Ek sal die stories onthou

http://kerkbode.christians.co.za/2018/11/27/ek-sal-die-stories-onthou/

Die stories. Dis wat ek sal onthou. Stories van God se genade wat deur sy mense na die wêreld toe vloei.

Ná vyf jaar het ek aan die einde gekom van my dienstyd as redakteur van Kerkbode. Dit was vyf jaar waarin ek van naby kon sien hoe die groot skip van die NG Kerk besig is om al meer te draai; hoe ’n eens na-binne-gekeerde kerk al hoe meer na buite gerig word; hoe ’n eens magtige kerk, al meer ’n dienende kerk word. En dit is goed.

Die stories het dit vertel. Stories wat gekom het van Aranos in Namibië tot by Vryheid in KwaZulu-Natal; stories uit Prieska en Britstown en Strydenburg en Hopetown in die hart van Suid-Afrika; dit het gekom uit Letsitele en Lydenburg en Witrivier, uit Coligny en Randfontein, uit Steynsrus en Petrusburg en Philippolis, uit Cradock en George en Bonnievale en Yzerfontein, uit Pretoria en Johannesburg, Bloemfontein, Kaapstad, Port Elizabeth en Durban. En soveel meer.

Dit was stories van gewone mense en gewone gemeentes wat meegesleur is deur die liefde van Jesus en sy dienende voorbeeld gevolg het. Stories van mense wat ’n verskil gemaak het, party tot in Nepal en Japan.

Dit was vyf wonderlike jare.

Dit was wel soms moeilik. Ek het my eerste slegsêbrief gekry pas nadat my aanstelling by Kerkbode bekend geword het, nog voordat ek begin werk het. Daar was sporadies sulke boodskappe. Die afgelope week was daar weer een.

Ek was baie teleurgesteld dat die NG Kerk nie die evangelie in die woorde van die Belydenis van Belhar helder kon hoor en dit aangryp nie. Nog meer oor die 2016-besluit oor selfdegeslagverhoudinge. Ek dink nie die sinode het God se stem goed gehoor nie.

En daar was hoogtepunte. Die koms van e-kerkbode was een. Daarvoor moet Lenois Stander en Nico Simpson die krediet kry. Die rubriek “Jong Stemme” was nog een. Die jong dominees gee my soveel moed.

Maar ek sal die stories onthou. Ek dink aan ’n hawelose, siek, jong vrou op die rand van die Bloem­spruit waar dit onderdeur ’n winkelsentrum vloei, met ’n NG dominee wat by haar kniel, haar bemoedig en hulp aanbied.

Ek onthou laggende kleuters wie se oë blink. Kleintjies in kleuterskole van gemeentes wat deur doelgerigte vroeëkinderontwikkeling vir hulle ’n fondament lê waarop hulle ’n lewe kan bou.

Daar was gemeentes wat onder misdaad deurgeloop het en besluit het om met liefde en diens en ontwikkeling in arm gemeenskappe te reageer.

En ek dink aan gemeentes wat grense oorgesteek en vreemdelinge verwelkom het.

Baie stories kon ek eerstehands beleef. Baie ander het deur kollegas of medewerkers by my aangekom. Deur Kerkbode kon ons die stories vir die breër kerk vertel.

In die proses het my verwondering oor God gegroei. Ek het gesien hoe daar genesing kom in gebroke lewens en situasies. Ek het gesien hoe mense van hulleself gee en in die proses beleef dat hulle lewe verryk word.

Ek sê dankie vir die geleentheid om hierdie werk vyf jaar lank te kon doen.

Selfs meer as voorheen glo en bely ek nou: Jesus is die Here!