Dis nóú tyd om te sing

http://kerkbode.christians.co.za/2018/05/14/dis-nou-tyd-om-te-sing/

Na ’n moeilike tyd met politieke woelinge, ekonomiese uitdagings en hewige droogte moet ons juis nou uiting aan ons geloof gee.

En daarom sê Bybel-Media, die NG Kerk se publikasiehuis, en die Wes-Kaap Sinode: “Ons glo dis tyd om te sing!”

Hulle nooi gemeentes regoor Suid-Afrika om op 8 September deel te word van die begin van ’n nuwe tradisie van massa-sangbyeenkomste vanjaar.

Die “Dis tyd om te sing”-massakoorsaamtrek sal om 19:00 by die Kaapstadse Stadsaal onder begeleiding van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes en ’n kontemporêre orkes plaasvind, verduidelik ds Faani Engelbrecht, be­stuurder van Bybel-Media Musiek en projekbestuurder van die geleentheid.

Faani sê die idee is dat ’n massakoor van meer as 500 sangers en meer as 1 000 gehoorlede “die bekendste en mooiste liedere uit ons kerk se liedereskat saamsing”.

Daarom is daar geleentheid vir 20 gemeentes om elk ’n koorgroep van 20 lede saam te stel en voor te berei om aan die massakoor deel te neem.

Vir voorbereiding kan dié kore die 20 bekende liedere, wat tydens die aand gesing sal word, inoefen.

Faani sê dit gaan “amazing” wees met bekende liedjies soos “Here, Redder, groot en magtig” en “Die oorwinningslied”. Hy sonder VONKK-lied 277 “U is die lig wat in die donker skyn” uit omdat dié Afrikaanse lied op die melodie van die bekende “Highland Cathedral” gesing gaan word met die bykomende klanke van ’n doedelsak.

En om alles te kroon is daar  ’n spesiale feeslied met die gelyknamige titel as die geleentheid geskryf. “Dis ’n lied waarin ons getuig dat ons glo dat die Here ons vashou ten spyte van moeilike tye. Ons glo dis nou regtig tyd om te sing tot eer van die Here,” sê Faani.

Gemeentes wat wil deelneem, moet vóór 21 Mei 2018 inskryf.

Die bladmusiek van die 20 liedere is ook beskikbaar vir aflaai.

▶ Kontak ds Faani Engelbrecht (foto) spoedig by

musiek@bmedia.co.za of 083 856 1951.

The post Dis nóú tyd om te sing appeared first on e•Kerkbode.