Gelowige, klap tog net jou vlerke!

https://kerkbode.christians.co.za/2019/06/13/gelowige-klap-tog-net-jou-vlerke/

Die kleinste gebaar kan ’n magtige reaksie ontketen. Só leer die geskiedenis én die wetenskap ons. Ook ons eie lewenservaring. Hoeveel aanmoediging het gelowiges dan nóg nodig om daardie een, klein dingetjie te doen? Deur Conette le Roux; Foto’s: Thinkstock


In die 1990’s het die destydse burgemeester van New York, Rudy Giuliani, die hoë misdaadsyfer in sy stad op ’n innoverende manier benader. Hy het opdrag gegee dat alle gebreekte vensters in daardie geboue wat in die openbare oog is, dadelik reggemaak moes word.

Die uiteinde hiervan? Die misdaadsyfer het beduidend afgeneem.

Giuliani se regrukplan was gebaseer op die gebreekte venster-teorie, wat veronderstel dat iets so klein soos gebreekte vensters vandale aanmoedig om méér vensters te breek. Of om die gebou vir verdere skurkagtige planne te gebruik. Die burgemeester het dus die misdaadketting by die eerste skakel aangeval.

Nóg ’n teorie wat impliseer dat iets kleins ’n groot verskil kan maak, is die sogenaamde skoenlapper-effek.

Ongeveer 60 jaar gelede het prof Edward Lorenz, ’n meteoroloog wat hom bemoei het met die klaarblyklike onmoontlikheid van akkurate weervoorspellings, hierdie teorie met behulp van ’n rekenaarprogram ontwikkel. En hom uiteindelik daarvan oortuig dat iets so kleins soos die vlerkgeklap van ’n skoenlapper in Brasilië ’n tornado in Texas tot gevolg kan hê.

Dit alles laat jou wonder hoe groot die gevolge kan wees as elke gelowige net ’n klein dingetjie wil waag. ’n Klein treetjie sal neem. Giuliani of Lorenz se teorieë wil toets.

Klap daai vlerke!

Lindie Strydom, bekende TV-persoonlikheid, en aanbieder en projekorganiseerder by die radiostasie GROOTfm 90.5, sê: “Verskillende mense se voortdurende klein omgee-gebare maak uiteindelik ’n groot verskil in ons land se stukkende gemeen­skappe.

“Daar is mos altyd die gevaar van ‘pawiljoen-sit’,” sê sy. “Daardie kultuur wat gekweek word wanneer gewone mense sit en wag dat ‘die groot ouens met die groot geld die groot verskil gaan kom maak’.”

Daar is egter nóg ’n kompliserende faktor, sê Lindie. “Doodgewoon die omvang van die nood. Dikwels oorweldig dit die potensiële helpers, dit laat hulle verlam en selfs effens lomp voel.

“Maar,” sê sy, “net omdat ons nie alles vir almal kan wees en doen nie, beteken dit nie ons moet ons gewone menslike ‘omgee’ prysgee nie. Ons mag nooit ophou fokus op dit wat ons wél vir mekaar kan doen nie. Jesus vra juis ons getrouheid in die klein dingetjies, dit wat nie noodwendig sigbaar is nie.”

“Juis daarom,” sê Lindie”, is die radiostasie se projek-motto ‘Gaan GROOT in die klein!’ – en het ons onder andere ’n #JouMenseMyMense-projek geskep.

“Laasgenoemde werk só: As jy iemand se behoefte of omstandighede op die hart dra, dra ons dit saam met jou. Ons sal jou surrogaatfamilie wees as dinge soos tyd, geld of afstand maak dat jy nie by jou ouma se 90ste verjaardag of by daardie geliefde wat in die hospitaal is, kan uitkom nie.

“Dit is mos die dáárwees wat tel. Die gebaar van liefde en omgee, die persoonlike boodskappie en die bietjie bederf.”

Oor die rol wat ’n radiostasie in die bewusmaking van nood kan speel, is Lindie beslis: “Ons probeer mense inspireer, juis deur die haalbaarheid van ’n klein gebaar te beklemtoon, om ook ’n ietsie kleins vir iemand anders te doen.

