Elarduspark en Ivory Park se potjiekos is lekker kos

http://kerkbode.christians.co.za/2017/08/10/elarduspark-en-ivory-park-se-potjiekos-lekker-kos/

Tieners van Elarduspark en Ivory Park werk saam tydens een van hulle sessies. Foto’s verskaf

Die NG gemeente Elarduspark in Pretoria en die Verenigende Gereformeerde Kerk se gemeente Ivory Park in Tembisa se verhouding kom al se­dert die Wêreldbekersokkertoernooi van 2010. Vanjaar het die kontakweek tussen dié twee gemeentes se tieners ’n nuwe hoogtepunt bereik. NEELS JACKSON berig.


Dr Daniel Maluleke, predikant van die VGKSA se gemeente Ivory Park, hou van potjiekos. Nie stew nie, potjiekos. Dié soort gereg waarin ’n mens ’n klomp verskillende bestanddele in een pot gooi – maar dit nie roer nie. Dan bly ’n wortel ’n wortel, en ’n aartappel bly ’n aartappel. Elke bestanddeel bly wat dit is, maar die verskillende bestanddele neem mekaar se geure op.

“Dis lekker kos,” sê hy.

Maar dit het ook die metafoor geword waarmee hy praat oor die kontak tussen die tieners van Elarduspark en die tieners van Ivory Park. In die kontak met mekaar hou niemand op om te wees wie hy of sy is nie, maar almal word deur die kontak met mekaar verryk.

Die aard van die kontak het mettertyd verander. Aanvanklik, vertel ds Danie Vermaak van Elarduspark, het hulle daaraan gedink as ’n uitreik, ’n geleentheid waarby hulle vir die mense van Ivory Park iets gaan gee of gaan doen. Nou het dit ’n gesamentlike byeenkoms geword waar jongmense mekaar op gelyke vlak ontmoet.

Daarom dat Maluleke daarop aangedring het dat Ivory Park se kinders dieselfde inskrywingsgeld vir die week se saamwees betaal as die kinders van Elarduspark. Ivory Park se mense moenie ’n bakhand-kultuur aanleer nie.

“Hand-outs make you stupid,” sê Maluleke met die wysheid van sy 71 jaar.

Vroeër het Elarduspark met ’n kleinerige groep, dalk 20 tieners, na Ivory Park gegaan waar hulle ’n program met 400 tieners sou volg. Maar só kan ’n mens nie verhoudings bou nie. Daarom dat hulle vanjaar met net nege tieners van elke kant ’n week lank “gekamp” het.

Saam het hierdie tieners oor vier dae verskillende ervarings deurgemaak waarin hulle mekaar beter leer ken het, maar ook saam oor die lewe besin het.

Die tieners het in drie groepe van ses mense elk gewerk. Elke groep moes byvoorbeeld besluit oor hulle kos vir die week. Na aanleiding daarvan dat die 20% armstes in Afrika klaarkom met minder as $2 per dag, het hulle ’n toekenning van R25 per persoon per dag gekry om kos te koop vir die week.

Hulle het gou besef dat hulle baie meer gaan vermag as hulle saamwerk. En uit hulle verskillende kulture het hulle by mekaar geleer oor kosmaak.

Die groep tieners van Elarduspark en Ivory Park by die Hindoetempel waar hulle besoek afgelê het.

Die eerste dag, as bewusmaking van die belangrikheid van omgewingsorg, het almal ook saam in die Moreletakloof-natuurreservaat gaan help om indrin­gerplante uit te roei.

Op die tweede dag is hulle saam na die middestad van Pretoria, na die historiese Bosmanstraatkerk, na die Queenstraatmoskee daar naby en na Kerkplein toe. Dié middag het hulle by die Mandelabeeld by die Unie­gebou ’n draai gemaak en saam op die grasperk gesit en gesels oor die politiek van die land.

Vermaak sê dat dit hom opgeval het dat die tieners uit Ivory Park meer polities bewus en ingelig is as die tieners van Elarduspark. Na die gesprek het hy ook gevoel dat as die toekoms in die hande van sulke tie­ners is, dan het sy dogtertjie van 2 jaar ’n mooi toekoms in Suid-Afrika.

Op die derde dag is die groep na Laudium, die histories Indiërwoonbuurt aan die westekant van Pretoria. Daar het hulle eers ’n moskee besoek en toe ’n Hin­doetempel. Die benadering waarmee hulle gegaan het, sê Danie, is een van: “To love well, is to listen well.” As hulle as Christene goed luister, sal die Moslem en Hindoe met wie hulle in gesprek was, iets van hulle liefde beleef. En in die gesprekke het hulle dinge gehoor wat vir hulle wys daar is ooreenkomste en verskille tussen die godsdienste.

Dié aand, toe hulle weer op hulle eie was, het hulle onder mekaar ’n lang gesprek oor twee vrae gevoer: Die eerste was: “Waarom is ek ’n Christen?” En die twee­de was: “Hoe leef ons as Christene saam met men­se van ander gelowe?”

Die laaste dag was ’n pretdag waarop die groep saam gaan trampolien spring het en sommer net saam vrolik was.

Vir almal was dit ’n goeie ervaring. Marius Schoombie, teologiestudent van Elarduspark wat besig is met sy gemeentejaar, sê hy was vooraf gespanne oor wat die week sou oplewer, maar daar was geen probleme nie. Die eerste dag was daar nog ’n bietjie van ’n ongemaklikheid, maar toe die tieners mekaar eers leer ken het, was dit iets van die verlede.

Vermaak sê hulle droom is dat ander kerke soortgelyke goed doen. En as sulke kerke by hulle wil kom kers opsteek, sal hulle graag die ervaring wat hulle opgedoen het, wil deel.

Maluleke sê so ’n ervaring help om stereotipes af te breek wat deur ouers aan hulle kinders oorgedra word. Hy meen dis belangrik dat die kerke dit nou by jongmense doen.

In die week tydens die vakansie dat van hulle tieners saam geleef het, saam gepraat en gedink en gedoen het, lyk dit of hulle iets daarvan reggekry het.

En die potjiekos wat hulle so saam berei, maak almal lus vir meer. Soos Maluleke sê: “Dis lekker kos.”

The post Elarduspark en Ivory Park se potjiekos is lekker kos appeared first on e•Kerkbode.