Die Zambiese kerk droom nog dieselfde droom

http://kerkbode.christians.co.za/2018/10/08/die-zambiese-kerk-droom-nog-dieselfde-droom/

Die Reformed Church in Zambia hou sinode. Foto: Carin van Schalkwyk

In die week van 27-30 Augustus het ’n afvaardiging van die NG Kerk in die Vrystaat die Reformed Church in Zambia se 30ste Sinodesitting in Katete in Zambië bygewoon. DR CARIN VAN SCHALKWYK, lid van die afvaardiging, vertel van die merkwaardige kerk wat hulle daar beleef het.


In 1898 het Hoofman Mpenzeni van die Angoni-stam ’n brief aan die NG Kerk Kaapland gestuur waarin hy versoek het dat hulle sendelinge Zambië toe moet stuur. Die Kaapse Kerk het die versoek na die Vrystaat verwys: “Kan julle help?”

Die Vrystaat het die roepstem gehoor en toe die donker wolke van die Anglo-Boe­re-oorlog al oor die land saamgepak het, het hulle twee sendelinge gestuur. Op 5 Ju­lie 1899 het di Smit en Hofmeyer hulle tent onder die bome by Magwero opgeslaan.

Sendingstasies het gevolg; skole is opgerig; ’n skool vir blindes en dowes; hospitale en klinieke; ’n teologiese universiteit en ’n susterkerk – die Reformed Church in Zambia – wat vandag meer as 1 miljoen lidmate het.

Die 30ste sinodevergadering is voorafgegaan deur ’n daglange konferensie van leraars. Tydens die konferensie is daar intens gesprek gevoer oor wat dit beteken om as predikant met integriteit te lewe en wat ’n gereformeerde iden­titeit beteken.

Die tema van die sinodesitting was “The church and it’s mandate”. Die kerk in Zambië word uitgedaag deur voorspoedsteologie en die opkoms van Pentekosta­lisme. Dit het ’n impak op die verwagtings wat lidmate van die kerk en predikante het.

Daar is tydens die gesprekke besluit om aktief te werk om lidmate te skool in hulle eie identiteit as gereformeerdes en die inhoud van hulle geloof. Die fokus van die sinode en die kerk bly getrou aan hulle eie leuse om lig in die duisternis te wees en uit te reik na diegene wat nie glo nie.

Dit is dalk ook die rede vir die RCZ se grootste uitdaging en dit is om kerk te wees in omstandighede waar die kerk sterk aan die groei is en lidmaatgetalle toeneem, terwyl daar nie altyd genoeg predikante beskikbaar is nie. Gemeentes bars letterlik uit hulle nate en mense is positief oor die kerk en om deel te wees van ’n kerk.

Wanneer ’n mens ’n oomblik neem om terug te dink aan die feit dat die kerk ongeveer 120 jaar oud is en dat die sendingwerk in van die moeilikste denkbare omstandighede in die Vrystaat ontstaan het, is hierdie ’n merkwaardige verhaal.

Wanneer ’n mens op ’n sendingstasie soos Katete of Mazimoyo of Magwero rond­loop, kan jy nie anders as om in die begraafplaas ’n draai te gaan maak nie. Op die grafstene staan name van kinders, vroue en sendelinge geskryf. Sendelinge in die vorm van verpleegsters, dokters, onderwysers, boere en predikante is uitgestuur deur die kerk in die Vrystaat om lig in die duisternis te gaan wees in Zambië.

Vandag staan ’n hele kerk op hulle skouers en droom die kerk nog steeds dieselfde droom as hierdie eerste pioniers – om lig in die duisternis te wees vir hulle eie gemeenskappe en ook vir die breër gemeenskap van suidelike Afrika.