Die troos vir gedooptes

http://kerkbode.christians.co.za/2017/06/13/die-troos-vir-gedooptes/

In ’n tyd van soveel slegte nuus behoort die kerk ernstig na te dink oor watter soort goeie nuus sy moontlik kan verkondig. Waarin lê ons troos, die goeie nuus van die evangelie?

Dit is immers die vraag waarmee die Heidelbergse Kategismus begin: Wat is my enigste troos in lewe en dood?

Watter troos is wyd en diep en ryk genoeg om my in hierdie lewe – in tye van protes, korrupsie, staats­kaping, onreg, ongelykheid – te kan vertroos? Hoe lyk die troos wat my ook in my dood – in my erva­rings van donkerte en doodsheid, trauma en teleur­stelling, verlies en vervreemding – vertroos? Lê dit in gebedsdae wat in groot getalle bygewoon word? Die versugting na ’n Christelike staat? Christelike politieke leiers?

Dit is ’n moeilike vraag – maar dit is nie ’n núwe vraag nie. Dit is die vraag waarmee Martin Luther sy lewe lank sou worstel; die vraag waarby die Reformasie self sou staan of val. Die Kategismus antwoord hier­op dat ons troos in Jesus Christus, ons Verlosser en Saligmaker, lê.

Vir ’n kerk wat vasgewikkel is in debatte oor selfdegeslagverhoudings en kerkhereniging is hierdie vrae des te belangriker, veral wanneer hierdie debatte bepaal wie ingesluit word in die kerk.

Die Lutheraanse teoloog Nadia Bolz-Weber waarsku egter dat die taal van insluiting nie radikaal genoeg is om ons verlossing te beskryf – en daarmee te bepaal wie in die kerk welkom of onwelkom is – nie, want dit veronderstel dat daar ’n reeks eie teologiese voorkeure is wat bepaal wie ingesluit word. As ons eerlik is, skryf sy, het ons almal ’n stel voorkeure wat bepaal wie ons liewer nié in die kerk saam met ons sou wou hê nie.

Juis daarom is ons argumente vir inklusiwiteit en die insluiting van randfigure – hoewel ongetwyfeld goedbedoeld – teologies problematies. Dit skep reeds die moontlikheid vir nuwe uitsluitings, omdat die gronde vir insluiting deur diegene wat reeds deel is van die kerk vasgestel word. Dit veronderstel nog altyd dat ons en ons voorkeure, ons besluite en ons gemaksones, bepaal wie tuiskom in die kerk en wie vervreemd bly.

Die goeie nuus van die evangelie is egter dat hierdie keuse reeds gemaak is. Die troos van die evangelie is dat Gód die inisiatief neem om ons te verlos. Dit beteken dat ons hoegenaamd niks kan byvoeg óf wegneem van ons eie verlossing of die verlossing van ander nie.

Hierdie troos behels dat ons nie vanuit ons morele uitnemendheid of natuurlike talente verlos word nie, maar deur die verlossing wat aan ons ge­skenk word deur Jesus Christus. Dit kom van búite onsself, selfs die beste in ons; dit kom na álmal van ons, ook die slegste onder ons; en dit kán nié gestuit of verdraai word nie – hetsy deur ons fyn kerklike stra­tegieë om mense uit te sluit of netjiese sinodale besluite om almal tevrede te hou.

Genade wag nie totdat ons gereed is daarvoor nie, genade word nie geskenk op ons terme nie, en genade vra nie ons toestemming nie. Dit oorweldig ons almal.

Dit is dus uiters vreemd dat ons énige bykomende kriteria of verwagtings vir mekaar se verlos­sing – en afgeleid daarvan tuiskoms binne die kerk – koester. Die kerk is immers die gemeenskap van gedooptes: diegene wat verlos word slégs uit die genade wat vrylik, ryklik en mildelik aan ons geskenk word deur die drie-enige God. Dit is my troos dat ek gedoop is, lui Lied 290 se bekende li­rieke, geskryf deur Willie Jon­ker; en die bekende trooswoorde van Martin Luther sélf: baptizatus sum.

Dit is hierdie genade wat ons tydens die bedie­ning van die doop gedenk. Die doop kan alleen plaasvind omdat ons bely dat God se genade vir ons genoeg is, nog voordat ons kan kies of vra. Die troos vir gedoop­tes lê in geeneen van die aanprysbare eienskappe van die persoon self nie. Die doop vind plaas vóórdat ons weet of die dopeling heteroseksueel of homoseksueel gaan wees; vóórdat ons weet of die dopeling ’n goeie of ’n slegte mens gaan wees; trouens, vóórdat ons weet of die dopeling hoegenaamd gaan glo in God en deel gaan (wil) wees van die kerk.

Maar dít is die troos van gedooptes: naamlik dat nóg ons moreel-etiese optrede, nóg ons standpunte of stereotiperings, nóg ons seksuele oriëntasie, ons red.

Die doop herinner ons keer op keer daaraan dat ons (ver)grype na troos – selfs die moontlike troos wat ons mag vind in geloofsaangeleenthede, moraliteit of skeppingsordeninge – tekort sal bly skiet, omdat ons énigste troos daarin lê dat ons aan Jesus Christus behoort. Daar is vir die kerk geen beter, groter goeie nuus om te verkondig as hierdie nie – nie nou nie, nie ooit nie.

Dr Nadia Marais doseer sistematiese teologie aan die Universiteit Stellenbosch.

The post Die troos vir gedooptes appeared first on e•Kerkbode.