“Die omroepers hoef egter nie aan luisteraars voor te skryf wat presies hulle moet doen om te help nie. Dit is die Heilige Gees se werk. Hý sal in die luisteraars se hart werk oor wat hulle verder kan doen om te help.

“Ek het al sóveel keer gesien hoe ons projekte bloot ’n eerste treetjie is. Slegs die kontakpunt. Deur ons voortgesette verhouding met so ’n persoon, raak al hoe meer mense self daarby betrokke.

“Iemand het byvoorbeeld petrolgeld geborg vir die enkelmamma vir wie ons met kruideniersware verras het. En iemand anders het vir ’n kinderhuis se kinders winterklere gaan koop.”

Klap dit knaend!

Dr Izanette van Schalkwyk is verbonde aan die Sentrum vir Kinder-, Jeug-, en Familiestudies by die Noordwes-Universiteit. Sy sê: “Eenmalige uitreike na byvoorbeeld kinders doen egter dikwels meer skade as wat dit goed doen. Volgehoue, langtermynbetrokkenheid is die beste manier om ’n verskil in ’n kind se lewe te maak.”

Izanette staan ook aan die hoof van die projekte by die sogenaamde BlouBus-bediening. Volgens haar het dié bediening verskeie klubs by skole gestig om by kinders ’n gesonde gevoel van “behoort” te vestig. Sy vertel onder meer van die projekte in Blikkiesdorp by Delft buite Kaapstad, en van die talle suksesverhale daar wat die gevolg van volgehoue omgee was.

Sy wei graag uit oor die sogenaamde suksesklubs by hoërskole. Daar kom groepe graad 11-leerders weekliks saam met groepleiers byeen en só word die leerders op ’n psigologiese, emosionele en sosiale vlak bemagtig. Dit het ’n positiewe invloed op hul skoolwerk en hul funksionering in die groter gemeenskap.

“Die slegte omstandighede in hul leefwêreld en die ontmagtigende invloed van armoede kan nie ontken word nie,” sê Izanette, “en daarom probeer ons ’n verskil maak deur doelbewuste inisiatiewe, soos hierdié weeklikse projekte. Én deur gereelde besoeke.”

Izanette en die BlouBus-bediening stap ook ’n pad saam met van hierdie kinders wat uiteindelik tersiêre opvoeding kry. Sy help hulle byvoorbeeld met die aansoeke vir beurse. “Maar,” sê sy, “dié kinders benodig ook beddegoed, kruideniersware en vele meer om hulle te help om op ’n gesonde manier aan te pas in daardie ander wêreld, die groter wêreld anderkant Delft.”

Gelowiges kom in hul daaglikse handel en wandel deurgaans met ander mense in aanraking – en sien die meeste van hulle nooit weer nie. Maar dit is in dié vlietende oomblik dat daar ’n verskil gebring kan word wat ’n gemeenskap en ’n land kan help genees.

En is genesing nie juis ’n groot Christelike opdrag nie? Wat het Jesus gedoen …?


Lindie Strydom vertel graag die storie van die 53-jarige Hannelie van Rooyen wat met breintuberkulose in ’n tehuis in Danville, Pretoria, woon. Haar ouers is dood en sy het geen familie nie. Die mense wat na haar moes omsien, het haar woonstel en al haar besittings verkoop en die opbrengs vir eie gewin gebruik.

“Ons kan nie haar ouers terugbring of haar gesond maak nie,” sê Lindie, “maar ons kan wel haar verjaarsdag spesiaal maak.”


Josh Shipp, ’n Amerikaanse motiveringspreker wat ook as “die tienerfluisteraar” bekend staan, is daarvan oortuig dat elke kind ’n sukses van sy of haar lewe kan maak … as daar één volwassene is wat genoeg omgee.

Josh is as baba deur sy tienerma in die hospitaal agtergelaat, en só het hy by talle pleegouers beland. As gevolg van hierdie herhaaldelike ontwrigting was hy baie stout en daarom het niemand juis kans gesien om ’n pad met hierdie “moeilike” kind te loop nie.

