sy pa het ’n jong Afrikaanse meisie ontmoet met wie hy wou trou. Hy het haar belowe die kinders kan in Afrikaanse skole en kerke grootword.
Hulle het op die delwerye by Bakerville anderkant Lichtenburg in ’n sinkhuis gebly, vertel Alf. Hy was die elfde van dertien kinders en hulle was baie arm. Maar juis dit het ’n groot vormende invloed op hom gehad.

“Hy sê altyd hy weet wat dit is om in ’n sinkhuis te bly en in ’n sinkbad te bad,” vertel Hester.
“Dit het my deernis gegee met mense wat arm is,” vul Alf aan.
Hy het by ’n kers en ’n lamp geleer vir sy matrieksamen. Daarna het hy gaan regte studeer. Daarvoor het hy beurs gekry, sy broers het gehelp en hy het self vakansies gewerk. Uiteindelik het ’n prokureur geword, dertien jaar gepraktiseer en toe baie suksesvol oorgeskakel na eiendomsontwikkeling.
Hy en sy vorige vrou was van 1985 af lidmate van Wilgespruit, maar nie baie betrokke nie, sê Alf. Sy het kanker gekry en is na nege maande dood. Dit het hom teruggebring aarde toe.

Sy dogter het hom een aand saamgenooi na die vergadering van die gemeente se barmhartigheidsbediening. Daar het hy eers besef wat alles in Wilgespruit gebeur. Hy het besef watter nood daar is en het toe self betrokke geraak.
Hester, met wie hy later geroud is, was vroeër in ’n Hervormde gemeente en daar betrokke by hulp aan bejaardes.
Oor haar man sê sy: “Alf glo wat hy het, is nie syne nie. Sy hart is oop.”
“En haar hart saam met my,” vul hy aan.
Hy verwys na die die brief van Jakobus en merk op: “As jy jou broer sien honger ly, help dit nie om te sê gaan kry kos en klere nie. Jy moet vir hom klere gee.”
En omdat dit geld kos, gebruik Alf sy besigheidsvernuf om deur Living Waters of Hope geld in te samel vir barmhartigheidswerk. Hennie vertel byvoorbeeld van ’n gholfdag saam met die Ernie Els-stigting vir Outisme wat buitengewoon suksesvol was.
Intussen lewer die gemeente op verskeie maniere hulle bydraes. Onder meer in die vorm van klere.
Alma Fourie vertel dis nie net lidmate wat klere bring nie. Hulle vra ook hulle familie om ou klere vir die kerk te gee. Dit word dan netjies gesorteer volgens soorte. Sweetpakke kom in een krat. Dennimbroeke in ’n ander. Daar is nog een vir langmouhemde vir mans, een vir kortmouhemde, een vir skoolklere en nog ’n rits ander.
Dit word gebêre in Tabitahuis, genoem na die vrou van Handelinge 9 wat baie liefdadigheid bewys het. Tabitahuis was ’n vraghouer wat vroeër gedien het as kantoor op ’n bouperseel, maar danksy Alf Levin nou op Wilgespruit se parkeerterrein staan.
Al die kratte met klere word in een vertrek in die vraghouer gebêre. Die vertrekkie langsaan is die boetiek. Daar hang die mooiste en beste klere aan hangers.

’n Vrou bekyk ’n bloesie by Wilgespruit se maandelikse klereverkoping. Foto: Neels Jackson

Rande rol in by ‘Jumble Sale’ 
Een maal per maand, op die eerste Vrydag ná betaaldag, word ’n groot verkoping gehou. ’n Banier by die hek van die parkeerterrein adverteer die “Jumble Sale”.
Dan kom ’n aantal vrouelidmate van so 10:00 af om die voorraad uit te pak. Alma stel hulle voor as haar “meisies” wat almal tussen 50 en 60 jaar oud is. “You wish!” antwoord een van hulle. Van hulle is al oor die tagtig, maar hulle bring steeds hulle kant.
Onder die afdak waar die dominees en ander amptenare se karre gewoonlik staan, word ’n dosyn of meer staaltafels opgeslaan. Op elke tafel word een krat se voorraad uitgepak. Twee tafels op die punt dien as betaaltoonbank.
Die pryse is baie laag. ’n Denimlangbroek gaan vir R10. ’n Pak klere kos R50. Dis die hoogste prys wat gevra word.
Die hek word toegehou totdat alles reg is vir die verkoping. Voornemende kopers drom van vroeg af al buite saam. Dikwels is hulle meer as met Kerkbode se besoek, maar die koue het die opkoms uitgedun.

Jacob Hlongwane glimlag breed oor die goeie klere wat hy goedkoop te koop kry. Foto: Neels Jackson

Jacob Hlongwane kry voorkeurbehandeling. Omdat hy in ’n rolstoel is, word hy binne toegelaat voordat die hekke oopgemaak word. As die groot stormloop van kopers begin, sukkel hy met sy rolstoel om tussen die tafels te beweeg.

Hy vertel dat hy gebore is met klein beentjies wat nie funksioneel is nie. Dat hy in ’n rolstoel sit, maak dit vir hom moeilik om ’n taxi te gebruik, maar dit is tog wat hy die oggend gedoen het. Hy het van taamlik ver af – “anderkant Kagiso” – gekom om vir hom klere te kom koop. Hier kry hy “goeie klere goedkoop”, sê hy, en voeg by: “Dit beteken baie vir ons.”

Hy soek ’n armvol klere uit, en omdat daar ’n netjiese dashemp by is, kry hy ’n das verniet. Hy glimlag breed.
Die kopers se stories verskil van mekaar. ’n paar van die vroue sê hulle kom koop voorraad om weer te verkoop. Hulle het nie werk nie, maar die klere wat hulle hier koop, bied aan hulle die moontlikheid om ’n klein besigheidjie van hulle eie te bedryf.
Ander kom koop vir hulleself. Een vrou vertel dat sy baie mooi uitsoek, want sy het net werk vir een dag per week. Daarom het sy min geld om te bestee.
Alma Fourie vertel dat hulle op ’n goeie dag R5 000 met die verkoping kan insamel. Ander dae is dit minder, maar met tien verkopings per jaar, samel hulle meer as R30 000 in. Dit word weer vir ander uitreikprojekte gebruik. Dit sit weer vir ander mense kos in die maag.
Want vir Wilgespruit is Jesus se oproep “Volg My” sleutelwoorde. Vir hulle beteken dit om nuut te reis, om daar waar hulle geplant is, ’n verskil te maak.