Dis eintlik die briewe van ‘Paulus-hulle’

http://kerkbode.christians.co.za/2017/11/09/dis-eintlik-die-briewe-van-paulus-hulle/

In sy boek oor Paulus as briefskrywer waarsku Randolph Richards dat ons dikwels dink dat hy net soos ons geskryf het. Dit wil sê dat hy iewers op ’n stil plek by ’n tafel gaan sit het om op sy eie ’n brief te skryf.

Of as ons onthou dat hy in ses briewe wat sy naam dra melding daarvan maak dat hy van ’n skriba gebruik gemaak het (1 Kor 16:2; Gal 6:11; Kol 4:18; 2 Tess 3:17; Film 19). Dat hy sy briewe gedikteer het terwyl die skriba dit verbatim neergeskryf het.

In die lig van wat ons weet van hoe briewe in die antieke wêreld geskryf is, en wat Paulus self in sy briewe vermeld, het die skryfproses waarskynlik heel anders verloop.

Dit is byvoorbeeld onwaarskynlik dat Paulus volledig op sy eie sy briewe geskryf het. Só vermeld Paulus dikwels in die aanhef van sy briewe medeskrywers soos Timoteus en Silvanus (1 Tess 1:1). Dit was nie algemeen in die antieke wêreld om na medeskrywers te verwys nie. Die medeskrywers wat Paulus by die naam noem kon dus die belangrikste gespreksgenote gewees het met wie hy formulerings deurgepraat het voordat hy dit aan ’n skriba gedikteer het wat dit finaal sou neerskryf.

Dit is in dié verband opmerklik dat diegene wat Paulus as medeskrywers aan die begin van ’n brief soos Filemon vermeld, dikwels verskil van diegene waarvan hy aan die einde daarvan ’n groeteboodskap oordra. Moontlik dui die verskil op ’n onderskeid tussen diegene met wie Paulus die inhoud van die brief deurgepraat het en diegene wat net medewerkers van hom was waar hy op die stadium woonagtig was.

Dit wil ook voorkom asof Timoteus sy gereelde gespreksgenoot was siende dat hy in ses briewe vermeld word. In die briewe gebruik Paulus dan ook die eerstepersoon meervoud in sy groeteboodskap.

Al kan daar ook ander redes gegee word vir die verskynsel, kan dit daarop dui dat Paulus se verwysing na Timoteus as medeskrywer nie net ’n hoflikheidsgebaar is nie, maar dat hy hom wou erken as sy gespreksgenoot.

Paulus se briewe is dus nie net die nadenke van ’n enkele geestelike genie oor God nie, maar die van ’n groep gespreksgenote wat saam oor die evangelie be­sin het. Teologie was dus altyd in die Vroeë Kerk ’n gemeenskaplike aangeleentheid.

▶ Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.

The post Dis eintlik die briewe van ‘Paulus-hulle’ appeared first on e•Kerkbode.