Ekonomiese geregtigheid is die groot uitdaging

http://kerkbode.christians.co.za/2017/10/09/ekonomiese-geregtigheid-die-groot-uitdaging/

Prof Piet Meiring aan die woord.

“Dat die NG Kerkfamilie nie een is nie, trek op ’n manier ’n streep deur alles wat ons sê oor versoening.”

So het prof Piet Meiring gesê tydens ’n konferensie oor versoening as deel van die eeufeesviering van die Universiteit van Pretoria se Fakulteit Teologie. Meiring het later die middag, dit boonop op sy 76ste verjaar­dag, ook die universiteit se Kanseliersmedalje ontvang.

In sy klem op die belangrikheid van eenheid in die NG Kerkfamilie het Meiring sy gehoor herinner aan pres Nelson Mandela se besoek aan die Algemene Sino­de van die NG Kerk in 1994.

By dié geleentheid het Mandela gesê dat hy hoor van sprake van eenheid in die NG Kerkfamilie. Hy het daarop aan die sinode gesê eers as mense sien die NG Kerk­familie is een, sal hulle weet dat die NG Kerk erns­tig is oor versoening.

Meiring, wat vroeër betrokke was by die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK), het gesê dat die WVK nie volledig bereik het wat hy wou nie, en dat daar nou ’n belangrike rol vir die kerke te speel is.

So is daar ’n voortgaande soeke na waarheid. Hy wou weet of die kerke sal help om na mense se stories te luister.

Versoening bly ’n moeilike taak, het hy gesê. Hy het gepleit dat daar nie goedkoop versoening moet wees nie, maar versoening wat ’n prys vra. Hy wou weet of die kerk sal help om ’n leerplan vir duur versoening te ont­wikkel en om handleidings vir gemeentes op te stel.

Meiring het ook gevra of die kerke bereid sou wees om hande te vat in die stryd om geregtigheid. “Is ons gewillig om nie net daaroor te praat nie, maar om iets op plaaslike vlak te doen?” wou hy weet.

Maar, het Meiring aan die einde van sy rede gesê, die gehoor kan maar alles vergeet wat hy gesê het as hulle net sal onthou wat dr Frank Chikane voor hom gesê het.

Dr Frank Chikane

Chikane, senior visepresident van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, het die vraagstuk van ekonomiese geregtigheid geïdentifiseer as dié uitdaging wat nou op Suid-Afrika wag.

Hy het gesê pres Nelson Mandela het Suid-Afrika gehelp om die brug van ’n potensieel vernietigende bur­ger­oorlog na ’n vreedsame toekoms oor te steek.

Diegene wat ná hom gekom het, onder wie Chikane self, het die taak gehad om te verseker dat daar ’n regverdige samelewing is waarin daar vir almal billike toegang tot die ekonomie is.

Die brug wat die land onder Mandela oorgesteek het, het nie ekonomiese geregtigheid verseker nie. Hy het voorspel dat Suid-Afrika ’n duur prys gaan betaal om­dat die land “parkeer het” nadat hulle oor die brug is.

Die uitdaging nou is om ekonomiese geregtigheid te verseker. Hy het gepleit vir ’n versoening tussen die armes en die hulpbronne van die land.

Chikane het gesê die regering se Gear-beleid onder pres Thabo Mbeki het misluk omdat die sakesektor nie hulle kant gebring het nie. In projekte waar die re­ge­ring dinge op sy eie kon doen, was hulle suksesvol, maar waar hulle afhanklik was van ander partye, het hul­le misluk.

Hy het gesê die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke het modelle om armoede van huis tot huis en van ­buurt tot buurt te takel. Hy kan voorbeelde wys van waar gesinne binne drie tot vyf jaar uit armoede opgelig is.

Wat nodig is om dit te laat werk, is vennote wat hande vat. “Ons soek nie skenkings nie. Ons soek vennootskappe,” het hy gesê.

Meiring het die gehoor herinner aan Saggeus wat viervoudig teruggegee het aan mense wat deur hom benadeel is.

Versoening is om ’meer’ te wees

Hibriditeit, of gebasterdheid, is ’n instrument waardeur ’n samelewing gebou kan word waarin almal se waardigheid erken word.

Dit was die boodskap van prof Nico Koopman, die Universiteit Stellenbosch se viserektor vir trans­formasie, by ’n konferensie oor versoening by die Universiteit van Pretoria se Fakulteit Teolo­gie.

Koopman, wat vroeër Stellenbosch se dekaan van teologie was, het gesê gemengdheid is vroeër as negatief gesien. Hy het gepleit dat dit gevier moet word.

Prof Nico Koopman

Pleks van minimalistiese identiteite wat mense angstig maak, bedreig laat voel en op die verdediging plaas, het hy gepleit vir maksimale, vreugdevolle identiteite.

Ter illustrasie van wat hy bedoel, het hy gesê hy is self gekleurd of bruin of Khoi of Griekwa, maar danksy sy saamleef met sy Xhosa-broers en -susters, is hy meer as dit. Danksy sy saamleef met sy wit broers en susters, is hy meer. Danksy sy saamleef met sy Indiër-broers en -susters is hy meer.

Dit geld ook ander aspekte van sy identiteit. Hy is ’n man, maar danksy die interafhanklike saam­leef met vroue, is hy ook meer as ’n man. Hy identifiseer met die lot van vroue en patriargale samelewings en hulle stryd om geregtigheid. Waar mans en vroue so saamleef met mekaar, beëin­dig hulle die stryd tussen die geslagte en sing die duet van geslagte.

Sy maksimalistiese identiteit laat hom sê hy is heteroseksueel, maar in sy solidariteit met mense wie se seksualiteit verskil, is hy ook meer as hete­roseksueel. Hy is ’n Christen, maar in sy saamleef met mense van ander gelowe is hy ook meer.

Koopman het gesê ’n maksimalistiese identiteit voel nie bedreig nie. ’n Minimalistiese identiteit sê ek is nét dit. ’n Maksimalistiese identiteit sê: “Ja, ek is gereformeerd, maar in my saamleef met mense wat Lutheraans, Charismaties, Anglikaans, Katoliek en van ander denominasies is, is ek meer as net gereformeerd.”

Hy het verwys na aartsbiskop Desmond Tutu wat gesê het hy is ’n goeie ekumeniese Christen omdat hy ’n goeie Anglikaan is. Uit die spesifieke identiteit leef hy met die wete dat hy meer is, en die meer help hom om die spesifieke te waardeer.

Koopman het gesê sy primêre identiteit is dat hy ’n mens is, en ’n gedoopte een.

The post Ekonomiese geregtigheid is die groot uitdaging appeared first on e•Kerkbode.