Totdat hy op 14 by pleegouers beland het wat werklik omgegee het. Volgens hom was die feit dat hulle werklik omgegee het én dat hulle sonder huiwering en sonder ophou die pad saam met hom geloop het, die rede waarom sy hele lewe ten goede kon verander.


Riejaad en Riejaaz Isaacs se pad het in graad 8 met die BlouBus-bediening gekruis toe hulle deel was van die Positive Principle Project by hul skool. Hier is waardes soos respek, eerlikheid en selfdissipline by die kinders gevestig.

Hierdie tweeling het van kleins af gekies om aan die BlouBus-projekte deel te neem – onder meer die Kingsklub, die Leeskamerklub, die prayer warriors, die musiek- en koorklub en die suksesklub.

Vandag is Riejaad ’n onderwysstudent in sy tweede jaar aan die Universiteit Stellenbosch, soos Riejaaz, maar met laasgenoemde aan die Universiteit van die Vrystaat.

Volgens Riejaad en Riejaaz was die bydrae van die BlouBus-bediening tot hul suksesstorie baie groot – omdat hulle daar hoop vir die toekoms gekry het by mense wat in hulle geglo het.


Dr Stephan Joubert, bekende skrywer en teoloog, het onlangs op e-kerk se webwerf ’n besonderse verhaaltjie vertel, oor hoe hy en sy vrou by ’n vulstasie langs die R21 met ‘n petroljoggie gesels het en hul biltong met hom gedeel het.

Hy vertel van die petroljoggie se verbaasde reaksie, en hoe hy gesê het: “I wish all white people could be like you.”

“Hoekom?” wou Stephan verbaas weet.

“Baie wit mense praat nie met ons nie,” het die man geantwoord. “En as hulle dit wel doen, is dit skerp en ongeskik.”

“Ek was skoongeboul,” skryf Stephan. “Ons het tog niks vreemds gedoen nie; dit was net ’n geselsie en ’n bietjie van ons kos wat ons sommer so in die gesels gedeel het.

“Maar toe dink ek: As ons nie eens hierdie subminimum roete van vriendelikheid en respek teenoor mekaar kan volg in ’n sogenaamde Christelike land nie, dan is ons in groter moeilikheid as wat ons dink. Respek is ’n kernbeginsel van die evangelie van Christus. Dit is die hartklop van God se wil – aldus 1 Petrus 2:15-17.”

Wanneer hulp aan ander seermaak

Volgens ds Lettie Büchner, ’n predikant op Wellington, benodig gelowiges deesdae wyer denke as ooit, omdat die tempo waarteen nood in ons land toeneem steeds versnel. “Lees gerus die boek When helping hurts. Dit sal gelowiges inspireer om nie bloot op tydelike noodverligting te fokus nie,” sê sy. “Hier word uitgebeeld hoe hawelose mense dikwels ook ’n ander armoede beleef – dit wat gebroke verhoudings aan hulle doen. Gebroke verhoudings met God, met hulleself, met ander mense of met die skepping.

“Jy het al hierdie verhoudings nodig om armoede te oorwin – en hoe langer jy daarsonder is, hoe meer verloor jy die vermoë tot betekenisvolle verhoudings.”

In dié boek word daar onderskei tussen drie soorte hulp, en elkeen se vernaamste kenmerk word só beskryf:

  • Noodverligting gee materiële goedere om onmiddellike nood te verlig. Die gewer se aandeel is 100%; die ontvanger het geen aandeel daaraan nie.
  • Rehabilitasie help met herstel. Die hulpgewer en ontvanger dra elkeen 50% by.
  • By ontwikkeling neem die ontvanger self die verantwoordelikheid. Sy aandeel is 90% en die hulpgewer s’n net 10%.

Stuur ’n e-pos na izanette@telkomsa.net of besoek www.bluebusministries.co.za vir meer inligting oor die BlouBus-bediening.


Hierdie storie het oorspronklik in Kerkbode se susterpublikasie LiG verskyn. Die Julie-uitgawe van LiG is op 17 Junie op die rakke.